The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Wednesday, September 30, 2009

Soul Searching

" We go soul searching - carry the load, die for a cause." Sarah McLagan

One evening while I was on call I lost my one earring. To me it wasn't just any earring - it was a present from my mother on my 21st birthday. I searched everywhere in the hospital - knowing that to find an earring in a 800 bed hospital is worse that searching for a needle in a haystack, but against all odds I gave it a shot.

The long and short of it is: I did find it. Guess where? Exactly below a patient's bed with whom we've been busy just before I realised that I've lost the earring.

When I look at myself in the mirror each day I know that searching your soul for answers that seem long lost is sometimes like searching for that earring. True answers to questions and struggles in our lives are most of the times not easily found. We have to start a search which seems hopeless to those around us and most of the times even ourselves.

Our souls are like the desert - a vast territory, harsh to the eye, with gems hidden in unsought places. But even though the search may seem hopeless to those around us, we will succeed with perseverance, if we know what we're looking for.

The most interesting thing about searching one's soul is that the answers to our questions are most of the time right beneath our noses. But if we only walked right to the gem, picked it up and claimed the answer there would be no growth, only more questions.
In the quest lies the true answer.

I also lost the key to my jewellery box once. I knew that I have hid it in my cupboard, but I just couldn't find it once I wanted to unlock the jewellery box again. I thought that I have searched everywhere, but still in vain. Eventually I decided to forget about it and let go. Few months later I did find them - safely hidden between my underwear.

So many times we search for obvious answers, we know the solution is there, but we continue to return from the realms of reflection empty handed. Why? The soul sometimes know that some secrets need to be hidden away for a while until the time is ripe for their discovery.

Sometimes we need to let go of things, get perspective first and then return on a quest. We have to be able to know when to let go of difficulties.

There are questions to which we will not find answers here on earth. It takes wisdom to discern which quests are not the be undertaken and which ones will lead to furhter growth. Everything lost is not bound to be found, the same - nothing is gained withouth something lost.
We may search our souls freely but who knows what we will find. So when you search be prepared for some surprises.

Sunday, September 20, 2009

Die Lewe


Die lewe is soms nes 'n swem in die see. Braaf, met jou baaikostuum aan is jy reg vir die induikslag... Maar soos jou voete die eerste brander raak en die skuim teen jou spat besef jy die water is bietjie (ligtelik gestel) koeler as wat jy gedink het. Jy hink op twee gedagtes: vlakker of dieper?

Dit is maklik om uit te klim, jy's immers net halflyf nat. Tog besluit jy om dieper te gaan, nie toe te laat dat die koue jou onderkry nie.

En dan gebeur dit - met die branders wat oor jou spoel, word elke beweging wat jy maak word 'n volwaardige poging om bo te bly. Tot jou eie verbasing begin jy die koue swem geniet.

So is die lewe ook. Solank ons huiwer, wonder of ons regtig aan die lewe wil deelneem en net halflyf bly voortbestaan, bly ons bibber voor uitdagings.

Eers wanneer ons vol in die lewe induik en branders van uitdaging begin ry en geniet, dan vou die lewe soos 'n skulp oop om sy pêrelgeheim te openbaar: dit is net die wat sonder huiwering en vrees elke faset van my omarm wat ware vreugde in hul doen en late kry.

Tuesday, December 16, 2008

Nuwejaarsvoornemens

Elke jaar val mens in die slaggat. Ek wonder of ek dit al ooit reggekry het om een nuwejaarsvoorneme deel van my lewe te maak. Elke voorneme is tog maar eintlik 'n versugting, 'n refleksie van dit wat mens graag wil wees of voel jy nog nie bereik het nie.

Vanoggend in die gure Engelse weer was die herfsblare verys. Wat 'n verfrissende gesig. Ek wou die herinnering vasvang. Al wat ek by my het om foto's mee te neem is my selfoon, glo dit of nie. Ek moes terugloop, in die koue, na my kamer toe om die selfoon te gaan haal vir 'n foto. Ek het gewik en geweeg of ek dit nie eerder later moet doen nie.
'n Halfuur later toe ek daar verby loop was daar van die yskunswerk net 'n blarepappery oor. Die skoonheid van die ys, vasgevang in die oggendson was vlietend.

