The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Tuesday, March 18, 2008

Kruise


Vanaf ons vorige huis se stoep kyk mens uit oor Nelspruit. In die dag is dit die berge, die bos en huise wat soos muntstukkies in 'n doekpoeding versteek lê tussen al die bome. Maar in die nag verdwyn als om plek te maak vir 'n enkele verligte kruis wat op 'n berg teen die horison verskyn In die dag sou mens nie eers kon raai dat daar 'n kruis op die berg geplant is nie.


In die kar, tussen êrens en nêrens ry ons verby 'n kruis wat in wit klip teen 'n randjie uitgepak is om elke uitgeputte reisiger aan die dinge met ewigheidswaarde te herinner. Later die aand toe ons weer die pad in die donker aandurf sou niemand kon raai dat daar 'n kruis teen die berg uitgepak is nie.

Nou in hierdie week in aanloop tot Paasfees, kan ek nie anders as om al die kruisstasies op my lewenspad in oënskou te neem nie.


Kruise is bakens, rigtingwysers om ons voortdurend attent te maak op die werklke rede vir ons bestaan op aarde. In stilte dra hierdie simbool sy boodskap uit. Die punt waar twee rigtings horisontaal en vertikaal bymekaarkom is die hart se swaartepunt. Die kontrapunt van ons keuses. Ons het kruise nodig. Kruise wat bedags, wanneer alles duidelik voor ons lê dien as stille versekering dat ons pad beveilig word, dat ons kruistog nie om eie gewin is nie maar volgens God se beplanning vir ons lewe.


Maar ons het ook kruise nodig want net in die nag sigbaar is. Bedags wanneeer alles voor die wind gaan is hulle onsigbaar, maar wanneer die skemer van onsekerheid en beproewing sy kombers oor ons visie en perspektief gooi is dit hierdie verligde bakens wat ons weer terug lei op die beproefde pad. Hierdie kruise is net sigbaar vir die oog van die wat hulle oë in geloof kan opslaan na die berge en in hoop en liefde vertrou op God se lig van bystand en leiding. 'n Stad op 'n berg kan nie weggesteek word nie. So word die kruise wat ons plant op die berge van ons onwrikbare oortuigings en morele waardes bakens wat sigbaar word in tye van nood.


Maak vir jou kruise bymekaar in tye van voorspoed. Oordink jou waardes, jou motiverings en plant hierdie oortuigings op plekke waar hulle sigbaar sal wees in die tye wanneer dit nie so goed gaan nie.


Ons moet kruise uitstal, uitdeel, plant en verlig sodat ander God in kruiservarings kan leerken.

Monday, March 3, 2008

Reën

Een agtermiddag begin die weer onverwags dreun. Verbaas hardloop ek die voortuin in - geen wolk in sig nie. Maar by die agterdeur pak die wolke saam, so asof uit die niet. Ek skarrel binne toe, trek vinning al die kragproppe uit die muur (ek het nog altyd 'n heilige vrees gehad vir die gevolge van 'n krag-weerligkombinasie). In die proses vergeet ek skoon van die amper droë wasgoed wat op die draad agterbly. Prioriteite, prioriteite...

Ook nie lank daarna nie, of dit sous behoorlik. Die geur van vars grond stroom die huis binne, vergesel deur 'n afkoelbriesie.
Dit is wat ek 'n welkome lafenis noem, so op 'n drukkende somersdag. Onwillkeurig kom daar 'n ligtheid in jou gemoed, 'n nietige dankbaarheid. Die reën val waar hy wil, soms onverwags, ander kere na wolkbeloftes wat vir dae in die lug gehang het.
Soms val die water vir dae aaneen, ander kere lek-lek hy aan die grond net om weer aan te beweeg.

Hoe dit ookal sy - reën bring lafenis, verligting. Ons kan nie sonder reën oorleef nie. Ons bid daarvoor, smeek dit af - en wanneer dit kom meet ons dit om seker te maak dit was genoeg, vang dit op in enige beskikbare houer van skotteltjies tot massiewe tenks. Want reën bly kosbaar en wie weet wanneer dit weer hierlangs gaan kom.

So is vriendskap ook. Op die dorre aarde van eensaamheid, bring vriendskap hoop. Ons het dit nodig vir oorlewing. Ware vriendskap verkwik, onwillekeurig begin die gees ontkiem en groei. Ons hele wese word deur opregte vriendskap deurweek, om ons versterk en verfris te laat. Ons almal is instaat om 'n ware vriend te wees. Ons moet nood raaksien en daar waar die droogte lewensvreugde steel behoort ons, al is dit onverwags lewe te laat reën.

Laat dit juis reën daar waar ander reënvriendskappe lanklaas 'n draai gemaak het. Moenie suinig wees om dit uit te deel nie. Jy mag maar, die reën is verniet.