The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Sunday, October 18, 2009

Rugby-koors

In die 5 jaar vandat ons getroud is het ons nog nooit voor die televisie geeët nie. Elke aand word die tafel gedek, kerse opgesteek en eet ons van aangesig tot aangesig. Want, ek glo, om saam te eet is heilig, ons deel met mekaar die voorsienigheid van die Heer. En ja, dit is partymaal al tyd in die dag wat ons het om te hoor wat vandag in elkeen se afsonderlike lewens gebeur het.
En ek kook nie kos om onwaardeerd saam met die 8uur nuus afgesluk te word nie.

Vir al hierdie redes en nog vele meer het ons dit nou al vir 5 jaar reggekry om van elke aandete saam 'n okkasie te maak.

Maar soos dit met alle reëls maar is, 'n reël is gemaak om gebreek te word...

Nooit sou ek dan ook raai dat dit voor rugby sou wees wat ons saamwees-eet die knie sou moes buig nie.

Hierdie Saterdag het dit toe nou gebeur. Semi-finaal - Blou Bulle, ai hulle het ons behoorlik naels laat kou.
Getrou sit ons met Bl0u Bul T-hemde voor die kassie. Eerste helfde nie te sleg nie.
So halfpaddeur begin ek goed honger raak. Mario stel voor om maar die vleisbraai so halftyd-deur in te pas. Dit is 'n op0ffering, ek weet. Hy het boonop 5minute van die tweede helfde a.g.v. daarvan gemis.

So êrens moes ek seker ook maar ingee. Ek was buitendien te honger om tot na die tweede helfde te wag. Die biltong en chippies was toe al lankal maag toe.

Voor die televisie moes dit toe maar wees. Heel feestelik het ek die televisie-skinkbordjies met blou matjies gedek. Die kerse moes ongelukkig agterweë bly. Vasgenael het ons verby die rouerigheidjie in die vleis (weens die beperkte braaityd in halftyd) gefokus op dit wat saak maak.

Gelukkig het die Blou Bulle gewen. Anders was ons TV-aandete net 'n bron van slegte spysvertering.

So, wat dink ek van voor die TV eet. Nog presies dieselfde. Dis 'n euwel.
Maar, soms kom jou man se Blou Bul Hart eerste.

Maak nie saak hoe sterk mens oor iets voel nie, mag dit nooit ten koste van almal rondom jou se geluk en vreugde wees nie.