The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Monday, April 5, 2010

Suurdeeg


Ek het vandag gaan brood koop - 'n gereelde gebeurtenis. Maar vandag was anders. Terwyl ek staan en wag dat die vrou wat my help die brood in 'n sakkie gooi en 'n prys opplak vang my oog 'n houer met klein bolletjies wat wag om oond toe te gaan.


Klein bolletjies deeg, nie eers 5cm in deursnit nie. Party met sesame saadjies op, party met kaas en ander met 'n bietjie knoffel.


Ek staan met my broodrolle in die hand. Groot, vet rolletjies. Daardie einste rolletjies was ook 5cm in deursnit. Dit was voor hulle vir 40 minute in die oond beland het. Daardie klein rolletjies het, te danke aan die gistingsproses, die kombinasie van suurdeeg en hitte, wat die deeg deurtrek, groot genoeg geword om my maag vol te maak.


Daardie klein stukkie deeg word onder die invloed van daardie suurdeeg groot genoeg om mense te voed, van energie te verskaf. Was die suurdeeg nie daar nie sou daardie stukkie deeg klein bly en kliphard word.


So is ons ook - inherent is ons 'n klein stukkie deeg. Ons voel dikwels of ons niks kan bereik nie, geen verskil kan maak nie. Maar wanneer die Heilige Gees in ons lewe, verander alles. Ons hele binneste word deur die Heilige Gees se teenwoordigheid gevul. Ons rys uit bo ons eie kragte, ons kan ander mense se honger na liefde versadig, ons gee substansie aan ander deur ons teenwoordigheid.


Ons is tot alles instaat deur die Gees wat soos suurdeeg ons hele lewe deurtrek. Sonder hierdie suurdeeg sal ons kliphard word, sonder enige waarde wat ons tot ander se lewens toevoeg.


Soos brooddeeg suurdeeg nodig het om brood te word, so het ons die Gees nodig om waarlik mens te word.