Ek het al soveel keer gewens ek kan God se genade volkome begryp. Ek weet dat alles wat ek het, dit wie ek is alles net genade is. Ek kan niks verdien nie, op niks aanspraak maak nie. Maar ten spyte van hierdie besef vang ek myself keer op keer besig om myself met ander te vergelyk. Ek kyk meestal in my binneste na die wat meer as ek bereik het, meer vakansie kan hou, geld in die water kan gooi en nogsteeds sonder begrotings leef, minder bekommernisse as ek het (en ja ons honde het al onder hulle getel).
Maar na elke vergelykingsessie voel ek leeg van binne, voel ek hoe die onvergenoegdhede nog 'n paar plooie om my mondhoeke uitkerf. Met elke vergelyking gooi ek God se genade terug in sys gesig.
Een aand ry ek en Mario na 'n restaurant. By een van die robotte vang my oog 'n boemelaarvrou wat vooroor sit, haar bokshuisie haar enigste beskerming teen die snerpende wind. Ek het haar al voorheen by die robot gesien sit maar daardie aand, terwyl ek uitgevat in 'n nuwe rok, met Pleasures parfuum agter my ore en my hand op my man se been, by haar verby ry het die kontras my reg op die voorkop getref.
Dit kon ek gewees het. Ek kon in 'n bokshuisie gebly het. Ek kon elke dag gewonder het waar die kos vandag vandaan gaan kom. Dit kon ek gewees het wat elke dag aan die aalmoese van ander langs 'n besige pad oorgelaat word.
Hoekom het ek soveel meer? Hoekom word ek omring deur liefde, vriende, warmte, geleenthede? Hoekom het ek 'n huis, 'n kar, kos, vakansies - te veel om op te doen. Ek weet nie maar dit is juis hoe genade werk. Dit is genade omdat dit onbegryplik is.
God se genade kan nie verstaan word nie. Ek sal nooit kan verstaan hoekom Hy besluit het om Jesus te stuur om my, 'n sondaar wat nooit ooit eers iets kan doen om hom tevrede te stel, te red nie.
Maar een ding weet ek: ek kan dankbaar wees. Dankbaar wees in my denke, my woorde, in my doen aan ander mense. Ons moet dankbaar wees - want hoe sal ons ooit kan verstaan?
No comments:
Post a Comment