‘n Suurlemoen is ‘n uitnemende vrug. Hy besit oor vele benoemenswaardige kwaliteite. Sy helder voorkoms is genoeg om enige wintersdag op te helder. ‘n Bak vol suurlemoene het altyd ‘n positiewe dekoratiewe uitwerking en die vermoë om selfs die verveligste vertrek op te kikker.
Sy sap is reinigend, verfrissend. Vele slaaisouse, kooksouse, somerdrankies, om maar net ‘n paar te noem, het hulle komplimente te danke aan die suurlemoen.
Soos die leser reeds kon agterkom, het ‘n beslis ‘n bewondering vir die suurlemoen. Daarom sal dit dan ook nie ‘n verrassing wees wanneer ek meedeel dat ek van kleins af al besluit het dat ek graag eendag in my tuin die trotse tuinier van ‘n suurlemoenboom wou wees nie.
Ja, almal het my vertel: ‘n suurlemoenboom is ‘n moeilike kalant. Hy het baie aandag, water en al daardie groen vinger woorde nodig, waarvan ek maar min weet. Nietemin, ek was vasbeslote. So in ons eerste woonplek met ‘n tuin was die suurlemoenboom een van die eerste bome wat geplant is.
Maar helaas, soos dit maar met eerste woonplekke is, bly mens gewoonlik nie langtermyn daar nie. En soos dit ook met suurlemoenbome gestalt is, begin hulle nie oornag vrugte dra nie. Suurlemoenboom het agtergebly en ek moes afskeid neem, sonder dat ek ooit die vreugde van die eerste suurlemoen van die boom gepluk, kon smaak. By die tweede woonplek het dieselfde ritueel hom weer herhaal. So het dit voortgegaan. Ek kon later sonder om dit te help al in my geestesoog die ritueel beleef: ry na kwekery, soek ‘n sterk boompie uit, plant hom, troetel hom, trek weg voor hy vrugte dra…
Uiteindelik het ek radeloos besluit – by ons volgende tuiste, sal ek nie myself weer hieraan blootstel nie. Nou moet ek vir eens en vir altyd ophou suurlemoenbome aan die gemeenskap skenk.
Die dag toe ons gaan kyk na die huis waar ons nou bly was daar vele positiewe eienskappe wat my oortuig het dat ons van die huis ‘n tuiste sou kon maak: ‘n groot tuin, kaggel, swembad, buite kuierarea, ruimte – en dit was genoeg om my te laat voel, dat ek hier wil bly.
Maar daar was ‘n kersie op die koek. Amper soos ‘n teken van Bo, dat hierdie huis vir ons bestem is. Agter in die tuin, heel verlate en op sy eie het daar ‘n suurlemoenboom gestaan.
Ek kon amper nie my oë glo nie. Hy was vol vrugte, van hierdie lekker growwe skil suurlemoene wat mens altyd oor droom, maar nooit in die winkel kan koop nie.
Dit is wonderlik – ek hoef wraggies nie die keer weer ‘n suurlemoenboom te plant nie!
En glo my ons pluk sy vrugte. Ons is nie skaam om enige resep met suurlemoensap in te probeer nie, ons deel uit, stal hulle in die huis uit. Dit is een groot vreugde!
Daar is soveel dae waarin ek al in my hart dankie gesê het vir die onbekende weldoener wat hierdie suurlemoenboom geplant het. Dalk het hy, net soos ek nooit die vrugte van sy eie plantartbeid geniet nie. Dit het my laat besef: hou aan met suurlemoenbome plant, selfs al beleef jy nie self nie vrug daarvan nie. Eendag, onverwags sal jy self die gevolge van jou weldade beleef.
Plant ‘n boom, elke dag, sodat jou skaduwee lafenis kan verskaf, selfs wanneer jy self eendag nie meer daar is nie.
No comments:
Post a Comment