The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Saturday, May 26, 2012

Grondgebied

(Na ‘n gesprek met my vriendin-nig Nella)
Moederskap het die vermoë om jou op te slurp. Eerstens moet jy ‘n nuwe rol vertolk waarvoor mens, ten spyte van hoeveel boeke en raad van ander mammas nooit heeltemal op voorbereid kan wees nie. Om ‘n mamma te wees neem boonop baie tyd in beslag – soveel so dat as jy nie daadwerklik ‘n poging aanwend nie, jy maklik dag vir dag kan laat verbygaan sonder om enige tyd aan jouself en jou eie belangstellings te spandeer. Dan is daar ook nog as kersie op hierdie ryk versierde moerderlike koek, ook die kwessie van skuldgevoelens. Dit is so maklik om jouself te kasty elke oomblik wat jy weg is van hierdie klein weerlose baba wat so afhanklik van jou is.


En voor jy dit besef het jy elke stukkie van jou private grondgebied oorgegee aan hierdie wesentjie wat van nou af vir altyd deel van jou lewe gaan wees.


In my soeke om tog so tussendeur die oorweldigende verantwoordelikheid van ma-wees nog ‘n stukkie ek te behou was daar ‘n paar lewenslyne.


Die eenvoudige woorde van ‘n vriendin, wat self onlangs ma geword het, het vertroosting gebring: “It is okay to lose yourself for a while – somewhere you will find yourself again.” Weliswaar verloor jy jouself vir ‘n ruk, veral gedurende die eerste paar weke. Maar stadigaan begin die ou self tog weer na vore kom. Moederskap verander mens – jy sal nooit, ooit weer dieselfde mens wees nie, maar tog kom daar stukke van myself, wie ek was, en altyd graag sal wil wees stadigaan terug.


Dan is daar ek-tyd. Sonder om skuldig of selfsugtig te voel, het ek besef is dit nodig dat ek steeds tyd maak vir die dinge wat my definieer. Die kwantiteit is irrelevant, wat van belang is, is die bestaan daarvan. Ek-tyd is tyd weg van jou baba, waar hy in iemand liefdevol se sorg is vir ‘n paar ure, iemand wat jy vertrou sodat jy kan ontspan en sonder enige bekommernis jouself kan herontdek.


Die afgelope week het ek ‘n paar veranderinge aan die babakamer aangerig. Die rusbank, wat die piepklein kamertjie volgestaan het, het plek gemaak vir ‘n huislike, tog moderne gemakstoel. Hierdie klein verandering het sommer nuwe lewe in die kamer ingeblaas. Ek het so na die stoel gestaan en kyk en gedink: sjoe, dit is nogal ‘n ‘volwasse’stoel vir ‘n babakamer, amper asof die stoel nie by die speelsheid van die kamer pas nie. Maar hoe meer ek daaroor gedink het, hoe meer het ek beself – hierdie is my stukkie grondgebied in Andreas se kamer. In plaas daarvan om ‘n kinderlike strooikussing op die stoel te sit, het ek ‘n Indiese kussinkie en ‘n Tibettaanse wolkombers gebruik om die stoel mee te versier. Altwee dekoratiewe items waarmee ek kan identifiseer. Wanneer ek nou rustig in my stoel sit en Andreas voed, voel ek tuis. Tuis in my rol as moeder. Ek weet steeds wie ek is. Ek kan myself vir my kind wees.


Die eise wat die moderne lewe aan ‘n vrou stel is uiters hoog. Dit is maklik om jouself te midde van alles wat jy vir almal moet wees te verloor. Vrou, veg vir jou grondgebied – dit is nie selfsugtig nie, jy sal uiteindelik net ‘n beter ma, eggenoot, vriendin, dogter en kollega wees. Versier die stoel waarop jy sit met die dinge na aan jou hart.

No comments: