The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Tuesday, April 15, 2008

Hande

Anatomie disseksie in tweede jaar was, anders as wat mens sou dink, vir die deursnit mediese student allesbehalwe 'n traumatiese ervaring. Wat meeste van ons daarvan oorgehou het was 'n formalienjas, wat toegang tot die huis geweier is en hope disseksiegrappies, hopeloos te obskuur om in goeie geselskap oor te vertel.

Die gesig, die oë, die hart, selfs die liggaamsdele wat daagliks om spesifieke redes deur klere bedek word, het sonder enige emosionele wroeging onder die skalpel gesneuwel.

Maar hulle het die beste vir laaste gebêre. Die dag toe die hand op die tafel lê, daardie dag het my eie hande gebewe, ek wou anderpad kyk. Hoe kan ek hierdie unieke, volmaakte liggaamsdeel aan flarde sny onder die dekmantel van die akademie?! Vir die eerste keer het ek besef dat hierdie kadawer eens op 'n tyd 'n mens soos ek was.
Na hierdie ervaring het ek vir die eerste keer anders na hande begin kyk.

Die hand is een van die mees ingewikkelde anatomiese strukture (vra maar vir 'n mediese student). Spiere en senuwees is delikaat saamgeweef in gekonsentreerde vorm, sodat die fynste bewegings akkuraat uitgevoer kan word. Selfs die brein herken die hand se belangrikheid. Penfield was 'n neurochirurg wat 'n homonculus opgetrek het waarmee hy die areas van die brein uitgelê het wat kommunikeer met elke liggaamsdeel op motoriese, sowel as sensoriese vlak. Die area in die brein wat handfunksie beheer, beslaan in verhouding die grootste oppervalkte van al die organe. Die konsentrasie senuweepunte in die hand en vingerpunte is baie hoog, om ons instaat te stel om, deur ons hande, die wêreld sonder sig te verken.

So, in my tweede jaar het die hand my vinnig geleer om met respek na hom te kyk.

Hande vertel hulle eie storie.
Die eelte op die handpalms van 'n arbeider praat van dae se harde werk. Die knop aan my middelvinger verraai die hoeveelheid tyd wat ek 'n pen vashou. Party hande maak gereeld 'n draai in die skoonheidsalonne, ander boer net in grond en water.

Hande praat.
'n Hand kan nee dankie sê, hande kan wegdruk, nadertrek, vertroos, tugtig, uitwys. In swaarkrytye het ons hande genoeg empatie om saam te bewe, te sweet...
Deur die hande van die kunstenaar vloei meesterstukke, word gedagtes, perspektiewe woordeloos verwoord.

Hande is uniek.
Hande kan deel word van massa-aksies, rondgeswaai word in protes, maar steeds bly elke hand uniek. Geen vingerafdruk kan homself herhaal nie. 'n Handskrif het net een baas. Aan jou dade, dit wat jou hande verrig, sal jy geken word.

Hande het oë van hulle eie.
Hulle kan voorwerpe sonder sig herken, help blindes om die wêreld van literatuur te verken. Deur die oë van ons hande beleef ons ons geliefdes, versterk ons bande met minder bekendes.

Ons hande kan so baie uitrig, juis daarom moet ons ons hande elke dag met verantwoordelikheid gebruik. Ons moet eg bly aan onsself. Ons hande toelaat om elke dag die storie van die hart te vertel.

Niemand hoef ooit skaam te wees vir sy hande nie. Dra met trots jou hande - dit is 'n verlengstuk van jouself.

Monday, April 14, 2008

Om 'n passie te hê

Ons almal wil graag soos William Wallace wees, 'n man met 'n passie om 'n nasie te red. Of soos Beethoven, die musiek in ons kop hoor eggo, tot ons dit noodgedwonge op papier vaspen. Ons almal wil met Charlize Theron se passie Hollywood aan ons voete hê, terwyl ons 'n Oscar in ons hand hou.

Ons almal wil voel ons het 'n verskil gemaak, 'n naam op mense se lippe geword. Tog struikel ons nogsteeds elke oggend uit die bed, word ons tot Nescafe gedryf om die slaap uit ons breine te skud, sit in verkeer vas op die maat van Highveld Stereo en werk 8-5 in 'n poging om die pot aan die kook te hou. En elke dag word die vraag groter - wat is my eintlike doel hier?

Ja, mens moet dankbaar wees vir werk, gesondheid en kos op die tafel, maar wat het geword van al ons kinderideale? Om te wees dit waarvoor jy bestem is, om dit wat in jou hart geskryf staan elke dag, deur jou doen en late uit te leef.

Daar is nie 'n meer vredevolle en verblydende gesig as om iemand met 'n passie vir dit wat hy doen te aanskou nie. Die konsentrasie en perfeksie waarmee elke taak gedoen word, gemeng met die genot wat spruit uit die volvoering van die taak alleen, is onafhanklik van ander se goedkeuring en 'n gedrewendheid na materialisme.

Jare lank het ek mense beny wat 'n enkele passie in die lewe najaag, want dit is onvermydelik: as jy jou passie uitleef is sukses 'n vanselfsprekende newe-produk.

Ek glo elke persoon word gebore met 'n doel, 'n passie om op aarde uit te leef. Maar wat gebeur dan tussen kindwees en grootword? Hoekom verloor ons, ons visie en eindig op in 'n beroep gedryf deur roetine, vol frustrasie, waarin ons net bly om ons rekeninge te kan betaal?

Wat kan mens doen om passie terug te wen?

In my soektog na verlore passies het ek 'n paar interessante ontdekkings gemaak:

  • Die voorliefdes wat ek vandag het, het ek al van kinderdae af. Ek en my man is albei lief vir stap en kamp. Hoe nader ons aan die bos is hoe gelukkiger is ons. Is dit dan 'n verrassing om te weet dat ek van kleins af met al wat 'n kombers en besemstok is, tent opgeslaan het in die agterplaas en toe al gesê het: as ek eendag groot is gaan ek vir baie dae aaneen net met 'n sak op my rug die veld instap? Dit is die moeite werd om historiese navorsing te gaan doen: ou albums nader te trek, pa en ma te raadpleeg oor jou kindergewoontetjies en ideale. Net dalk ontdek jy die passie wat jare lank motgevreet eenkant lê en die fut in jou dag kan terugsit.
  • Die ander passie-feit wat my baie lank gevat het om te begryp en ook veroorsaak het dat ek in vele cul-de-sacs beland het, is die opsoek-na-my-enigste-passie-sindroom. Daar is baie mense met net een passie, gebore vir een doel op aarde. Hulle kan niks anders wees as wat hulle is nie en die vervulling van een lewensdoel gee vir hulle selfvervulling. Ongelukkig kon ek self nog nooit net een iets kry wat genoeg is om my te voltooi nie. Die fout wat mens dan geneig is om te maak is om jouself te probeer forseer om net van een iets te hou. In die proses gaan mens se ander belantstellings meestal dood en eindig jy op as 'n ongelukkige bondel sukses op net een gebied. 'n Gefrustreerde besigheidsman wat net syfers leef, dink en eet. 'n Ongeduldige dokter wat nie kan bekostig om vrye tyd te geniet nie, omdat hy nie sal weet wat om daarmee te maak nie. Gun jouself meer as een passie, leef jou belangstellings uit. Streef eerder daarna om 'n interessante mens te wees as 'n suksesvolle een.
  • Die ontdekking van jou passies begin by selfontdekking. Ontspan, vergeet van ander se uitsprake of opinies teenoor jou. Leerken jou swak punte, sterk punte, voorkeure en jy sal verbaas wees om uit te vind dat jy op 'n dag jou passies spontaan begin uitleef.
  • Onthou: passies kan nooit gekoppel word aan geldelike vergoeding of enige vorm van materiële voordeel nie.
  • Dit is alles goed en wel om jou passies te ken, maar ongelukkig het passie bietjie meer om die lyf as om net geken te word. Dit moet ook uitgeleef word. Op hierdie punt moet selfdissipline intree. Soos 'n wilde perd moet passie getem word, moet 'n saal op die rug en toom in die bek geplaas word, wat passie sal lei op die paaie wat by ons lewenstyl aanpas en wat ander rondom ons inag sal neem. So nie kan jou passie op die lantermyn 'n frustrasie en teelaarde vir rusie word tussen jou en jou geliefdes. 'n Passie wat met verantwoordelikheid uitgeleef word verg fokus en selfkennis. Dit is baie maal 'n eensame pad. Jy moet aanhou glo en werk tot by jou doelwit wanneer ander miskien al moed opgegee het.

Om 'n passie te hê is 'n voorreg, maar 'n voorreg wat harde werk, selfdissipline en vasbyt verg. Soek jou passies, vertroetel hulle - so ontdek jy jou ware self.

Thursday, April 10, 2008

Vreugde

"All joy reminds. It is never a posession, always a desire for something longer ago or further away."
CS Lewis - Surprised by joy

Oomblikke van vreugde is vlietend. Soos spookasem in die mond. Sodra jy dit begin proe het die substans daarvan reeds onder die mag van jou speeksel geswig.

Vreugde is 'n woord wat met respek hanteer moet word. Miskien juis omdat soveel mense tevergeefs daarna soek, het dit vir my 'n heilige konsep geword. Elke dag is ons op 'n pelgrimstog opsoek na die sleutel om die skatkis van vreugde oop te sluit. Vir jare lank het ek ook geglo dat daar 'n oomblik sal aanbreek waarin die slot sal draai en ek myself lewenslank sal kan verlustig in vreugdeskatte. Bitter was my teleurstelling toe ek al hoe meer en meer begin besef: ek moet gereed wees, geestelik gesnoei, om vreugde te kan omarm.

Gestroop van pretensie en voorafbepaalde idees, moet ek bereid wees om myself in vreugde se arms te plaas. Vreugde spreek tot die individu, dit is nie 'n adrenalieninspuitingservaring wat gemik is op massagenot nie. Juis dit wat vir ander sinneloos mag lyk mag jou hoofbron van vreugde wees.

Vreugde laat sy stem hoor in die kelderkamers van die siel, op vergete plekke laat hy hartstog herleef. Sy gereedskap: die alledaagse. 'n Blom, 'n ou bekende radiowysie, die reuk van pannekoek, sand in jou baaibroek, rooiwyn by kerslig, 'n stoppelbaardsoen, hondelyfies - alles vreugdevonke.

Vreugde wil nie geld kos nie, daarvoor is hy te duursaam.
Vreugde is nie te koop nie, veel eerder daag hy jou uit om te begin soek na die dinge in die lewe waaraan mens nie 'n prysetiket kan hang nie.

Miskien soek ons so hard omdat ons nie weet waarna ons soek nie. Ons jaag op peperduur vakansies, om net moeër terug te kom, koop nuwe karre, huise, klere, verander van lewensmaats - alles in 'n poging om meer gelukkig te wees. Vir 'n vlietende oomblik mag ons dalk meer gelukkig voel, maar geluk is nie vreugde nie. Geluk is soos gaskoeldrank, as die borrels verdamp het is die dimensie weg.

Ons soek verkeerd. Vreugde kom vir 'n oomblik verby - partymaal moet ons mooi kyk om hom te herken. Maar as jy eers een keer in sy gesig gekyk het, sal jy nooit weer dieselfde mens wees nie.

Vreugde kweek vreugde. Dit wat hy agterlaat word soos rimpels op 'n dam, dit kring uit om aan ander te raak. Om dooie dele in jou lewe wakker te skud.

Ek kan vreugde nie koop nie, nie in 'n hok sit, raam of ten volle beskryf nie. Al wat ek kan doen is om dit te ervaar, te deel, dit in te asem, te bewonder en dag vir dag in verwondering te staan ek kyk hoe dit deur my lewe verfkwas.

Reisiger

Reisiger - die woord dra vir my swaar aan wysheid. Voor my sien ek iemand met ervaring wat lyne op sy gesig uitkerf, wat in 'n waas van herinnering die verlede instaar en sy bruin bokstas vol lughaweplakkers oopmaak om, soos 'n towenaar, daaruit verlore skatte, van lande, wat onuitspreekbaar klink, op te tower.
Elke keer wat ek blinkgepoetste reisbrosjures deurblaai, klim 'n hartseer in my bors in, soos wanneer die skoolbus vir 'n graadeentjie wegry. Dit is erger as verlatenheid, 'n gevoel êrens tussen agtergeblewenheid en selfverwyt.

So het ek seisoen vir seisoen bly wens dat ek interessante begrippe soos aankomssaal, beenspasie, vlugvertraging, moltrein en jeughostel deel van my ervaringsveld kon maak. Maar soos die begroting nooit wil klop nie (wat is nuut?) skuif die oorsese reis al laer af op die prioriteitslysie.

Reis is so 'n heilige begrip. Om te reis is sekerlik een van die hoogste pieke van genot wat 'n mens kan bereik. Dit sou eintlik hartseer en wreed wees as dit net vir die rykes, gesondes en mobieles beskore sou wees.

Maar ek het besef: om te reis is gelukkig nie net beperk tot vliegtuigritte en besoeke aan vêr en vreemde lande nie. Elke dag behoort 'n reis te wees. 'n Reis na ons wese, ons bestaan.

Daar is soveel vorme van reis. Dit besef ek elke keer wat ek op die Internet ingaan, met 'n boek in die bed klim, deur 'n tydskrif blaai, deur die veld stap, my man se hand om my lyf voel, voor my kas staan en nuwe klerekombinasies uitprobeer - om maar 'n paar te noem.
Al die ervaringe is mini reise wat ons in ons daaglikse lewe kan inkorpereer.

Want die antwoord lê in ontdekking. Solank die moontlike uitkomste vanaf die beginpunt divergeer, solank ons keuses het, kan almal reis.

Die geheim lê daarin - ons moet aanhou droom en glo dat ons 'n verskil kan maak waar ons is. Solank ons nuuskierig bly, aanhou ontdek, bly ons in transit - bereik ons die hoogste status: die van ewige reisiger.

Wednesday, April 9, 2008

"Think back, live today, look forward."

As I drove in my car this advertisement from SABC1 beside the road, with the fragmented heading and the silhouette of a child running carefree, got stuck in my thoughts.

The fragmented straight forward approach of the motto caught my eye. Instantly life is divided into three different paradigms. It is between those three paradigms that we daily place ourselves, that we live in. The present, past and the future.

Daily we have to decide, through our thoughts, actions and attitudes what weight we are going to attach to those three components in our lives.
The importance we give to the different components moulds our relationships, our spirit and that which we ultimately become.

We all have a past, a part of our lives that has gone by. We can't change it, make it worse or better. The only thing we can change is our attitude and thoughts that govern our memories.

The present, the here and now. That is where the challenge lies. It is the palette for our memories. It is happening as we speak, so we can't plan it. While we are contemplating our actions it slips through our fingers.

The future, tactically we will never get there. Like candy floss we will always taste it, but before we are able to grasp its contents it vanishes.

What makes this simple motto so effective is the fact that it assigns a certain weight to all three, to balance our thoughts and streamline our attitudes.

Think back
The way to treat the past. Don't live there, but visit there often through the vehicle of thought. Extract from it wisdom gained through mistakes and failure, brew on pleasant memories, strengthen your soul through memory aids - photo's, writings...
But do not stay too long. It is not a place for the living.

Look forward
It is there where the future lies. The eyes are the window to the soul. It is wise to let the light of the future enlighten the mind. To have a vision, a purpose, to plan with optimism ahead yet staying realistic without underlying pessimism. That is looking forward. You can't look forward if you are not enjoying the present. Looking forward gives perspective, helping us to use the present more wisely. Never visit the future though. Never try to put yourself there with the aim to conquer the future. The future is not to be conquered.

The answer, the missing link to a perfect balance lies in the treatment of the present.
Live today.
Grasp your current situation, use every minute of your day wisely, focusing on what you're doing now, while extracting wisdom from the past and aiming for the future. We will never be able to regret a life lived. Those who live each day die young, regardless of their age.

We only become old once regret has replaced our dreams. Straight forward: when the past and future has switched places. Once that has happened we can't live.

All around us people are stuck daily in the mud of their past failure and pain. Others again, has lost faith in the present, and too scared to live try to build a fictive place in the future. You either hide in the past or the future. There is no hiding place in the present. The present can only be faced boldly, honestly.
Once you start living you will get hurt. But those who have lived once will always be at peace with themselves.

Monday, April 7, 2008

Bagdad

"Every time you kill somebody, you kill a part of yourself."
Soldier in Iraq

"Wat gewees het, dit sal daar weer wees, en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie."
Prediker 1:9

Those who die can tell
the world is turning on itself
a flashback tale of heaven-hell?

the ones we killed
are killing still
they haunt your dreams, they
aim sharp shoot skilled
at those whose lies
created these war cries.

Day by day between these ruins
the sound of war
missile through children's eyes
they say their prayers, last goodbyes
we offer our lives,
bombarding truth for more heroic lies.

Those who died can tell
the world is turning on itself.
Here we stand caught up in time
deceived, betrayed, war becomes the crime.

There is no end they say
life an endless war
fear, greed, power greet the day

In the end unarmed
we fight
our own echoes of fame,
no victory, just shame in sight.

Geskenk

Everyday is a gift from God, that's why it is called the present.

Elke oggend word toegedraai in 'n lagie ongekende moontlikhede, versier met linte kreatiwiteit en energie en word klokslag met die lui van jou wekker afgelewer. Vaak-vaak word die geskenk meestal op "snooze" eenkant toe gedruk, ruggedraai glip die waardering vir nog 'n dag van sekonde-geskenke, uit ons hande.

Tyd is die kosbaarste geskenk wat enigeiemand kan ontvang. Neem tyd van iemand weg en jy spreek 'n doodsvonnis oor die persoon uit. Om te gee is soveel beter as om te ontvang. Dit is eers wanneer die konsep van 'n geskenk van 'n selfstandige naamwoord na 'n werkwoord verander, dat ons gereed is om die seën van God te ontvang.

Jy kan nie 'n geskenk verdien nie. Die oomblik wat jy dit kies of verdien wil jy dit besit, vir jouself hou. Maar die wat hulle lewe wil behou of besit sal dit verloor, want jou lewe, jou tyd is 'n geskenk. Dit is verniet uit God se hand, uniek toegedraai vir jou. Probeer jy dit verdien, sal jy dit verloor, probeer jy dit vir jouself hou, sal dit van jou weggeneem word.

God gee aan jou sodat jy kan weggee. Paulus skryf: "ons maak baie ander ryk, as mense wat niks het nie, en tog besit ons alles."

Jy is die rykste erfgenaam op aarde. Jou koninkryk kan nie in aardse terme beskryf word nie, dit is bo enigeiets wat iemand kan dink of beleef. Tog leef ons soos bedelaars, te bang om die rykdom van God se liefde met ander te deel.

Ons mag onsself maar aansteek om lig te gee in 'n donker wêreld, ons sal nie uitbrand nie.
Ons mag maar ons blare van trots in nederigheid kneus om die geur van liefde te versprei, ons sal nie gewond bly nie.
Ons mag maar kniel en die olie van ons verdienste oor ons medemense se voete uitgiet, ons bronne word deur God aangevul.

Want eers wanneer ons besef - ons is 'n geskenk, 'n geskenk aan 'n donker en onseker wêreld, eers dan begin onsself die dag oopskeur, soos 'n kind met 'n verjaardaggeskenk maak.