Inleiding
Inleidings word gewoonlik retrospektiewelik geskryf. Na ’n belewenis kan die skrywer sy gedagtes bymekaar orden en die leser voorberei op dit wat hy klaar reeds neergeskryf het.
So ja, ek skryf hierdie inleiding tot ons reis deur die Namib vanaf my draagbare rekenaar terwyl ek die “gesonde” Johannesburg lug inasem.
Die reisigers was ek, my man Mario en Willem, ons bloubul Diahatsu wat al die harde rywerk moes doen terwyl ons, vakansie gehou het. Ek glo darem ou Willem het ook sy uittog uit die stadsverkeer geniet.
Die reis is fyn beplan. Mario het nagevors, bespreek. Ons het onthoulysies, paklysies, noodlysies – enige lysie waaraan jy kan dink neergeskryf. Dit was ’n voorreg om vir ’n slag die Weg te raadpleeg, om dit soos ’n handleiding te kon gebruik, want jy weet jy gaan binnekort die plekke sien waaroor hulle skryf. Gewoonlik lees mens net die artikels met ’n hunkering in die binneste en ja ’n effense jaloesie jeens die skrywer.
Ek kyk terug op ’n reis van twee weke, maar bygesê oor die 6400km. Die wyses van hulle dae sê: die vêrste reis wat jy ooit sal aanpak is reis deur jou siel.
Sjoe, na ek deur Namibië gery het weet ek darem nie...
Wat kan ek oor Namibië skryf? Iets wat sal maak dat jy elke dag met verwagting sal uitsien na die volgende dag se gebeure wat op die blog gaan verskyn.
Moet ek skryf dat dit ’n unieke land is (alle lande is tog sekerlik), dat jy kilometers kan ry sonder om enige mens teë te kom – daar is net 2.1 miljoen mense in die land?
Was dit die diversiteit van die landskap wat my verras het – dit is beslis nie net een groot woestyn nie?
Was ek verras toe ek Windhoek binnekom en voel asof dit die familielid is waarvan jy al effens vergeet het en dan op ’n dag weer ontdek – want wraggies dit voel asof jy in ’n groterige dorp in Suid-Afrika is waarvan jy net so effens vergeet het?
Ja, alles van die bogenoemde, maar as ek dit in een sin kan opsom.
Namibië is eerlik. Dit is ’n land sonder fieterjasies. Wat jy sien is wat jy kry. Dit is nie groot geboue, souvenierwinkels en aangeplakte vriendelikheid wat jou laat terugkom nie. Dit is die landskap wat met jou praat, die opregte mense wat nie bang is om hulleself en hulle land met jou te deel nie.
Jy gaan Namibië toe om weer te ontdek wat jy lankal reeds vergeet het. Dat vreugde in die dinge lê wat geld nie kan koop nie. Die gevoel binne jou wanneer jy die son sien opkom terwyl jy bo-op ’n duin sit. Wanneer jy langs die pad stop en piekniek hou. Om vroegaand om ’n vuurtjie te sit en te voel hou jou maag sirkels draai wanneer ’n leeu ’n ent weg brul.
En elke kilometer se ry is die moeite werd.
So sit terug en herleef saam met my ons reis deur die Namib.
NS:
Enige ware reis bestaan vir my uit sekere elemente: ek wil fotos neem, vars lug inasem, nuwe plekke sien, rondsnuffel in winkels waar ek goed kan koop wat die mense van die area maak (ek is ’n ware souveniersnob) en die grootste bonus is as ek ’n boek raakloop oor belewenisse van die area.
Die boek wat ek so tussen die ry deur gelees het is Sheltering Desert, deur Henno Martin. Ek het die boek op Solitaire raakgeloop – ’n ware verhaal oor twee Duitsers wat in die 2de wêreld oorlog die Namib woestyn in gevlug het en vir meer as twee jaar daar oorleef het. So tussendeur sit ek grepies uit die boek in, net om die aandag vars te hou.
Volgende: Dag 1 Upington - Kgalagadi
No comments:
Post a Comment