Invalshoek
‘n Reis begin reeds met ‘n gedagte, ’n droombeeld van hoe die reis hom gaan afspeel. Die proses van reis is voortdurend, diegene wie hulleself reisigers noem reis dus sonder ophou. Elke reis, ongeag hoe vlietend of onbelangrik dit mag voorkom het die potensiaal om die reisiger te transformeer, tot nuwe insigte en perspektiewe te lei.
As dit nie vir die werksverpligtinge in die Kaap was nie het baie dinge nie gebeur soos dit het nie. Ek was besig in die Kaap tot die Saterdag, ’n dag later as wat Mario reeds in die pad wou val. Uiteindelik het ek, Sondag die 17de April die daaglikse vlug van Kaapstad na Upington geneem. Daardeur kon Mario al die Saterdag uit Johannesburg begin ry.
Ten spyte daarvan dat ek gereeld vlieg, is die vlug tussen Kaapstad en Upington nie ’n vlug wat ek heel waarskynlik gou weer op sal klim nie. So die vliegbelewenis was opsigself ’n belewenis. Ek staan altyd verstom hoe die eindbestemming van ’n vlug in ’n oogwink die vermoë het om die tipe mense waardeur jy omring word te dikteer. Skielik was ek omring deur boeremense wat vir een of ander rede weer hulle weg moes terugvind Upington toe. Die oom agter my is besorg oor die pomp op sy plaas wat moet reg en die ander boer oorkant die gangetjie het dadelik tydens die landing opgemerk die die windkous vanuit ’n suid-oostelike rigting wapper en daarmee saam sekere weersafleidings gemaak, wat my ontgaan het.
Die ander aspek wat die vlug vir my ’n unieke belewenis gemaak het, was die perspektief. Ek was al voorheen in Upington. Ons het die dorp van Kuruman se kant af binnegery. Ek weet die Oranjerivier is die lewensaar van die dorp. Maar hier vanuit die lug het die konsep in ’n oogwink vir my volle betekenis gekry. Die Oranje kronkel soos ’n dik luislang oor die aarde en hy omring homself met lewe. Lappe groen en beskawing het langs hom kom lepel-lê. Skaars ’n kilometer van die rivier af lê die aarde bar en blootgelê. Dit het my laat besef hoe waar Psalm 1 is. Wanneer ons kies om onsself naby die Lewende Water te plant, om ons bron van krag by Hom te kry, dan word ons soos ’n boom langs die Oranjerivier. ’n Boom wat in ’n woestynwêreld kan oorleef en kan vrugte dra.
Die grond van hierdie wêreld is hard en droog, die wie hulleself daarin plant sal gou verdroog.
_________________________________________
Mario was op die lughawe. In aggeneem dat hy douvoordag nog op Katu golf gespeel het was dit nogal ’n prestasie. Upington lughawe het nogal ’n interessante geskiedenis. Die lughawe het die langste aanloopbaan is Suid Afrika en een van die langstes in die wêreld. Die rede: die aanloopbaan was ontwerp vir die landing van ruimteskepe in die Suidelike halfrond asook Boeing 747s – want tydens die Bosoorlog in Angola was die Suid Afrikaanse regering bang dat hulle ook die Kaap Verdiese Eilande as landingstrook sou verloor. Vliegtuie sou daarmee nie ’n stoppunt gehad het vir brandstofhervul nie. Hulle sou dus Upington kon gebruik indien die nood druk. Ten spyte van al die interessante feite wil ek net byvoeg: dit is die enigste lughawe in Suid Afrika waarvan ek weet waar jy onder ’n lapa kan sit en koffie drink.
____________________________________________
In Upington eet ons by Cafe Mollinari – dit klink Intaliaans, maar is alles behalwe. Die hele spyskaart is in Afrikaans met ’n Engelse woord hier-en-daar, net om woorde soos borrelkougommelkskommel meer verklaarbaar te maak. Nietemin, soos ’n plattelandse dorp betaam is die porsies groot en die pizzadeeg een of ander brooddeeg-variase (al te lekker!).
Upington-inwoners is selfs bevoorreg om ’n fliekfasiliteit tot hulle beskikking te hê. Ster Kalahari het homself duidelik geskoei op die fondasie van Ster Kinekor. Hulle skryf self ressensies vir hulle flieks, maar bygesê: as mens eers die fliek gekyk het besef mens dat die persoon wat die ressensie geskryf het of nie die fliek verstaan het nie, of nie die fliek nooit self gekyk het nie.
______________________________________
Ons eindbestemming vir die aand is die Kalahari gastehuis. Oppad soontoe was ons behoorlik uitgeboul deur Spitskop. ’n Natuurreservaat in die middel van niks en nêrens. Enige ontdekking was onverwags op mens afkom is altyd meer spesiaal as die oomblikke wat mens sorgvuldig vooraf beplan. Dit is wat Spitskop so spesiaal gemaak het. Ons het nie daarvan geweet nie, maar toe die bordjie voor ons opduik het ons die afdraai gevat.
Wat op ons gewag het was ’n hopie klip en ’n swembad. Ons het die hopie klip geklim met ’n fotoboek Kalahari-uitsig as beloning. Om nie eers te praat van die welkome afkoel in die swembad nie.
Dit is die afdraaipadjies wat die lewe die moeite werd maak.
___________________________________________
Een van hierdie beginsels is om jouself te ken en in daardie kennis eerlik met jouself te wees. Jy moet weet wat jou sterk punte en jou swak punte is. Jou sterkhede is iets wat jy kan aanbied wat ander in hulle oorlewing sal steun, dit terwyl jy weer hulp van ander aanvaar om jou swakhede te kan uitfasseer. In die proses verseker jy in hierdie barre aarde kan bly oorleef.
’n Goeie voorbeeld hiervan is die dwergvalk wat dikwels saam met die versamelvoëls bly. Die versamelvoëls is uitgelewer aan slange wat maar al te graag in ’n versamelvoëlnes wil invaar. Die dwergvalk gaan bly tussen die versamelvoëls, hy het ’n tuiste en hulle bind baat by sy beskerming. Jy moet jouself ken om te kan oorleef, want eers wanneer jy jouself ken kan jy eerlik wees. Eerlik genoeg om te weet wat jy op jou eie kan vermag, en wanneer jy vir hulp moet vra.
No comments:
Post a Comment