The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Sunday, July 29, 2012

Die Kakelaars

Ons tuin is vol interessante voëls – daar is ‘n kuifkophoutkapper wat gereeld sy stem dik maak, kwêvoëls wat mekaar koggel, ‘n hoep-hoep wat skaam-skaam vir dieselfde stukkie grasperk as die hadeda meeding. Hierdie is maar net ‘n paar van die geveerde bewoners in ons tuin. Ons sien hulle gereeld en wanneer hulle die dag gelukkig is, los ons selfs vir hulle ‘n paar krummeltjies en vrugte op die voëlstaander in die tuin.

Ons sien meeste van hierdie voëls dalk te gereeld, want na ‘n rukkie sal daar ‘n paar dae verbygaan wat ‘n mens selfs nie eers meer die skerp roep van die kuifkophoutkapper hoor of die hadeda raaksien wat lewensgroot voor mens op die grasperk verbyloop nie.


Tog is daar een voël wie se roep my elke keer na die venster toe laat hardloop. Die perskakelaar. Sy roep is onmiskenbaar en anders as wat sy naam sal wil verklap is dit ‘n pragtige voël met sy rooigeverfde krom snawel en lang vere wat pers in die sonlig weerkaats. Tog is daar so baie mooi en interessante voëls wat nie dieselfde effek op my het as die perskakelaar nie. Die rede daarvoor is eenvoudig: die perskakelaar is nie ‘n gereelde besoeker in ons tuin nie. Jy sien hom nie elke dag nie, inteendeel nie eers elke week nie, jy is gelukkig as jy hom een keer ‘n maand te siene kry. Maar wanneer hy arriveer kondig hy met trots sy besoek aan jou tuin aan. Hy is ‘n sosiale voël. Hy kom nooit alleen kuier nie, maar bring altyd al sy ander kakelaarvriende saam. Dit is ‘n fees om die spulletjie dop te hou. Hulle koggel mekaar, hop saam op die dak rond – dit lyk eenvoudig of hulle die lewe saam geniet.


Glo dit of nie, maar die kakelaars het my nogal heelwat van die lewe geleer. Maak jou besoeke aan ander altyd ‘n spesiale geleentheid – kondig jou kuiers aan met vreugde, geniet die tye saam. Dit gaan nie oor die frekewensie van jou saamwees met ander nie, maar eerder die kwaliteit van julle saamwees. Dit is so maklik om die mense wie jy elke dag sien amper nie meer raak te sien nie – hulle word ‘n vergete hadeda of hoep-hoep in jou bestaanstuin. Veel eerder behoort die vir wie ons lief is soos die perskakelaars te wees – ons saamweestye altyd ‘n fees, tye waarna ons uitsien en koester.