The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Sunday, January 3, 2010

Nuwejaar


Reis skep nuwe openbarings. Jy leer jouself ken, leer om met jouself en ander saam te leef. Die vreemde word die enigste realiteit, jou beplanning geskeduleer rondom die vorming van blywende herinneringe.


Vir my bly een van die blywendste openbarings van reis die unieke kulture en gebruike van die vreemde mense waarmee jy in kontak kom. Aanvanklik klink en kom almal so vreemd voor in vergelyking met jouself. Die taal, eetgewoontes, optrede, manier van dink en waardesisteme van bevolkingsgroepe reg oor die aarde is uniek. Jy verstaan nie altyd hoekom mense reageer soos hulle doen, wat hulle motivering is vir 'n sekere optrede nie. Maar dit alles is deel van die belewenis.


Soos mens meer en meer reis begin mens later deur 'n ander bril na mense kyk. Jy besef dat die mens tog 'n universele wese is. Daar is ooreenkomste wat oor kultuurgrense heen strek. Ooreenkomste wat nie bepaal word deur agtergrond, opvoeding of landsgrense nie. Ons almal ken vreugde, verlange, almal wil geborge voel, 'n doelwit om na te streef.


Almal van ons verstaan die taal van hartseer. Ons almal het al vrees in die gesig gekyk. Almal van ons wil op ons kniee gaan in dankbaarheid, maar ook om woorde in afhanklikheid te prewel.


Handdrukke ken geen dialek nie, 'n glimlag het nie 'n tolk nodig nie.


So is dit dan: tussen die verskille bestaan ook die raakpunte. In ons land deurweef met soveel kultuurklere, mag ons in hierdie nuwe jaar ons verskill omhels, want dit maak ons en die land waarin ons woon uniek.

Ons moet leer bymekaar, en gee vir mekaar.


Terwyl ons dan ons verskille omhels, mag ons ooreemkomste raakpunte word. Mag ons sien waar ons die universele taal van liefde en aanvaarding kan praat. Vrede ontkiem nie daar waar jy die mense om jou verander het om in jou raamwerk te pas nie. Nee, dit is daar waar jy verryk kan word uit die diversiteit wat jou omring.


Jy hoef nie met almal en alles saam te stem nie. Bly jouself, wees trots op wie jy is en waar jy vandaan kom. Gun dit vir jouself, maar meer belangrik ook vir die om jou.


Voorspoedige 2010!