Clint Eastwood is een van my rolmodelle. 'n Man wat in die tagtigs is en nogsteeds sy lewe vul met die dinge waaroor hy passievol is. Nie net is hy 'n uitstekende akteur nie en regiseur nie, maar selfs die musiek vir sy flieks komponeer hyself (hy sing ook van die liedjies self, maar ek beskou sy akteursvernuf beslis as 'n groter aanwins vir die vermaaklikheidsbedryf).
Jy kan maar weet: enige fliek van hom gaan vir 'n hele tyd lank in jou gedagtes bly draai. Nou onlangs het daar 'n luilekker DVD aand vir my gewag. Ek het Changeling met Angelina Jolie in die hoofrol uitgeneem. Ek wonder altyd hoe hulle haar klere ontwerp kry om al die tattoos weggesteek te kry, maar nietemin bly sy 'n goeie aktrise.
Die fliek is gegrond op 'n ware verhaal oor Mev. Collins en die gebeure rondom haar seun se verdwyning. Sy is 'n enkelouer, en een dag met haar terugkeer van die werk af is haar seun weg. Die tema van die hele fliek is die effek wat mense, wat nie na ander luister nie, op 'n persoon se lewe kan het. Dit begin reeds vroeg in die fliek wanneer sy haar seun as vermis wil aanmeld en niemand na haar wil luister nie. Sy moet 24 uur wag, al weet sy haar kind is bang om selfs die huis alleen te verlaat, maar dit is hoe die sisteem werk en haar hande is afgekap.
Sake raak net nog meer belaglik wanneer hulle "haar seun" terugvind. Ten spyte daarvan dat sy aanmekaar bevestig dat dit nie haar seun is nie, luister niemand nie. Sy gooi selfs bewyse voor hulle, soos dat die teruggevinde seun korter is, nie sy onderwyser ken nie, maar alles tevergeefs. Die polisie verkies om nie te luister nie, want sou hulle erken sy is reg, het hulle gefaal.
Die oomblik toe sy die media te betrek, het die risiko bestaan dat ander na haar sou begin luister. Hulle oplossing was om haar te laat sertifiseer en na 'n psigiatriese hospitaal te verban.
Maar hoekom luister mense nie? Daar is so baie redes.
Jy sal altyd vind dat mense weier om te luister na iemand wat die waarheid praat wanneer hulle in 'n leuen leef . Want soos in Changeling, is daar altyd 'n prys daaraan verbonde om te erken dat jy gelieg het en na die waarheid te draai.
Dikwels luister ons nie, omdat onsself so baie praat. Luister is 'n daad. Dit verg energie. Anders as wat mens dink is dit nie 'n passiewe toestand nie. Om te luister beteken dat mens moet rustig raak, die stem binne jou moet stilmaak en moeite moet doen om nie net die woorde van die persoon wat praat in te neem nie, maar werklik te probeer verstaan wat die ander persoon met elke woord bedoel.
Ons sal net begin luister wanneer ons ander mense respekteer, wanneer ons ander voor onsself kan plaas. Solank as wat ons glo dat die persoon wat praat nie belangrik is nie sal ek nie moeite doen om daardie persoon te verstaan nie, want wanneer ek iemand probeer verstaan is daar dikwels aksies wat daaruit vloei. As ek verstaan wat iemand ongelukkig maak, dan moet ek ook bereid wees om dit wat ek kan te doen om daardie persoon by te staan.
Nog 'n rede hoekom mense hoor, maar eerder nie luister nie is uit vrees. Vrees vir 'n waarheid waarmee hulle gekonfronteer sal word en 'n lewensverandering sal verg. Ons is so dikwels in 'n gemaksone met onsself, maar ook met die plek waar ons onsself bevind. So dikwels is dit die mense naby aan ons wat die moed bymekaar sal skraap om daardie gemaksones vir ons uit te wys. En so dikwels is dit juis daardie mense wat ons in die gesig vat deur ons ore voor te sluit.
Om opregte luisteraars te wees beteken dat ons biddend en luisterend by die Vader moet begin leer wat dit beteken om waarlik te luister.
Die Heilige Gees sal ons ore sensitief maak vir die ware betekenis van die woorde van elke persoon wat ons mee in kontak kom.
Vra Hom daarvoor, Hy sal luister.
No comments:
Post a Comment