Onder ekstreme omstandighede kom mens se ware karakter na vore. Dit is nie wanneer dit goed gaan dat mens werklik kan bepaal waartoe iemand instaat is nie. Maar wanneer die onverwagte gebeur en mens beproef word leer mens iemand werklik ken.
Hierdie land, waar omtrent net 2,1 miljoen mense bly, moes sekerlik die mees ywerige ontdekkersreisiger se uithouvermoë to die uiterste beproef het.
_________________________________________
Ons besoek vir oulaas weer die kokerboomwoud. Die oggendlig op die takke bring weer ’n nuwe perspektief aan die woud. Elke boom het sy eie knoets, lengte, breedte en windrigting wat aan hom karakter gee. Hulle dra saam met hulle die boodskap dat enige woestynbeproewing oorkom kan word. Dat jy die woestyn jou tuiste kan maak, die merke en tekens sal jy vir altyd aan jou lyf dra, maar as jy jou wortels diep genoeg in die aarde inslaan sal jy hier kan bly staan.
_____________________________________________
Die Seeheim hotel is by ’n stasie, op die spoorlyn tussen Keetmanshoop en Luderitz opgerig. In 1996 is die hotel gerestoureer, ’n woestynjuweel so tussen niks en nêrens. Ons het afgedraai om te gaan kyk.
Dit is uiteindelik die mense wat hierdie reis spesiaal maak. By Seeheim hotel, 42 km anderkant Keetmanshoop ontmoet ons vir Zirkie Kloppers. Hy vra ons om hom te help om sy faksmasjien se ink te ruil, nog voor ons enigsens iets vir ontbyt kan bestel. Sy vrou is in dorp toe en die man moet dringend iets gefaks kry. Na ’n pot koffie en geroosterde boerebrood het hy vir ons die kortpad tot by die teer beduie en sy nommer vir ons neergeskryf, want soos hy sê: “Bel net as julle hulp nodig het. Ek ken mense oral oor Namibië.” Dit mag dalk net handig wees.
_____________________________________________
Ons volgende onbeplande stop is in Aus. Soos meeste van die dorpies hier het dit ontstaan rondom ’n fontein. Tydens die Eerste Wêreldoorlog is Duitse troepe hier in interneringskampe aangehou. Die prisonierkamp en grafte is hier te sien. Ons tyd was min, so ons het maar net by die inligtingsentrum gestop (om die gewete te sus). Die inligtingsentrum het ons beïndruk. Daar is groot fotos teen die mure wat die geskiendenis, fauna en flora van die area uitlê. Op aanbeveling van die inligtingsentrum se helpers draai ons by Garub pan af, in die hoop om kennis te maak met die wilde perde van die Namib. Ons hoop was nie beskaam nie. Daar was ’n hele trop. Een van die wilde hingste het omtrent ’n vertoning gelewer – dit het nie gelyk of hy baie gewild was onder sy mede perdevriende nie.
________________________________________________
Buite Aus maak die woestynbossies plek vir ’n maanlandskap. Ewe skielik word mens omring deur woestyn. Borde langs die pad waarsku – moenie afwyk van die pad nie, moenie eers uitklim nie, want aan die linkerkant is spergebied. Die publiek mag nie eers langs die pad stilhou nie, want wie weet ’n diamant mag dalk net per ongeluk in jou hande beland.
Hiervan getuig die huisie by Gratzplatz. Die eerste diamant in die area is hier ontdek. Die werker van ’n Duitse offisier het die klippie in die sand opgetel, en daarmee sy werkgewer oornag skatryk gemaak.
Namibiese diamante is van die hoogste kwaliteit in die wêreld.
______________________________________________
Om Luderizbucht binne te ry is amper soos om deur ’n rillerfliek se aanloop te leef. Die landskap oppad daarnatoe is onherbergsaam, dit lyk soos ’n maanlandskap.
Luderitz verskyn aan die eindpunt van ’n landskap van sand en nogmaals sand.
Ons bly oor by Haus Sandrose – die vrou wat dit bestuur wys ons met trots die 14 skilpaadjies wat sy grootmaak. Dei plekkie is netjies met ’n duidelike Europese gevoel daarop afgedruk.
Ons maak ’n draai by Luderitz safaris en informasie om ’n permit vir Kolmanskop te kry. Ons kry ’n permit vir die volgende dag van sonop to sononder.
Die res van die dag word opgeneem deur ’n besoek aan Goerke-huis. Die huis is gebou in 1909 deur ’n Duitse burger vir sy vrou Luise. Hulle het self net 2 jaar daar gebly voor hy terug is Duitsland toe. Vandag is die huis ’n museum, wat steeds van tyd tot tyd deur die hoër lui van die regering as oornagplek gebruik word.
Die Felsenkirche staan op rots. Die kerkie toring uit oor Luderitz en die prentjie word afgerond met die see wat in die agtergrond teen die rotse klots.
___________________________________________
By Diaz punt waai ons amper weg. Ek moet sê: ek het respek gekry vir die seevaarders van ouds. Hulle moes werklik die wind en gure weer trotseer het om nuwe plekke te kon ontdek. Hulle lewens was op die spel. Dit alles om die onversadigbare behoefte na die oorwinning van die onbekende te bevredig.
Ons trotseer die wind om fotos te neem daar waar Diaz vir die eerste keer op Kersdag in 1487 aan die Namibiese kus aan wal gegaan het. Om ons oorlewing te vier drink ons ’n glasie wyn en eet Luderitz-oesters, vars uit die see.
’n Oester sal nooit weer hierna dieselfde proe nie.
_________________________________________
Ons sluit die aand af by Ritzi’s restaurant. Al het die onpretensieuse plekmatjies buffels en leeus op is dit tog ’n seekosrestaurant. Ek het in my lewe nog nie so groot seekosplatter vir twee gesien nie. Ons het tot die volgende dag nog middagete aan die die oorblyfselfs gesmul.
No comments:
Post a Comment