The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Sunday, July 3, 2011

Namib: Dag 12 Etosha - Okakujo-Namutoni

Etosha is groen


Die jakkals was heel nag om die tent. Toen ons teen sonop ons neuse by die tent uitsteek kon ons die spoor van sy skade gestrooi om die tent sien lê.


Ons is dadelik na die watergat toe teen die draad, in die hoop om diere te sien, maar die veld het genog water, met die gevolg dat die diere nie die watergate nodig het nie.


So tussen die tent afslaan deur het ’n witborskraai bo ons kom pierewaai. Hy het sy vere gepof, en gekekkel vir die hele kamp om te hoor.






Etosha Nasional Park is in 1907 geproklameer. Dit was op ’n stadium die grootste park in die wêreld net oor die 90 000 km2. Die grense is egter konstant geherdefinieer tot die 22 935 km2 van vandag. Etosha beteken, waar die pan is. Sy deure het die eerste keer in 1955 vir die publiek oopgemaak.


Ons val rondom agtuur in die pad. Lyk my ons word al hoe luier en makker. Verskeie paaie is toegemaak weens die oorstromings. Die diere raak skoon weg in die gras. Ons is gelukkig om leeus en ’n wit renoster te sien. Die wil is volop met genoeg springbokke, gemsbokke en gompoue om ons te vermaak.




Die Etosha pan is omtrent 170 X 50 km. Op al die fotos wat ek al gesien het is dit ’n droë stuk aarde. Maar nou lyk dit nie so nie. Die reën het hierdie stuk aarde omskep in ’n groen landskap en water oral waar jy kyk. Ons het tot waterskilpaaie gekry wat in ’n waterpoel in die middel van die pad baljaar het. Dit is ongelooflik om te sien hoe groot verandering reën kan bring. In ’n oogwink verander ’n landskap onherkenbaar. Net so is dit ’n wonderwerk wat in mens se gees afspeel wanner die Here in jou lewe inkom. Hy kom soos reën op ’n droë woestyn landskap en ontkiem die sade van hoop, geloof en liefde wat onontkiem in die barre grond van jou hart lê.


Deur Sy Gees word jou lewe ’n oase waar ander hulleself kan verkwik. Jou lewe sal getuig, sonder dat jyself eers ’n woord hoef te spreek.


__________________________________________

Ons eet middagete by Halali-kamp. Een ding wat ek op elke spyskaart in Namibië raakloop is ’n hoender mayonaise broodjie. Maak nie saak waar jy jouself in hierdie land begewe nie, dit sal jy kan bestel. So, dit was weereens geroosterde hoender mayo vir ete.


Ons is so teen 3 uur in Namutoni. Namutoni is ’n fort wat in 1903 geopen is as buitepos in die poging om rinderpes te bestry.


In 1904, het 500 Owambo soldate onder leiding van Koning Nehale die fort aangeval en afgebrand. In 1905 is die fort herbou en het Adolf Fischer dit beman. Hy word ook die eerste veldwagter by Namutoni. Die enigste geveg wat ons by Namutoni moes aanpak was om betyds die tent op te slaan, want daar was weereens ’n reënbui wat wou dreig om uit te breek.




Gelukkig waai die reën oor en ons beloon onsself vir ons harde kampopslaanpoging met ’n roomys, terwyl ons bo-op die fort se mure sit. Ons verken terselfdetyd sommer die kamp, want bakens soos die verligde watergat is belangrik om van kennis te neem.


In die namiddag ry on ’n draai om die kamp – die veld is vol lewe en jakkalse. Ons maak kennis met die vriendjies wat ons vanaand met hulle gehuil sal vermaak.


Terug in die kamp reën dit sowaar weer – ons lê in die tent en wag dat die reën bedaar. Gelukkig kry ons ’n kansie om te braai, want in die nag word ons weer wakkergemaak deur ’n reënbui.

No comments: