Daar is belewenisse, gevoelens waarvoor mens nie woorde het nie. Miskien is daar nooit woordeskat onwikkel om hierdie oomblikke te beskryf nie, of dalk sal die mens ten spyte van sy mees intesiewe poging steeds sprakeloos gelaat word deur sekere gebeure.
Tydens ‘n oorsese reis kom ek dikwels die gevoel teë. Uit gebrek aan meer beskrywende woorde het ek dit my universele gevoel gedoop. Die universele gevoel is ‘n oorweldigend: dit is die besef dat ‘n mens deel is van ‘n ingewikkelde, verweefde kosmos. Die wete dat selfs ‘n onbelangrike gebeurtenis in die uithoek van een wêrelddeel’n rippeleffek kan opwek wat enige iemand aan die ander uithoek van die aarde kan beïnvloed. Die gevoel is gegrondves in die teorie dat jy enige twee mense op aarde in 8 stappe of minder met mekaar kan verbind.
Tydens my reis na Wenen het ek die universele gevoel my telkens beetgepak. Dit was waar ek asemloos voor Gustav Klimt se werke gestaan het, wetend dat dit wat hy in sy kuns uitbeeld binne my resoneer. Dit was in die Schonbrunn paleis toe die geskiedenis van Mozart, wat ek in Standerd 1 van geleer het, lewendig geword het. Hier het ek gestaan in die spieëlkamer van die paleis waar Mozart op 6 jarige ouderdom vir Keiserin Maria Teresa op die viool gespeel het.
Dit was in die oomblikke van Keiserin Sisi se lewe wat my herinner het aan die fliek van Romy Scheinder (wat die rol van Sisi vertolk het). Ek het die fliek as 5 jarige dogterjie gekyk. Na die fliek het was ek vir maande die beeldskone Sisi, wat die swaar adelike lewe op haar skouers voel druk het.
Soveel van die Weense geskiedenis het al in my lewe gefigureer. Kuns word so dikwels die wyse waarop die geskiedenis van ‘n veraf wêreld deel van my alledaagse lewe word. Dit is waarom ek elke oomblik van my kunsbelewenisse wil omarm, want daardeur het ek die geleentheid om myself in te prop by ‘n universele bron van energie.
No comments:
Post a Comment