The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Monday, July 4, 2011

Namib: Dag 15 Windhoek-Kang


Die pad terug…


Elke reis het ‘n begin en ‘n einde. Twee onontbeerlike bestanddele in enige reis. Dit help nie ek weet waar noord of suid is, maar ek weet nie waar ek myself bevind nie. Slegs wanneer ek weet waar ek is kan ek my weg vind vanaf my huidige posisie na my eindbestemming.


Ons weet waar ons onssself vanoggend bevind. By Villa Moringa, Windhoek, Namibië. Ons bestemming aan die einde van vandag: Kalahari Rest, Kang, Botswana.


Van hier af reis ons in min-of-meer ’n oostelike rigting al met die Trans-Kalahari hoofweg.


Gou-gou skud ons die omvouende berge van Windhoek af en word die prentjie voor ons en in die truspieeltjie so te sê spieëlbeelde. Ons laaste herinnering van die Namibiese beskawing is van die dorpie Gobabis. Die dorp is stewig gevestig rondom beesboerdery, soos die Bramhaan-bul standbeeld trots meedeel: “This is cattle country.”


Die dam by Gobabis word genoem Die Dam. Beskrywende naam. Dit is vol water, blykbaar nie altyd die geval nie.


Na omtrent 3 ure en 387 km kom ons by die grenspos, Mamanu aan. Die Namibiese kant gaan verbasend vinnig, behalwe dat ons die grensbeamptes tussen al die bouwerk (hulle is besig om hulle fasiliteite op te gradeer) moes soek.


Die Botswana kant was ietwat ’n perd van ’n ander kleur. Dit het bykans ’n uur geneem om jou paspoort te stempel en ’n rypermit te kry. Maar mens ontmoet altyd interessante mense, so in die wag. Daar was heelwat Suid-Afrikaners oppad terug, asook ’n paartjie van Botswana wat ’n luukse lodge bestuur waar rykes met hul eie privaat vliegtuie land en wie weet wat alles in die bos kom aanvang. Hulle was oppad terug van Windhoek lughawe af – hulle moes hulle dogter daar gaan aflaai.


Die pad van hier af is monotoon – ’n goeie teerpad, maar reguit omring deur Kalahari landskap aan weerskante. Die teerpad is soos ’n slang van modernisasie wat hierdie Afrika-wêreld in twee skeur. Maar net voor jy aan die slaap raak agter die stuurwiel dorg die bokke of beeste of donkies dat jy op jou tone bly.


Soos ons nou al gewoond is word ons aankoms in enige nuwe area met ’n reënbui begroet. Hier was dit nie anders nie. Ek wou nog vir Willem afneem met sy Etosha-trofee van wit klei wat oral oor hom gespat het, maar die Botswana reën het my voorgespring.


Ons kom laatmiddag by Kalahari Rest aan. Die naam sê presies wat dit is, ’n rus-oase hie langs die Trans-Kalahari. Ons sluit ons dag hier teen 18:00 af met Impala-bredie en word vir oulaas omring deur die naggeluide van die veld.


Die laaste stukkie begin ons vroeg aanpak, net so duskant 4 uur die oggend.


Ons eindig hierdie twee weke met 6350 km agter die blad. Wanneer mens na so ’n vakansie veilig by die huis aankom besef mens: jy is soveel ryker. Niks kan opweeg teen die herinneringe wat mens vir ’n leeftyd saam met jou sal dra nie.


Elke kilometer op die pad het ’n spesiale plekkie oopgekrap wisselend tussen beelde van woestyn, berg en duine met tekens van ontwikkeling hier en daar.


Namibië, ’n land wat se skatte in die eerlike eenvoud lê wat dit uitstraal.

No comments: