Stad tussen berge
Ons het al meer as 4300 km gery. Vandag moet ons sowat 500 km ry om tot in Windhoek te kom. Stadig maar seker eet ons km vir km die afstnade op en verteer hulle al nader die beskawing in.
Dit is amper asof mens vir ’n rukkie uit plek voel. ’n Mens se oë moet eers gewoond raak aan die skerp lig van die geordende samelewing. Om op ’n teerpad te ry voel amper te luuks om waar te wees. Ons het in die afgelope paar dae nooit eers ’n robot teëgekom nie. Ons het amper uit plek gevoel in Tsumeb se Wimpy.
Dit is maklik ry uit Etosha, die pad is teer, reguit en meestal sonder slaggate. Ons ry deur elke denkbare dorpnaam wat met ’n O kan begin. Outjo, Okahandja, Otjuwarongo...
Windhoek word omring deur 3 bergreekse. Ons kan duidelik sien dat daar hier ook meer reën as gewoonlik geval het. By menige driffies in die dorp moes ons versigtig deur die water ry.
Ons eerste missie in Windhoek is om slaapplek te kry. Moringa gastehuis is uiteindelik waar ons opeindig. Dit is geleë in Ludwigshof, ’n noordelike voorstad van Windhoek. Ons kon selfs bad – net dit alleen is opsigself ’n luuksheid.
Ons soeke na middagete begin by die Merua Mall. Hier kon ons net so wel in Suid-Afrika gesit het. Ons eet by Cafe Braza – hierdie keer darem iets anders as ’n hoender mayonaise broodjie.
Ons verken die dorp – die Christuskirche en die Alte Feste. Die Christuskirche met sy brandgeskilderde vensters geskenk deur Keiser Wilhelm II toorn uit bo die stad. Langs dit is die Alte Feste, ’n fort wat in 1896 deur die Duitsers as hoofkwartier vir die Schutztruppe gebou is. Ons loop deur hulle uistallings en kom op die inligting oor die Namibiese rotskuns en die bemagtiging van die gemeenskap af. Tot ons verbasing het die foto van die gidse vir Colin op. Weliswaar ’n heelwat jonger Colin, maar duidelik is dit hy.
Van hier af ry ons stadigaan deur die hoofdorp. Meeste winkels is al toe. Op die ingewing van die oomblik besluit ons om die uitsig oor ’n glasie wyn vanaf die Hotel Heinitzburg se stoep af te geniet. Ongelooflik. Die hotel gee ’n wye uitsig oor die stad. Ons kon die verleiding teen kaaskoek nie weerstaan nie.
Ons sluit ons Windhoek-dag af met ’n besoek aan Joe’s Beerhouse, ’n landmerk in Windhoek. Die eerste restaurant wat ek raakloop met sy eie curios winkel. Jy kan van plekmatjies tot T-hemde koop. Natuurlik het ons wildsvleis hier geëet. Omring deur Duitsers aan die een kant en Chinese aan die ander, verkyk ons onsself ook nes die toeriste aan al die interessante memoribilia teen die mure. Elke item het sy eie storie.
No comments:
Post a Comment