So is dit ook met ons nuwejaarsvoornemens. Op die eerste Januarie skitter hulle soos juwele, maar smelt weg tot 'n pappery van roetine en alledaagse bestaan. Daar moet tog 'n manier wees om 'n nuwejaarsvorneme in te messel tot 'n gewoonte en later 'n lewenswyse.

Meeste van ons voornemens wentel rondom fisiese verbetering. Ons wil maerder word, meer tyd hê vir ontspan, gesonder leef... Alles gesetel rondom verbetering van ons fisiese welstand.

Die mens is egter 'n drie-dimensionele wese. Liggaam, siel en gees.
Die liggaam sien ons, ons kan daaraan raak en juis daarom is dit maklik om meeste nuwejaarsvoornemens aan die liggaam toe te ken. Sommige voornemens dring deur tot op sielvlak. Ons siel huisves ons emosies en persoonlikheid. 'n Voorneme om geduldiger te wees, om eerlik en opreg te wees sou 'n voorneme van die siel verteenwoordig.

Maar die gees word meestal afgeskeep. Die gees omskryf ons gewete, intuïsie en gemeenskap met God. Uiteindelik beheer die gees die werking van die liggaam en siel.
Daarom glo ek dat die enigste manier om 'n voorneme te laat slaag is om dit in die hande van die kaptein van die skip te plaas. Die gees is die kaptein van jou skip. Elke verandering van rigting wat vanuit die gees spruit sal uiteindelik die bestemming van die liggaam en siel bepaal.

Die manier hoe ek die jaar my voornemens gaan benader is om elkeen in 'n kompartement te plaas. Skryf die voorneme neer. Vra jouself: Kom hierdie voorneme vanuit die liggaam, siel of gees? Sorg dan dat jy voornemens in elke kompartement het.

Begin jou fokus op die voornemens van die gees. Evalueer jouself na 'n paar maande. Jy sal verbaas wees om te sien dat baie van die voornemens in die liggaaam en sielkompartement outomaties vervul is. Indien nie, kan jy dan op hulle konsentreer.

Om enigeiets in die lewe te laat slaag moet jy jouself, jou voornemens, jou vermoëns en beperkinge ken.

Mag jy in 2009 jouself volkome leerken en deur selfkennis elke voorneme laat slaag.

Monday, December 8, 2008

Reuke

Die reuksintuig het sekerlik die vermoë om die helderste herinneringe voor 'n mens se geestesoog op te roep. Die reuk van gebakte brood, koljander en gemaalde koffie kan in 'n splitsekonde my soos 'n bokstert kleuter op my Oupa en Ouma se plaas laat voel.

Geure roep herinneringe van verlange op, laat mens tuis voel in die vreemde, kan 'n sekere tyd van die jaar inlyf. Hier oor Kersfees word die wêreld besaai met geure van kaneel en ander speserye. Ons skep atmosfeer in ons huise, of verdoesel onaangename reuke met kamersproei. 'n Vrou se parfuum (en ja, sommige mans s'n ook), vertel 'n storie van sy eie. Wie sy is, of dalk graag sal wil wees... Dit verklap iets omtrent haar selfvertroue en is iets, behalwe 'n eerste indruk wat vir 'n ruk nog agterbly nadat sy al weg is.

Toe ek hier in Londen aanland kon ek toe oë die stad aan sy geurafdruk herken. Daar was Starbucks-aromas gemeng met nat koue lug, badballe vanuit 'n stasiewinkeltjie, om maar net 'n paar te noem.

Vir my dra elke reuk 'n storie - elkeen het die vermoë om intense emosies te ontlok. Die wat dit besef kan dit beslis tot hulle voordeel gebruik. Om hierdie rede was 'n T-hemp van Mario, bespuit met sy gunsteling deodorant, een van die eerste items wat ek ingepak het om die verlange te probeer stuit. Hierin gaan ek slaap, en so probeer om my brein te kortsluit van verlange. Dit werk, tot op 'n punt...

In Korintiërs beskryf Paulus elke Christen as wierook wat vir God gebrand word. Dit is ongelooflik wanneer mens besef dat ons 'n geur versprei - ons lewe, dade, woorde versprei onder ongelowiges en dieselfde geur lok verskillende reaksies uit. Die reaksie wat ons lewensgeur ontlok is buite ons beheer, maar ons het wel beheer oor die boodskap wat opgesluit lê in die geur wat ons versprei. Is dit 'n geur wat God laat glimlag, 'n geur waarmee Hy tevrede is?

Net wanneer ons in opregtheid, toelaat dat die Heilige Gees elke dag die vlam van liefde in ons aansteek sal ons deur Jesus 'n geur van hoop in hierdie wêreld wees

Tuesday, August 19, 2008

Piesangbrood

Party dae pak die gier mens mos beet om skeppend in en om die huis te raak. Jy gryp na die stofbedekte tuingereedskap en begin plantjies plant, verf die afgedopte mure, pak kaste reg of 'n mens begin bak...

Om een of ander onverklaarbare rede het die paar oorryp piesangs in die vrugtebak my tot 'n bakaksie geïnspireer. Ek het 'n ou beproefde reseppie gaan raadpleeg en aan die werk gespring. Stap-vir-stap het ek afgemeet, geklits, verpulp, gemeng, ingegooi...
Die oond was reg, die broodjie in.
Om seker te maak ek doen alles volgens die boek het ek selfs die oondklokkie gestel (iets wat ek al voorheen vergeet het).

Een van die vreugdes van bak is die afwagting wat die bakperiode vergesel - die reuke wat die huis vul laat jou mond sommer byvoorbaat al water. Jy gaan kort-kort loer om te sien hoe jou poging vorder. Ongelukkig is dit juis hierdie afwagting wat bitter gou in ontnugtering kan verander.

Die bakproses is die enigste doeel waaroor jy geen beheer het nie - maak nie saak hoe slaafs jy die resep nagevolg het, hoe akkuraat jy afgemeet het nie. Tot my diepe ontnugtering moes ek dit toe uitvind tydens 'n loersessie die oond in. Die een kant was besig om te verkool, terwyl die deeg aan die anderkant besig was om soos 'n fontein oor die rand van die pan te borrel.

So is die lewe ook maar. Ons pak ons drome en dagtake aan - lees die lewensreseppie, probeer ons bes om binne meetbare riglyne te bly.
Maar ten spyte van ons suiwerste bedoelings en beste pogings is daar steeds faktore waaroor ons geen beheer het nie.

Ons lewens beland in oonde waarvan die termostate onklaar geraak het. Ons verkool onder hoë rentekoerse, werksdruk, mislukte verhoudings, geweldsmisdaad, onvervulde verwagtinge.

Dit is so maklik om dan bitter te raak en met reg. Maar soms is dit juis daardie bros korsie om die piesangbrood wat hom 'n karaktervolle smakie gee.

En as die bakpoging heeltemal misluk het dan kan jy altyd weer begin. Met genade van Bo is daar altyd weer genoeg bestanddele vir nog 'n poging.
Onthou net om die oond eers te laat regmaak.

Monday, August 11, 2008

Uitklophou

"Progress has little to do with speed, but so much to do with direction." Unknown

Ons almal het min of meer 'n idee waar ons onsself oor 5 jaar van nou af graag wil bevind. Ons skets prentjies van 'n voorspoediger toekoms. Ons werk harder, in die geloof dat ons, met ekstra werk en deursettingsvermoë, 'n 5 jaar plan binne 1 jaar kan voltooi. Na vyf jaar is ons verbaas om te besef dat ons steeds nie ons doelwit bereik het nie. Veel eerder het die doelwit, gedryf deur ons onversadigde behoeftes, nou net nog hoër geskuif.

Ongelukkig bly tevredenheid mens ontwyk solank as wat mens die lewe as 'n renbaan sien. Die lewe is nie daar om voltooi te word nie, nie daar om oorwin te word nie. As jy so daarna kyk bly jy voel die lewe maak jou klaar, jy is uitoorlê...
Ek dink ons kyk so dikwels net verkeerd na die lewe, want uiteindelik bepaal jou lewensuitkyk jou benadering tot elke lewensdroom en -uitdaging.

Die lewe is hard, maar as jy dit weet is jy voorbereid op dit wat op jou wag. Jy kan die lewe nie 'n les leer nie en hy skuld jou niks. Hy praat net met diè wat tyd maak om te luister en heel dikwels verstaan mens nie altyd wat hy probeer sê nie.

Party dae boksgeveg die lewe jou. Een na die ander peper die houe op jou neer. Net wanneer jy jou ewewig herwin, reg om terug te veg verander jou opponent sy taktiek. Jy probeer harder slaan, agressief terugveg, maar dis hopeloos.
Ons almal het al so gevoel. Daar is so baie verskillende opponente wat houe in die lewe uitdeel - miskien is dit ander se opmerkings, dalk werksdruk, finansiële druk, drome wat nie kon realiseer nie. Maak nie saak hoe hard die hou is, of waar hy jou tref nie, elke hou maak seer.

Ons eerste reaksie wanneer die lewe ons rondstoot, is om harder te slaan. Slaan met meer fors en meer mening. Maar die uitklophou is nie die een wat die hardste geslaan word nie. 'n Uitklophou is daardie hou wat berekend toegedien is, op die regte plek en die regte tyd.

So raak rustig. Dink oor jou lewe, beplan jou toekoms. Gee alles vir God. Wag. Die Here sal jou wys hoe jy jou aanvalstegniek moet verander om uitdagings in oorwinnings te omskep. Spaar jou energie, partymaal hoef jy net jou aanvalshoek te verander.

Tuesday, June 3, 2008

Engele

Jy het gevra ek moet 'n stuk oor engele skryf. Vir lank het ek probeer dink: waar sal ek begin, watter eienskappe van 'n engel sal ek besing, watter persepsies rondom engele sal ek ondersteun? Daar is al soveel oor engele geskryf - is daar enigsens nog iets nuuts om te sê?

'n Engel word gedefinieer as 'n verhewe wese, wat as 'n boodskapper vir God optree. 'n Ander definisie weer beskryf 'n engel as 'n gids namens God.
In my geestesoog sien ek Gabriël met die verstommende boodskap aan Maria - sy sal die moeder van Jesus, die Verlosser word. 'n Engel bring altyd 'n boodskap wat omwentelinge, deurbrake, insigte bring. Nooit is dit 'n flou geykte boodskap wat almal noodwendig wil hoor nie.

'n Volgende engelbeeld spring in my gedagtes op. God het engele gestuur nadat Adam en Eva uit die tuin van Eden verban is om die tuin te bewaak, sodat niemand kon terugkeer nie. 'n Engel staan vir waarheid en geregtigheid, vasberade om die taak wat God vir hom opgelê het enduit te volvoer. 'n Engel beskerm dit wat vir God en Sy koninkryk kosbaar is met sy eie lewe.

Skielik besef ek: 'n engel is nie swak, met babavetjies om die wange en vlindervlerkies wat 'n mens se hart week maak nie. Engele hoort nie in skilderye, op kalenders en groetekaartjies nie.

'n Ware engel is elke dag op die oorlogsveld - besig om te veg, te stry, te bid, te salf aan dit waarvoor God hom/haar op aarde geplaas het. Ongeag die gevolge, ongeag die teenstand.

Ons is nie volmaak nie, maar 'n anonieme persoon het gesê: Ons is almal engele met net een vlerk en ons ons kan vlieg wanneer ons mekaar omhels.
Al is ek swak, is ek sterk.

Vandag toe jy voor my kom sit, het ek geweet: nou kan ek oor engele skryf. Want in jou oë het ek 'n engel gesien. Jou woorde was 'n boodskap uit God se hand, jou geduldige oor het my van moedeloosheid bewaar. Jou lag 'n gids na inspirasie en kreatiwiteit.
Die lewe se stampe en stote het ook al aan jou vlerke kom knip, maar jy bly vlieg om waar jy kom elke dag engel te wees.