The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Sunday, June 12, 2011

Namib Dag 9: Swakopmund



‘n Stukkie Europa in die woestyn

 
Vandag is ons rusdag. Ons albei moet herstel van die goggas wat ons in Namibië beetgekry het. Na ’n hartlike ontbyt en geselsie met die eienaar gaan ons Swakop se strate verken.


Die argitektuur in die middedorp dateer uit ‘n 15 jaar periode rondom 1905. Dit is een van die bes gepreserveerde voorbeelde van Duitse argitektuur buite Duitsland.

 
Ons maak eers ’n bespreking by The Tug restaurant, ook een van die aanbevelings wat ons so tussendeur ons geslesies met mense bereik het. The Tug is naby die jetty, so ons loop sommer daar rond. Die jetty is gebou voor die Eerste Wêreldoorlog, maar omdat Suid-Afrika SWA oorgeneem het na die oorlog is Walvisbaai eerder gebruik vir die doel. Die jetty is dus toe nooit gebruik vir die doel waarvoor dit opgerig is nie. Vissermanne het vir jare dit gebruik as ’n plek om lyne vanaf in te gooi, totdat dit in 1985 onveilig verklaar is. Die jetty is intussen weer herstel.

 
Ons verken die dorpie meestal te voet. Daar is die Woerman-huis, met ’n toring wat jy kan uitklim. Ongelukkig is baie van die plekke toe weens die vakansiedag. Geboue soos die Kaserne, was as barakke gedien het vir die regiment wa die jetty moes bou is alles vandag gedenkwaardighede.

 
Klein winkeltjies, soos die Swakopmunder Buchandlung laat mens nog voel asof mens eerder iewers in Europa is as op Afrika-aarde. Mens hoor oral Duits op straat en baie van die kommunikasie is steeds in Duits.

 
Na ’n hongerloopsessie is middagete welkom. Dit is hoogtyd vir ’n eg Duitse middagete. Ons eet by die Immenheim kombuis. Die schnitzel en goulash sop het Europees genoeg geklink en ons was nie teleurgestel nie.


Die uitsig vanuit die restaurant is op die president se somerhuis – een van die min areas in Swakopmund waar daar gras geplant is.


 
Ons sluit die dag af by die Kristalgalerie. Sjoe, dit is ongelooflik om te sien hou ryk Namibië is aan kristal en semi-edelgesteentes. Die grootste heel stuk kwartz in die wêreld is hier op uitstalling.





Ons sluit ons Swakopmund-ervaring af by The Tug restaurant. Omring deur Duitsers – sommige toeriste en ander locals, vergelyk ons Luderitz en Walvisbaai oesters. Ons gevolgtrekking: dit is die moeite werd om Luderitz om te ry vir daai oesters by Diaz punt.

Namib: Dag 8 Sossusvlei - Swakopmund


Nuwe lewe

 
Ons is weer vroeg uit die vere. Kyk hierdie is beslis nie ’n laatslaap vakansie nie. Ons plan van aksie vanoggend is om bo-op duin 45 te klim en dan van daar bo af die sonsopkoms te beleef. Soos gewoonlik is al my kamera-gereedskap gepak, ons is reg vir aksie. Ek het selfs die warm fles met koffie en oorskiet roosterkoek van die vorige aand vir ’n ontbyt bo-op die duin.

 
Net voor ons by duin 45 uitkom bou die mis op. Ons staan uiteindelik aan die voet van een van die hoogste duine in die wêreld, in die middel van die woestyn, omring deur mis. Ons begin klim, later is ons deurdrenk van die misreën. Soos gewoonlik is ek aan die werskaf om fotos geneem te kry. Mario het vanoggend besluit om sy kamera in sy sak te los – soos hy sê: hierdie is ’n eenmaal in ’n lewe ervaring, geen foto sal dit kan weergee nie.





So halfpad deur my fotoneemsessie heen begin die mis parte met my kamera speel en na ’n ruk kry ek geen foto meer geneem nie. Eers is ek teleurgesteld, maar dit is toe ek begin stil raak dat ek besef: vandag is opstandingsdag, Jesus het opgestaan.


Net soos die son deur die dik mis breek, so het Jesus deur die miswolke wat die dood omring gebreek sodat ons dit nooit weer hoef te vrees nie.


_________________________________________


Terug in die kar kom my kamera weer reg, maar die Here het hard met my gepraat: Riana, jy leef hierdie vakansie vir fotoneem – op elke plek waar jy kom wil jy elke belewenis op kamera vasvang. Het dit nie vir jou belangriker geword om ’n foto te neem, as om net tyd saam met My te spandeer nie?

 
Ek was geskok toe ek besef dat dit presies is wat gebeur het. Dit is so maklik vir iets om te belangrik in ons lewens te word. Net daar en dan het ek besluit dat die res van die dag my foto-vasdag sou wees. Ek wou hierdie dag vir die Here teruggee, en Hom vra om my te help om Namibië fotovry te beleef. (So al die fotos in vandag se bylaag is deur Mario geneem)


__________________________________________________


Oppad Swakopmund toe is die klein pitstop naamlik Solitaire. Solitaire is presies wat die naam weergee – ’n eensame vesting in die woestyn, maar ’n welkome oase.






Hy is op die kaart vir ’n paar redes: soos gewoonlik vir die petrol, verblyf en winkeltjie, maar die belangrikste rede is die een wat jou vir jare later steeds oor Solitaire sal laat praat.


In 1992 het Moosa McGreggor hier begin appeltert bak, om so lafenis aan moeë reisigers te verskaf. Sedertdien het hy nog nooit opgehou nie. Glo my daardie stukkie appeltert was die moeite werd.

 
Na Solitaire is dit net ons en die oop pad al deur die Naukluft Nasionale Park. Die landskap is ongelooflik mooi. Die hele Namibië het ongekende buie reën gehad. By Solitaire het die reënvalinformasie op hulle swartbord aangedui dat hulle in 2010 137 mm gehad het. In Februarie hier jaar alleen het hulle 159 mm gehad, meer as in een hele jaar.


Ons kon dit sien. Die riviere vloei, oral wuif die grasse in die veld.

 
Ons stop kort-kort sodat Mario kan fotos neem (al die fotos by vandag se reis is syne).


Geleidelik raak die plantegroei al hoe yler. Net voor dit heeltemal woestyn raak word ons verras deur Vogefederberg. Ek sou dit nie heeltemal ’n berg noem nie, maar in hierdie geweste sal dit seker as ’n berg kan kwalifiseer. Die rotsformasie is ongelooflik. Ons klouter tot bo en verkyk ons aan die 360˚ uitsig.






___________________________________________


Ons ry Walvis vanuit die woestyn binne. Ek kan nou nie juis sê die eerste aansig was indrukwekkend nie. Ons het gelees van die Raft – ’n restaurant gebou oor die Walvisbaai lagoon op houtstutte. Dit het indrukwekkend genoeg geklink so ons het gaan inloer vir middagete.

 
Die spyskaart het ons monde laat water en die uitsig oor die lagoon met sy pelikane en flaminke was die kersie op die koek.


Met die uitstapslag begin ek gesels met ’n straatverkoper. Hy is deftig aangetrek, kompleet met ’n geveerde hoed en blink hofskoene. Ek vra hom uit: Ja hy is van Herero-afkoms en maak al sy beelde self. Sy ma trek nogsteeds in die Viktoriaanse styl aan.


Sy beelde spreek van die lewe en prentjies waarmee hy groot geword het. Nodeloos om te sê is ons met ’n Herero beeld daar weg.

 
_______________________________________________

 
Ons plan om te kamp het effe verander – ek het ’n verkoue kiem opgedoen (heel waarskynlik by my bedmaatjie gekry, want hy was ook nog besig om te herstel). Die reënerige en winderige weer het ons ook laat besluit om die kamp idee te laat vaar.


Die laaste deel van ons dag was beslaan deur die soektog na akkomodasie. Swakopmund is ’n gewilde vakansiedorp, so ons het by ’n paar gastehuise aangeklop voor Anandi gastehuis weens ’n kansellasie vir ons plek gehad het.

Namib: Dag 7 Sossusvlei



Stilte

 
5 uur, nog stikdonker buite is ons reg vir ons ekspedisie. Ons is gewapen met kameras, water, sonblok, hoede en stapskoene. Daar is klaar ’n ry by die hek van Sossusvlei, maar genadiglik kan inwoners van Sesriem ’n uur voor son-op en ’n uur voor die hekke vir ander toeriste oopmaak by die park ingaan.

 
Ons ry die 65km tot by die vlei in donkerte en ’n opgewonde stilte. Die onbekende lê en wag om ontdek te word. Ons is so 6:45 by die begin van die 4X4 roete. Die teerpad hou hierop en jy moet besluit: of jy ry self die sand in of jy kan van die NWR trokkies gebruik maak. Wyslik kies ons die tweede opsie.

 
Die eerste stop is vir Dooie Vlei. Dit is omtrent ’n kilometer se sand trap om daar uit te kom. ’n Mens sloeg nog oor die sand en dan ewe skielik ontvou die vlei voor mens en ontbloot sy skat soos ’n oesterskulp sy pêrels.

 
Ek stel naarstiglik my driepoot op, bekyk en kan die vlei fyn van alle kante, alles om die beste fotohoek te kry voor die son sy kop oor die duin uitsteek. Voor my lê ’n krater van spierwit kleierige grond, plek-plek breek dooi houtstompe die eenvoud van die landskap en rondom jou is dit die koperrooi duine teen ’n ysblou lug.

 
Ons wag in spanning. Die oomblik wat die son sy strale oor die duine streel moet jy so vinning moontlik begin neem. In daardie oomblik word die landskap voor jou oë getransformeer.

 
Die vlei is enige fotograaf se droom. Ek het gevoel soos Alibaba wat die grot met ’n wêreldskat ontdek het.

 
Na al die fotograwe hulle driepote opgepak het, net voor die toeriste die vlei begin binnestroom het, het ek en Mario die voorreg gehad om vir ’n ruk alleen in die vlei te sit.


Die stilte was tasbaar. Daardie oomblik het vir my soveel meer beteken, want dit was die dag na Goeie Vrydag. Jesus is in die graf. Ons herdenk as’t ware vandag sy dood. Sonder die lewe wat Hy skenk, as Hy in die graf sou gebly het, dan sou my lewe soos hierdie vlei gewees het: droog, sonder enige teken van groei.

 
Om in Dooie Vlei te staan was asof ek in ’n graf was. Die oomblik was Heilig, want ek weet: ek is net hier om in gees die dood van Jesus te gedenk. Dit eindig nie hier nie. Ek kan hier uitstap om môre sy opstanding te vier.

___________________________________________

 
Van Dooie Vlei af klim ons die duin bo Sossusvlei uit. Die wêreld kry ’n ander perspektief. Jy voel klein, ’n spikkeltjie teen ’n horison van soveel verskillende realiteite. Ek kan soos die psalmdigter beaam:


“Wat is die mens dan dat U aan hom dink? Die mensekind dat U na hom omsien?”



Wat ’n voorreg om dan te weet dat al is ek klein, skaars ’n spatsel teen ’n Namibduin dat U my belangrik genoeg geag het om U seun te stuur, U seun wat mens vir my wou word.

______________________________________________

 
Toe ons terugkom by Willem na ons Sossusvlei-ervaring het hy vir ’n verrassinkie gesorg. ’n Pap wiel. Maar ons was voorbereid. Mario het wiel omgeruil en ons is terug kamp toe. Dit was uiteindelik ’n spyker wat vir al die opwinding gesorg het.


Met die wiel omruilsessie het ons behoorlik ’n hele ondersteuningsgroep gehad wat rondom die aksie in die Sossusvlei parkeerterrein gedrom het.

 
Terug by die kamp maak ons onsself reg vir ’n luilekker middag van slaap, lees en afkoel in die swembad.

 

_________________________________________


Die middag benut ons die laaste daglik om die Sesriem canyon te gaan uitklim (of sal ek eerder sê inklim). Die canyon is nie baie diep nie, maar dit is die rotsformasies wat my aandag getrek het. Die kante van die canyon bestaan uit spoelklippe wat lyk of dit in sement vasgevang is. Die naam van die canyon kom van die 6 rieme wat gebruik was om water uit die canyon op te hys. Vir my part kon hulle maar eerder self afgeklim het om die water te gaan haal – dit sou heel waarskynlik vinniger gegaan het.





Ons sluit die aand af om die kampvuur, met die melkweg bo ons en die gehuil van ’n jakkals in die verte.

Monday, June 6, 2011

Namib: Dag 6 Luderitz - Sossusvlei

‘n Ewig veranderende landskap

Ons is stikdonkernag (5 am Namib-tyd) op. Vanoggend is afgesonder vir Kolmanskop. Hierdie dorp se lewensaar was die diamante wat soos klippe in die sand gelê het. Dit was vrylik beskikbaar. Die wat dit opgetel het, het oornag ryk geword, maar toe die diamante opraak was die dorp se gorrelpyp so te sê oornag toegedruk. Geen resusitasie-poging kon die dorp verhoed om te word wat dit vandag is nie: ’n monument-waarskuwing.



Die dorp het ontstaan rondom 1908 as deel van die diamantstormloop. Omdat diamante so volop hier was, was vele mense bereid om hulle hier, in weelde tussen die duine te kom vestig. En ’n gebrek aan weelde was daar beslis nie. Die eerste X-straal masjien in die Suidelike halfrond was hier, ’n volledig toegerusde hospitaal, met amper meer beddens as inwoners. Op die aankopelys van die plaaslike kruidenier was voorraad soos Franse sjampanje, kaviaar en camembert-kaas. Een van die huise het selfs ’n kegelbaan gehad, want nou-ja daar is seker net soveel om te doen hier in die woestyn.


Ongelukkig het die diamante opgedroog. Anders as die Felsenkirche was die huise hier op sand gebou. Dit was nie lank nie of al die inwoners het die weelde agtergelaat. Sonder diamante was daar niks om hulle in hierdie ongenaakbare woestyn te laat aanbly nie.


Toe die diamante opdroog was die dorp se fondament ook daarmee heen.






Vandag is Kolmanskop enige fotograaf se droom. Elke foto dien as ’n getuienis, maar ook ’n waarskuwing: die wat hulle lewens op die sand van rykdom en sukses wil bou moet weet dat daar ’n dag sal aanbreek wanneer al hierdie dinge soos sand deur ’n uurglas sal loop.


Daarteenoor word ons uitgenooi om ons lewens, soos die Felsenkirche, op die rots te bou. Sodat ons lewe ’n getuienis sal wees vir geslagte wat kom, want die wat bou op die Rots vergaan nooit.


Toe ek vanoggend my driepoot in die sand inslaan het ek besef hoe belangrik dit is om elke dag op die Rots te bou, want wanneer ek my lewe op aardse dinge bou word my lewe uiteindelik ’n Kolmanskop.


____________________________________________

Van Kolmanskop af is dit al die pad terug soos ons gekom het, weer oor Aus. Soos pelgrims pak ons die woestynroete aan. Amanda Strydom sing haar Pelgrimslied terwyl die woestyn aan weerskante by ons verby speel:


“Elke pelgrim kom weer huis toe ... lei my Heer vanaand na U boarding huis.”


Hier in Namibië strek die paaie tot teen die horison, soos ’n slang seil hy voor ons uit. Ons kry hom nooit gevang nie. Daar is altyd ’n plek verder aan wat wag.


20 km voor Aus raak die petrol op. Ons wou vanoggend in Luderitz petrol ingooi, maar moes hoor dat die petrolpompe eers 8 uur oopmaak. Ons kon nie wag nie. ’n Reis deur die Namib word rondom petrolpunte beplan. Jy moet altyd spaarpetrol by jou hê. Ons het ook gou besef dat die grootte waarmee ’n landmerk of dorp op ’n kaart aangedui word nie bepaal word deur die grootte van die dorp nie, maar die beskikbaarheid van petrol op daardie plek. Te danke aan die spaar petrol in die jerry can (ons het duidelik al die raad in die Weg gevolg), word hierdie ’n foto-oomblik en nie ’n krisisoomblik nie.


Gelukkig kom Aus vinnig nader. Ons maak vol en hervul die magies by die Bahnhof hotel. Die hotel is rondom 1904 gebou, het in 1940 afgebrand, is iewers in die 50’s weer herbou en in 1996 gerestoureer. Ons eet ’n hartlike ontbyt kompleet met plaasbrood.


__________________________________________

Net anderkant Aus betree ons die Bethanie-distrik. Van hier af is dit net grondpad. Ons het al oor die 2260 km van Johannesburg af agter die rug. Ons verkyk ons aan die interessantste rotsformasies. Van vêr af reeds rond ’n perdekarretjie teen die horison die prentjie af.


Ons stop en ek hardloop vooruit om fotos te neem, want hier is die rykste belewenisse die wat jy nie met geld kan koop nie, soos ’n perdekarontdekking.





Hulle is ook oppad Helmeringhausen toe (hopelik gaan hulle bietjie langer vat om daar uit te kom as ons) – vir hulle is dit ’n dagreis vêr.


_____________________________________________

Hoe lyk Helmeringhausen toe? As jy al ooit gewonder het hoe lyk ’n dorp met net een teer straat, daar het jy dit.


Let wel die dorp het alles waarvan ’n moeë reisiger kan droom – daar is ’n hotel, teetuin, petrolstasie en ’n winkel wat alles verkoop van ’n skroefie tot braaivleis.


___________________________________________

Vir die volgende uitstappie durf ons, ons eerste D-pad aan. Ons volgende stop is die Duwisib-kasteel. Ja, jy het reg gelees, ’n kasteel in die middel van die Namib. Die kasteel is in 1909 voltooi deur von Wolf en sy Amerikaanse vrou. Hy en sy vrou het vrywilliglik besluit om hulleself in Namibië te vestig na hulle in 1907 getroud is. Sy was van ’n welaf familie en hulle het besluit om hulleself met weelde hier in Afrika te omring. Die kasteel is in ’n rekordtyd van twee jaar voltooi. Hulle het selfs Italiaanse steenmakers ingebring om met die taak te help.






Die kasteel, het soos soveel ander strukture in hierdie geweste ’n tragiese geskiedenis. Von Wolf en sy vrou het met stoetperde geteel. Hulle het op ’n dag besluit om perde in Europa te gaan aankoop en is weg met ’n skip om die taak te gaan voltooi. Terwyl hulle op die skip is breek die Eerste Wêreldoorlog uit. Von Wolf was patrioties en het gevoel hy wil vir Duitsland gaan veg. Hier het hulle paaie geskei.


Die eerste geveg waarin hy veg, sneuwel hy toe. Sy vrou het nooit weer na Namibië teruggekeer nie. Sy het nie eers enigsens die eiendom of inhoud van die kasteel ooit opgeëis nie. Vir jare het die eienaarskap van die kasteel rondgeswerf, tot die regering die kasteel gekoop het en as museum ingerig het.






______________________________________________


Die laaste petrolpomteken op die kaart voor Sesriem is by Betta. Jy moet pasop, want jy sal verby Betta ry sonder dat jy dit weet. Dit is op ’n plaas geleë – daar is ’n winkel, kampeerplek en petrolpomp en dit is hoekom mens dit op die kaart kan vind.


Die skoonheid van die landskap tussen Betta en Sossusvlei laat my aan ’n Drakensberg prentjie dink. Ons ry tussen die Nubbibberge en Losberge deur. Verras om oral Springbokke, en selfs twee keer jakkalse te sien.


Skoonheid in Namibië lê in eenvoud. Die natuur streel die oog en elke lyn kom homself in die geheue ingraffeer.


Die natuur speel oop kaarte, niks mensgemaak wat die aandag aflei nie. Tog word mens telkemale getroef – om elke hoek en draai is iets onverwags.


Na 9 ure op die pad kom ons by Sesriem aan. Ons kry kampplek nommer 5 met ’n boom wat karakter gee aan ons nuwe tuiste.

_____________________________________________


Die kamppeerplek word regeer deur ’n paar lewende wesens. Eerstens die versamelvoëls wat in swerms neersak op enige broodkrummel wat in die kampplek rondlê en soos ons later die nag sou uitvind: Jan.


Jan is ’n werknemer van die Namibiese Parkeraad. Hy het ’n tuiste in die middel van die Sesriem kampgrond – dit opsigself spel al probleme. Teen drie uur die oggend was Jan en sy vriende behoorlik gekuier (hulle was duidelik nie van plan om so vroeg soos ons die volgende oggend op te staan nie).

Mario is vort om die sekuriteitsbeampte te gaan soek. Selfs sekuriteit was maar lugtig om Jan aan te vat – hy is blykbaar ’n gereelde probleem personeellid. Nietemin het hy sy moed bymekaar geskraap en kon ons darem ’n paar ure onverstoorde rus kry.



Volgende: Ons staan in Sossusvlei..

Sunday, June 5, 2011

Namib: Dag 5 Keetmanshoop - Luderitz

Geen land so vêr of woes geleë..

Onder ekstreme omstandighede kom mens se ware karakter na vore. Dit is nie wanneer dit goed gaan dat mens werklik kan bepaal waartoe iemand instaat is nie. Maar wanneer die onverwagte gebeur en mens beproef word leer mens iemand werklik ken.


Hierdie land, waar omtrent net 2,1 miljoen mense bly, moes sekerlik die mees ywerige ontdekkersreisiger se uithouvermoë to die uiterste beproef het.


_________________________________________

 
Ons besoek vir oulaas weer die kokerboomwoud. Die oggendlig op die takke bring weer ’n nuwe perspektief aan die woud. Elke boom het sy eie knoets, lengte, breedte en windrigting wat aan hom karakter gee. Hulle dra saam met hulle die boodskap dat enige woestynbeproewing oorkom kan word. Dat jy die woestyn jou tuiste kan maak, die merke en tekens sal jy vir altyd aan jou lyf dra, maar as jy jou wortels diep genoeg in die aarde inslaan sal jy hier kan bly staan.


_____________________________________________

Die Seeheim hotel is by ’n stasie, op die spoorlyn tussen Keetmanshoop en Luderitz opgerig. In 1996 is die hotel gerestoureer, ’n woestynjuweel so tussen niks en nêrens. Ons het afgedraai om te gaan kyk.


Dit is uiteindelik die mense wat hierdie reis spesiaal maak. By Seeheim hotel, 42 km anderkant Keetmanshoop ontmoet ons vir Zirkie Kloppers. Hy vra ons om hom te help om sy faksmasjien se ink te ruil, nog voor ons enigsens iets vir ontbyt kan bestel. Sy vrou is in dorp toe en die man moet dringend iets gefaks kry. Na ’n pot koffie en geroosterde boerebrood het hy vir ons die kortpad tot by die teer beduie en sy nommer vir ons neergeskryf, want soos hy sê: “Bel net as julle hulp nodig het. Ek ken mense oral oor Namibië.” Dit mag dalk net handig wees.


_____________________________________________
Ons volgende onbeplande stop is in Aus. Soos meeste van die dorpies hier het dit ontstaan rondom ’n fontein. Tydens die Eerste Wêreldoorlog is Duitse troepe hier in interneringskampe aangehou. Die prisonierkamp en grafte is hier te sien. Ons tyd was min, so ons het maar net by die inligtingsentrum gestop (om die gewete te sus). Die inligtingsentrum het ons beïndruk. Daar is groot fotos teen die mure wat die geskiendenis, fauna en flora van die area uitlê.


Op aanbeveling van die inligtingsentrum se helpers draai ons by Garub pan af, in die hoop om kennis te maak met die wilde perde van die Namib. Ons hoop was nie beskaam nie. Daar was ’n hele trop. Een van die wilde hingste het omtrent ’n vertoning gelewer – dit het nie gelyk of hy baie gewild was onder sy mede perdevriende nie.






________________________________________________

Buite Aus maak die woestynbossies plek vir ’n maanlandskap. Ewe skielik word mens omring deur woestyn. Borde langs die pad waarsku – moenie afwyk van die pad nie, moenie eers uitklim nie, want aan die linkerkant is spergebied. Die publiek mag nie eers langs die pad stilhou nie, want wie weet ’n diamant mag dalk net per ongeluk in jou hande beland.


Hiervan getuig die huisie by Gratzplatz. Die eerste diamant in die area is hier ontdek. Die werker van ’n Duitse offisier het die klippie in die sand opgetel, en daarmee sy werkgewer oornag skatryk gemaak.


Namibiese diamante is van die hoogste kwaliteit in die wêreld.


______________________________________________

Om Luderizbucht binne te ry is amper soos om deur ’n rillerfliek se aanloop te leef. Die landskap oppad daarnatoe is onherbergsaam, dit lyk soos ’n maanlandskap.


Luderitz verskyn aan die eindpunt van ’n landskap van sand en nogmaals sand.


Ons bly oor by Haus Sandrose – die vrou wat dit bestuur wys ons met trots die 14 skilpaadjies wat sy grootmaak. Dei plekkie is netjies met ’n duidelike Europese gevoel daarop afgedruk.


Ons maak ’n draai by Luderitz safaris en informasie om ’n permit vir Kolmanskop te kry. Ons kry ’n permit vir die volgende dag van sonop to sononder.


Die res van die dag word opgeneem deur ’n besoek aan Goerke-huis. Die huis is gebou in 1909 deur ’n Duitse burger vir sy vrou Luise. Hulle het self net 2 jaar daar gebly voor hy terug is Duitsland toe. Vandag is die huis ’n museum, wat steeds van tyd tot tyd deur die hoër lui van die regering as oornagplek gebruik word.


Die Felsenkirche staan op rots. Die kerkie toring uit oor Luderitz en die prentjie word afgerond met die see wat in die agtergrond teen die rotse klots.




___________________________________________

By Diaz punt waai ons amper weg. Ek moet sê: ek het respek gekry vir die seevaarders van ouds. Hulle moes werklik die wind en gure weer trotseer het om nuwe plekke te kon ontdek. Hulle lewens was op die spel. Dit alles om die onversadigbare behoefte na die oorwinning van die onbekende te bevredig.

 Ons trotseer die wind om fotos te neem daar waar Diaz vir die eerste keer op Kersdag in 1487 aan die Namibiese kus aan wal gegaan het. Om ons oorlewing te vier drink ons ’n glasie wyn en eet Luderitz-oesters, vars uit die see.


’n Oester sal nooit weer hierna dieselfde proe nie.

 
_________________________________________

Ons sluit die aand af by Ritzi’s restaurant. Al het die onpretensieuse plekmatjies buffels en leeus op is dit tog ’n seekosrestaurant. Ek het in my lewe nog nie so groot seekosplatter vir twee gesien nie. Ons het tot die volgende dag nog middagete aan die die oorblyfselfs gesmul.



Saturday, June 4, 2011

Namib: Dag 4 Kgalagadi - Kokerboomwoud (Keetmanshoop)



‘n Warme welkom


Vanoggend was on eerste kampafslaan poging. Ons het 45 minute gevat om op te pak. Glad nie sleg nie, maar die volgende twee weke sal leer of ons op hierdie rekord sal kan verbeter.


Ons moes ’n hele ent ry van Twee Rivieren af tot by Mata Mata, waar ons deur die grens moet gaan. Ons wou graag by Mata Mata slaap, sodat ons vinniger in Namibië kon uitkom, maar dit was heeltemal volbespreek. Ons was teleurgesteld, maar wanneer ons terugkyk op alles wat ons gesien het tydens die rit tot by Mata Mata, weet mens als gebeur vir ’n rede. Ons het in daardie kort entjie leeus, twee keer jagluipers en bakoorjakkalse gesien – net om die karnivore te noem.


Natuurlik moes ons weer piekniek hou. Hierdie keer pak ons die Cadac uit onder ’n massiewe doringboom. ’n Mens kon aan sy gebarsde bas sien, hy het al die toets van tyd hier in die Kgalagadi weerstaan. ’n Mens kan nie anders as om in verwondering en respek te staan voor enige lewende wese wat deur die seisoene heen hier kan oorleef nie. Die wind en son laat sy spore hier op elke skepsel wat homself hier vestig.






_____________________________________________





Ons betree ’n nuwe wêreld by Mata Mata. Vir die eerste keer hou ek ’n Namibiese twintig dollar vas, die winkeltjie maak toe oor middagete en die grensbeampte vra of sy ’n geleeentheid Keetmanshoop toe kan kry. Met ’n stempeltjie in ons paspoorte betree ons hierdie ampervergete deel van Afrika.






Namibië is soos die weeskind van Afrika. Namibië haal nooit die nuus nie, meeste mense glo dat daar nie veel in Namibië gebeur nie. Hier is meer land as mens. Die oomblik wat mens oor die grens ry is dit asof jy die horlosie ’n paar dekades terug draai.


Letterlik moes ons ons horlosies ’n uur terug draai, maar die tydsverskil tussen Suid-Afrika, waar ons elke dag van punt A na B jaag, in die stryd om oorlewing, is veel meer as net ’n uur.






_______________________________________________




Die Sitzas padstal – nog een van die juweeltjies wat die Weg van geskryf het. ’n Paar honderd meter anderkant die grens draai mens af. Ongelukkig is hulle ook toe oor middagete, maar ’n vriendelike nota in die venster nooi mens om ’n draai by die plaashuis te kom maak sou hulle toe wees. Ons moes vleis koop en ja, nou wel met die onbekende wat voor ons lê het ons gevoel dat dit wyser sou wees om maar eerder hier ons proviant aan te vul. Dit was inderdaad ’n goeie besluit (daar was nie weer ’n winkeltjie tussen die grens en ons oornagplek nie).


___________________________________________





Van hier af is dit ons en die oop Namibiese pad. Die paaie hier word aangedui met ’n letter: B roetes is geteer, C is ’n goeie grondpad, D is kleiner meer riskante grondpad.






Ons ry met die C17 in Keetmanshoop se rigting. Om op hierdie pad te ry voel asof jy in ’n skip op die see is – oor die een heuwel na die ander. Af en toe seil ’n boer by ons verby en al is hierdie ’n hoofpad, groet elke verbyganer vriendelik. Hier is seker so min mense dat almal glo hulle moet mekaar ken, of dalk is jy so bly om ’n ander aardbewoner raak te “ry” dat jy van pure vreugde waai.


Buite Koës stop ons by ’n pan, of so spekuleer ons, want volgens die kaart is daar ’n pan in die omgewing. Ons vergaap ons aan die wit gebarsde sand en klipstapeltjies.



___________________________________________





Oom Giel van die Messosaurus fossielpark is ons eerste kennismaking met Namibiese gasvryheid. Sy eerste woorde aan ons: “Ai ek is so bly julle praat Afrikaans, my tande is al stomp Engels gepraat.” Ons sou later besef: dit is omdat soveel van die toeriste in Namibië uit Europa kom.






Hy vertel van die Messosaurus fossiel op sy plaas wat die teorie van die drywende kontinente ondersteun (die ander Messosaurus fossiele is in Brasilië gevind). O ja, die Messosaurus is ’n krokodilagtige kreatuur.


Ons ry weg met ’n warme wete – Namibië se kosbaarste bate, sy grootste edelsteen is sy mense.




___________________________________________





Ons kennismaking met ons oornagplekkie: Quiver Tree Forest Lodge is hulle jagluiperdvoersessie. Hierdie is die Spier van Namibië. Jy kan hier oorbly, deur die Kokerboomwoud loop en vir die jagluiperds kom kyk.

 Ons beland summier tussen ’n klomp Duitsers en Franse wat die jagluiperds afneem asof hulle nog nooit een gesien het nie – ek het nes een van hulle gelyk. Ek is seker ek het die meeste fotos geneem.

 
Janine, wat ook ons bespreking hanteer het en later ons ingeboek het in die hotel het die voersessie hanteer. Hulle luister soos gehoorsame honde na haar, ons kon selfs in die hok ingaan en baie naby staan terwyl hulle vreet.






Ons slaap in ’n Iglo-huisie, in die woestyn. Dit klink amper nie reg nie. Die gedagte om in ’n ronde struktuur te slaap het my nog altyd gefassineer. Nogmaals het ons saam met ons ’n reënbui die Namib ingebring. Ons was vas oortuig dat ons nie ’n mooi sonsondergang in die Kokerboomwoud sou sien nie, maar ons wou nogtans probeer. Wat ’n verrassing was dit nie. In ’n oogwink was my en Mario se asems heeltemal weggeslaan. Hierdie oomblik was heilig: hierdie was een van hulle.


Ek kan aan baie beskrywende woorde dink waarmee ek kan poog om te beskryf wat ons gesien het. Maar almal sal tekort skiet om die volle sintuiglike ervaring op papier saam te vat.






Al wat ek kan sê: ’n duisend kokerbome teen ’n sonsondergang, ’n gesig wat geen geld kan koop nie.

Thursday, June 2, 2011

Namib: Dag 3 Kgalagadi

Verrassings

 
Hoekom is mense bereid om vir ure op ’n grondpad te ry en stip in die veld in te kyk? Hoekom is mens bereid om tyd, petrol en jou kosbare slaap (ja, ons het vanoggend 5:30 opgestaan) op te offer vir ’n wiltuin-bos belewenis?


Dit is daardie onverwagte maanhaar wat luilekker uitspan, salig onbewus van die opgewondenheid wat hy veroorsaak. Die klein veldgebeurtenisse soos ’n zebrakalf wat aan sy ma drink, wat jy vir ’n oomblik die voorreg het om van deel te word.


Ons was gelukkig vandag, daar was vele veldverrassings: bakoorjakkalsies, dwergvalke, ’n jakkals, waaierstertmeerkaaie om maar net ’n paar te noem. Hoe rustiger mens ry, hoe meer moeite jy doen om te kyk hoe meer raak die verrassings. Dit is asof die veld homself vir jou oopbrek. So is dit met die lewe ook. Wanneer mens rustig raak, kognitief besluit om dinge te waardeer staan mens telkens verbaas om te sien hoeveel klein verrassinkies elke dag op mens wag. Die lewe verkoop homself nie in groot maat aan mens uit nie, hy hou nie uitverkopings nie. Nee, die lewe gee net elke dag genoeg vir een dag se geniet. Genoeg vir die oomblik, want dit wat jy nie vandag geniet nie is môre weg, jy kan dit nie bêre vir later nie.






_____________________________________________





Ek weet ek is op vakansie wanneer:


• Ek my horlosie afhaal


• My foon afsit


• My dagboek leeg is, geen onthoulysies of afsprake nie


• Ek nie my wekker hoef te stel nie


• Die mees arbeidsintensiewe oefening van die dag is om fotos te neem


• Ek al die bogenoemde doen sonder om skuldig te voel


Wanneer ek so na dit alles kyk sien ek een goue draad deur alles loop – tyd. Om tyd tot jou beskikking te hê, tyd waarvoor jy aan niemand anders verantwoording hoef te doen nie. Tyd om jouself weer te kan hoor asemhaal. Dit is vakansie.


_____________________________________________


Nog een van die bosvreugdes is om piekniek te hou in ’n natuurreservaat. Die gedagte dat jy uitklim en jou voete neersit op ’n stukkie aarde omring deur wilde diere wat vir jou mag loer en dan ewe non-chalant jou gasbraaiertjie aansteek vir ’n brulontbyt van spek en eiers is genoeg om enige Wimpy ontbyt sand in die oë te skop. Ons stop by die Auchterlonie vir ons ontbyt. Op die perseel is ’n plaashuismuseum. Na die Eerste Wêreldoorlog het die regering vir boere grond in die Kgalagadi gegee. Dit was ’n harde lewe. Meeste van die boere het uitgeboer en was uiteindelik uitgelewer om van die veld te leef. Hulle is in 1931 na die Suide hervestig tydens die proklamasie van die Kalahari Gemsbokpark. Al wat vandag oorbly is ’n kliphuisie in memoriam aan die swoeg en sweet wat hierdie aarde van hulle geëis het.


Wednesday, June 1, 2011

Namib: Dag 2 Upington - Kgalagadi

“Doesn’t every feeling judge an experience in relation to a need? For example, the disappointment of a thirsty man when he finds that the water he wants to drink is salty. Or the feeling of relief a man experiences in the cool shade of a hillside out of the burning sun. Could one in fact go further and say that the need was first made conscious by the feeling?”

Henno Martin – Sheltering Desert

 
Waar daar water is…


Soos mens deur die Kalahari ry kan mens nie anders as om te besef hoe groot rol water in hierdie mense se lewens speel nie. Oral waar daar selfs net ’n gerug van water is word die plek beloon met sy eie naam. Met die gevolg dat die name in die kontrei meestal een of ander vorm van water beskryf. Daar is Rietfontein, Verneukpan, Rooipan, Soutpan – name wat mens laat wonder wat op daardie spesifieke plek plaasgevind het om die plek so ’n naam te laat verdien. Dit waarna mens hunker in die lewe, dit wat vir jou die belangrikste is sal bepaal waar jy jou festings sal bou. Daar waar water is – daar staan ’n windpomp as baken sodat almal sal weet: hier is hoop, hier is lewe. Jou lewe kan ook ’n windpomp van hoop wees – almal sal dan kan sien dat jy elke dag uit die fontein van Lewe leef.





__________________________________________


Ons het vroegdag al die oop pad gevat. Daar is min vreugdes wat kom by ’n dag wat soos ’n skoon blad voor jou lê. Geen voorafbeplande dagboekafsprake wat die aandag wil aflei nie. Dit is net jy en hierdie dag. Die dag gaan homself in jou lewe inskryf.


Ons ry rustig. Stop langs die pad om die versamelvoëlneste af te neem en by Ashkam om vleis van die kontrei te koop vir die Kgalagadi braai onder die sterrehemel.




Teen middagete slaan ons kamp op by Twee Rivieren. Hierna gaan soek ons ’n ou koeldrankie om die dors te les. Die winkeltjie lyk nes soos die in die wildtuin – kompleet met dieselfde souveniers wat so tussendeur alledaagse benodighede uitgestal word. En net soos met die wildtuinwinkeltjies – net so onbekostigbaar (ek kon darem Mario se arm draai vir ’n Kgalagadi-magneet).


_______________________________________________

Die Kalahari spog met ’n gemiddeld van 10 donderstorms per jaar. Reën hier is ’n gebeurtenis wat net ’n paar keer per jaar plaasvind, so wanneer dit plaasvind is dit ’n okkasie. Donker onweerswolke pak vroegmiddag dik teen die horison saam en dan is daar die donderweer. Van vêr af kondig die reën homself aan. Ons was bevoorreg genoeg om een van hierdie okkasies te beleef – in ’n tent. Glo my dit is ’n naelbytervaring wanneer donderweer, rukwinde en koeëlgrootte reëndruppels beurte maak om jou deur die nag wakker te hou. Helaas, ons het genadiglik droog die volgende môre wakker geword. Hierdie oorlewing het my nuwe respek vir ons tent gegee en ons het haar summier gedoop: Storm, Queen of the Kalahari.


__________________________________________



Volgende: Wat maak die Kgalagadi so spesiaal?