The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Thursday, January 17, 2008

By die verkeerslig

In haastigheid ry
boksies mense verby,
onbewus vir ewig
in die oomblik
saamgemarionet.

Elkeen binne die
kosmos van
eie gedagtes
vasgegordel
Firestone voort:
Oog-op-meterkonsentrasie
om binne
spoedgrensemosie
te bly
venster ongewaardeerde
landskappe
vir altyd verby.

Maar soms
faal ons flikkerligbravade
van ander-in-agneemkonsiderasie -
breek ons los
tot toeterkonsternasie
om so teen elke prys
stamploos
van punt A na B te reis.

Met ons eindbestemming
in sig,
terwyl duisende kilometers
ons lewe
opvakuum,
glo ons dwaas
hier sal
ons rus kan vind.

Tog bly ons
altyd oppad
te bang om
teen tyd stil te staan
soek ons,
smag ons,
jaag ons
lewe verby.

Wednesday, January 16, 2008

'n Vars begin

Oral om ons sien mens die hunkering om ontslae te raak van die verlede, bande te breek en 'n nuwe begin te maak.

In die natuur verloop alles siklies - die seisoene, 12 maande in 'n jaar, elke dag begin met lig en eindig met donker. Alles 'n herhaling, maar juis in hierdie proses van repitisie is daar vir elkeen van ons 'n geleentheid.
'n Geleentheid vir oorbegin.

Die Here het geweet dat die homosapiens geneig is om verstrengel te raak in die detail van die lewe. Ons hou aan tob oor gedane sake, mallemeule heen-en-weer tussen keuses en verloor ons perspektief soos ons aandag afgetrek word deur die kleinighede van die lewe.

Vir Dawid was dit so belangrik om in die oggend, met 'n brein wat helder en onbesoedeld is, die dag saam met die Here af te skop. Voor die eise van die dag al mens se aandag in beslag neem.

So skep God elke jaar 'n geleentheid om aan te skuif. Al kan ons nie by een van ons nuwejaarsvoornemens hou nie, kan ek nie help om te wonder hoeveel erger ons omstandighede sou gewees het as daar nie 'n vars begin was elke jaar nie.

Elke seisoensverandering ontlok dieselfde vernuwingsproses. In die lente versnipper ons, ons hare, gaan op 'n dieet en pak kaste reg. Winters maak ons luier en rustiger - wat ook 'n nodigheid is.

Ons het elke begin en elke einde nodig. Ons moet kan agterlos om ligvoets aan te gaan, maar tog genoeg saamdra om ons deur die moeilike tye vorentoe te help. Die vars begin tye is geleenthede om perspektief te kry op watter bagasie nodig is vir die pelgrimstog vorentoe.

Wanneer ons weier om af te skakel en rustig te raak, jaag ons verby hierdie geleenthede en word ons beroof van soveel vreugde en vrede.
Oral waar ons gaan kom ons af op die wat sneuwel aan 'n gebrekkige vars begin. Mense wat onrustig slaap, in die oggend uit die bed uit jaag sonder om vir 'n paar minute stil te word, om jare aaneen te werk sonder om jouself 'n blaaskans te gee. Tot mens op 'n dag wakker word en voel alles het sinneloos geword. 'n Dag waarop geen vitamienpil, energieskommel of kitsdieet meer die probleme wil oplos nie.

Daar is so baie maniere om elke dag 'n mini-begin te maak: begin elke oggend met 'n stukkie stilword, probeer iets nuuts vir aandete, koop 'n nuwe CD, bly bietjie langer in die bad, gaan hou op 'n nuwe plek vakansie, verf jou huis, dra 'n kleur wat jy nog nooit voorheen gedra het nie, kry 'n nuwe stokperdjie.

'n Vars begin impliseer ook om te begin tyd maak vir mense om jou en die belangrikste hiervan is vergifnis. Jesus is die baanbreker op die vars-begin-beginsel. Sy hele lewensdoel was om ons te ruk uit 'n lewe van hopeloosheid en deur sy geskenk op Golgota vir ons die geleentheid te gee om oor te begin.
Sy vergifnis was groot genoeg vir die heelal en Hy roep ons om ook die mense rondom ons te vergewe.
Vergifnis is 'n vars begin, nie net vir die een wat dit ontvang nie, maar veel eerder vir die een wat dit uitdeel. Dit gee ware bevryding. Sonder vergifnis vergiftig ons onsself dag vir dag met die verlede totdat ons later almal wat naby ons probeer kom wegdryf.

Die gevolge van 'n vars begin is soos om 'n appel te pluk en te eet. Die varsste appel is die een wat nou net gepluk is. Om 'n vars begin te pluk moet ons die geleenthede wat op ons pad kom raaksien en die wat ryp is op die regte tyd pluk. Om iets te pluk is om dit jou eie te maak. So moet elke vars begin, elke ritueel deel word van ons menswees en lewensuitkyk.

Daar is baie maniere waarop 'n mens 'n appel kan eet. Party hap hom, ander skil hom in skywe en eet met die hand, of gooi dit in 'n vrugteslaai. My ouma bak appeltert, ander versap dit. Dit maak nie saak nie, vir elkeen sal 'n vars begin iets anders beteken en ander waarde inhou.

Die essensie bly dieselfde - ons moet die geleentheid raaksien, benut en dit boonop geniet.