The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Thursday, November 3, 2011

Swangerskap

Ek is pynlik bewus dat ek tot op hede nog geen woord op die blog gerep het oor die swangerskapservaring nie.


Vele redes: ek wil nie graag die blog oor my en my doen en late maak nie. Hierdie bly ‘n platform van inspirasie en lewenskommentaar. Meeste vroue wat al swanger was weet dat swangerskap nie heeltyd ‘n inspirerende ervaring is nie. Altans so tussendeur die mislikheid en gedurende die paar ure in my eerste trimester wat ek nie moeg was nie, het dit beslis nie gevoel asof ek gemaak was vir die swangerskapsaksie nie.


Maar, dit sal ook verbygaan. En nou dat ek al soos die wyses van ouds gesê het: “Vêr heen is….” En beslis nie meer die swangerskapservaring kan wegsteek nie (eenvoudig omdat die boepie huidiglik my mees opsigtelike bate is), het ek die moed bymekaargeskraap om my ervaring te deel.


Dit bly ‘n voorreg. Die eerste gedagte toe ek die urine doopstokkie met die twee strepies sien was om dit te herhaal. Sjoe, dit kan nie waar wees nie. ‘n Mens kan nie die gevoel vir iemand beskryf tot jy dit beleef het nie. Jy weet dat daar paartjies is wat jare bid, baie geld uithaal vir infertiliteitsbehandeling en soms steeds na jare met ‘n groot leemte in hulle lewe moet saamleef. Hier is ons, swanger selfs gouer as wat ons gedink het dit sou gebeur.


Dit is oorweldigend. Ek was nog nooit ‘n ma nie. Daar is hopeloos te veel swangerskapsboeke geskryf wat raad gee van om ‘n poefdoek om te ruil tot ‘n band te smee terwyl kleinding nog in die baarmoeder is. ‘n Vriendin se geleende boek: “How not to be a perfect mother.” het tot my redding gekom. Ek is nie perfek nie, ek hoef ook nie te wees nie en niemand anders gaan hierdie lewetjie se ma kan wees nie. Niemand anders ken hierdie dingetjie so goed soos ek nie. So vir eers sal ons maar ontspan – tot daardie eerste poefdoek….


Vir die eerste keer in my lewe offer ek my liggaam vrywilliglik op vir die voortbestaan van ‘n ander wese. Sjoe, ‘n mens moet nie te veel hieroor dink nie. Maar wanneer die klere nie meer pas nie (veral nie die bras nie), rekmerke, spatare en sooibrand ‘n werklikheid word (gelukkig het ek nog nie die eerste twee nie, ons smeer maar die Happy Event en hou by baie vesel….) besef jy terdee dat swangerskap teen ‘n prys kom. Ek is bevoorreg – ek het ‘n man was glo ek is die sexyste swanger vrou wat al ooit die aardbol bewoon het (dankie My Liefie, jy is my redding) – veral op dae wat die skaal al swaarder trek en jy wonder of jy ooit weer in daardie nou swart nommertjie in die kas sal pas (jammer dat mens dit nou gekoop het net voor jy uitgevind het jy is swanger).


Dit is ‘n sosiale ervaring. Dit is ongelooflik hoe vrymoedig mense is wanneer jy swanger is. Vreemde tannies op straat knoop gesprekke aan. Mense by die werk , wie se name ek skaars ken, stel eweskielik in my doen en late belang. Almal deel raad uit – weliswaar is sommige raad meer vermaaklik as bruikbaar, maar dit is wonderlik om oornag deel van ‘n die vroulike ervaring van moederskap te word.


Vir die eerste keer maak jy iemand anders se presente oop, sonder om vir ‘n oomblik skuldig daaroor te voel. En al gaan jy dit glad nie self gebruik nie, weet jy ten minste dat jy dit baie bruikbaar sal vind.


Daar is nog so baie wat wag. Van hier af is dit beplanning. Een ding is seker – nooit weer sal my of Mario se lewens ooit weer dieselfde wees nie.


So in ‘n neutedop: ‘n lewensveranderende, liggaamsveranderende ervaring!

No comments: