Daar is so baie woorde en terme wat nou vir die eerste keer, vandat ek ‘n baba van my eie in my arms vasgehou het, tot volle betekenis kom.
Een van die woorde is afhanklikheid. God wil hê dat ons ten volle afhanklik van Hom moet wees. Dit is ‘n begrip waarmee ons groot word. Ons weet dat God net die beste vir Sy kinders wil hê, dat Hy, wanneer ons met ‘n opregte hart na Hom toe gaan sal gee dit wat in ons beste belang is. Ek het ook al hierdie dinge geweet, maar steeds het ek nie werklik verstaan wat die afhanklikheid is wat God van ons verwag nie. Ek het ‘n werk, verdien my eie geld – in soveel opsigte beskou ‘n mens jouself as onafhanklik.
Maar sowat twee weke gelede het dit alles verander. Vir die eerste keer het ek die voorreg gehad om ‘n lewende wesentjie in my arms te hou, wat totaal en al van my afhanklik is vir sy oorlewing. Hy kan nie eers sy behoeftes verwoord nie, ek moet dit kan verstaan. Ek is die bron van sy kos, sy klere, sy ontwikkeling, sy gemak. Dit is om die minste te sê: oorweldigend, maar tog ‘n wonderlike voorreg.
Dag na dag kan ek ‘n rol speel in die ontwikkeling en groei van hierdie klein wesentjie. God het hom uniek geskape en dag vir dag het ek die voorreg om daardie uniekheid voor my oë te sien ontvou.
So wil God ook hê ons verhouding met Hom moet wees: ‘n verhouding waarin Hy die volkome versorger is. Ek hoef glad nie op my eie vermoëns en insigte staat te maak nie. Ek hoef myself nie te bekommer nie. Soos ‘n mamma wat die huilgeluidjies van haar kind ken, net so sal Hy die behoeftes van ons hart ken, sonder dat ons dit self eers kan verwoord.
Ons moet net vertrou. Soos ‘n klein babatjie wie se lewe in die hande van sy ouers is vir oorlewing, so moet ons elke dag ons lewens in die hande van God plaas. So sal ons nie net oorleef nie, maar ook waarlik leef!
No comments:
Post a Comment