The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Monday, April 30, 2012

Mammas

Mei- maand is tradisioneel die maand van die Mammas, met Moedersdag reg in die middel van hierdie maand wat so tussen die somer en winter staan. Ja, daar is beslis ‘n argument vir die kommersialisering van dae soos Moedersdag, Valentynsdag, Vadersdag en so meer. Tog wil ek bly glo dat daar waarde in sulke dae is. Sonder om veel geld uit te gee, bied dit tog ‘n geleentheid om vir geliefdes te wys en te laat voel hoe spesiaal hulle is. Dit neem geensins die plek in van voortdurende respek en volgehoue betuigings van liefde dwarsdeur die jaar nie.


My eerste herinneringe aan Moedersdag is my ontbytpogings op Sondae-oggende. Ek moes altyd vroeg opstaan, dit was een van die min kere wat ek, in my kinderdae, ‘n wekker moes stel. Dan moes ek saggies kombuis toe sluip, sodat Mamma niks hoor nie. Nie dat sy nie uiteindelik wakker geword het van al die gewerskaf in die kombuis nie, maar dit was die idee wat getel het. Ek kan glad nie onthou wat daardie jare op die spyskaart was nie, maar ek onthou die beplanning, die blommetjies op die skinkbord en die handgemaakte kaartjie.


Noudat ek self ‘n mamma is kry al hierdie herinneringe nuwe betekenis.


Nou die dag ontdek ek ‘n gedig, waarvan ek eintlik al vergeet het op die agterkant van my Ma se kamerdeur. ‘n Gedig wat ek een Moedersdag self vir haar geskryf het. Ja, ek het al daarvan vergeet, maar sy het dit onthou en bewaar dit nou nog óp ‘n plek waar sy dit elke dag kan sien.






So aan al die Mammas – hierdie is spesiaal vir julle:






Mamma


Jy weet waar om my te kry as die stukke


in my nie meer wil pas.


Waar hulle die beste gom verkoop


wat hartseer en geluk aanmekaar kan las.






Jy ken die pad wat woorde deur jou


ore loop om by verstaan uit te kom


en hoe lank dit soms vat


vir my om terug te luister






Eintlik kan ek nie skryf, my woorde so leeg


êrens het ek diep in die skuld geraak


my dankies te min, my eise te veel.


Ek moet bely – by bankrot is ek lankal verby


maar selfs daarvoor het jy begroot


vroegtydig polisse uitgeneem,


my rekening gekrediteer.






Nou staan ek hier en weet selfs al gee ek so min


en vergeet soveel keer,


jy verstaan in liefde en met liefde


soos altyd weer.






Tuesday, April 17, 2012

Boeke

Ek het grootgeword tussen boeke. Van my helderste kinderherinneringe is geweef rondom boekervarings. Ek onthou die tweeweeklikse uitstappies na die bibioteek. Die kinderafdeling was opgedeel in ‘n Engelse en Afrikaanse afdeling. Ek kon 3 boeke self kies en Mamma het altyd een boek met meer opvoedkundige waarde gekies. Ek het altyd die boeke met die mooiste prentjies gekies en dan was daar die Peter Rabbit boeke. Hulle het anders gelyk: hulle was klein, pienk en die tekeninge was net mooier as die van die ander boeke.
In my laerskooldae het ek self-lees ontdek. Die Saartjie-reeks het grootliks hiertoe bygedra. Ek kon myself inleef in al Saartjie se avonture, daar het nie ‘n dag verbygegaan wat ek nie gewens het dat ek so ‘n opwindende lewe soos sy kon gehad het nie.


Elke boek was ‘n avontuur. Dit het nie saak gemaak dat baie van die biblioteekboeke se bladsye al donkieore gehad het en meeste rugkante se integriteit in die hande van ‘n paar stukke kleefband gehang het nie.


Vandat ek my eie geld begin verdien het was ek altyd opsoek na ‘n boekfonds. ‘n Boekuitverkoping het my hart nog altyd ‘n ekstra kloppie van opgewondenheid gegee. Ek kan vir ure snuffel opsoek na daardie boek, wat ek nooit eintlik sou gekoop of gelees het, as dit nie vir die uitverkoping was nie.


Ek geniet alles omtrent ‘n boek. Die reuk daarvan, die tyd wat julle in mekaar se geselskap deurbring, die voorreg om deel van iemand se gedagtewêreld te word, sonder om een vraag aan die ander persoon te vra. Ek versamel boeke – stal hulle met trots uit, soos juweelstukke.


En toe kom die Kindle.
Eers wou ek niks weet nie. Hoe kan ek my lojaliteit aan die goeie ou papierboek verruil vir ‘n digitale leeservaring? Met my kop het dit sin gemaak – die Kindle is omgewingsvriendelik (minder bome word vir my leeservaring afgekap), op die langtermyn goedkoper, dit neem minder ruimte in, ek het altyd ‘n boek in my handsak…. Ja, met my kop het die Kindle sin gemaak, maar ai my hart het bly stry.


Toe kom die omkeerpunt. Mario koop vir my ‘n Kindle vir my verjaardag laas jaar. Nou ja, toe kon ek nie anders nie, ek moes maar ingee.


Anders as wat ek gedink het voel ek darem nie te veel na ‘n boekverraaier nie.


Ek lees nou meer as ooit te vore en dit hoef net een borsvoedingsessie te neem om te besef dat die Kindle ideaal is. Jy kan hom met een hand beheer, wonderlik!


Ek sal altyd my boeke hou en geen Kindle sal ooit my boekherinneringe kan vervang nie. Tog weet ek vandag – die Kindle het sy eie plekkie in my hart oopgeskop en maak nie saak in watter vorm nie, uiteindelik bly die ervaring van lees tog die gevoel wat altyd sal wen.


Saturday, April 14, 2012

God van klein dingetjies


(Hierdie boodskappie kom reguit van tannie Ansie af)


Elke dag wanneer ek om my kyk staan ek verstom hoe God alles beheer. Die seisoene, natuurwonders, die ontstaan van ‘n nuwe lewe. Alles is fyn beplan, perfek ontwerp, presies uitgevoer. Net die ontwikkeling van ‘n klein babatjie alleen is genoeg om ‘n mens se asem weg te slaan. Ons dien voorwaar ‘n wonderlike en Almagtige God.


Wat dit nog meer ongelooflik maak is dat hierdie Almagtige God nie net belangstel in die groot dinge nie. Hy het ook tyd vir my as mens. Hy wil in ‘n verhouding met my staan. Daarom wil hy graag alles van my weet – die kleinste detail. Ek wil ook graag glo, dat soos ‘n mens graag iemand vir wie jy liefhet af-en-toe wil bederf, so wil Hy dit ook graag doen. Boonop ken hy ons so goed dat hy presies weet wat vir jou ‘n ware bederf sal wees. Dit is dalk daardie winskopie wat jy raakloop, ‘n baba se glimlag, die vrede in jou hart na jy jare lank met iets geworstel het, die ontdekking van klein voorregte. Daar is so baie, te veel om op te noem.


God praat elke dag met ons. Ek dink so dikwels aan Elia wat op die berg gestaan en wag het om te sien hoe God Homself sou openbaar. Dit was nie in die storm nie. God het nie met ‘n groot basuingeklank gekom nie. Hy kon as Hy wou, maar Hy kies dit nie altyd nie. Nee, dit is heelpartymaal in stille eenvoud wat ons Hom vind.


Soms dink ek ons kyk net nie hard genoeg nie.

Monday, April 2, 2012

Die pienk kassie

Jare gelede het ek die amuserende verhaal gelees van ‘n vrou wat die ma van ‘n stuk of 10 kinders was. Sy was ‘n goeie moeder – altyd geduldig en liefdevol. Weens haar man se werksomstandighede moes hulle gereeld rondtrek. Elke treksessie was sommer ook ‘n geleentheid om van alle onnodige items ontslae te raak. Deur die jare was daar een ou itempie wat maar altyd saamgetrek het: ‘n pienk kassie, wat altyd staanplek in die volgende huis se badkamer gekry het. Te midde van skimpe van haar man se kant af dat die ou kassie tog maar een of ander tyd met die volgende trek uitegooi moet word het hy gebly. Jare later, toe al die kinders al almal mooi groot en uit die huis is, het die kassie nogsteeds vaalpienk, afgedop en met ‘n hele paar duike in die badkamer gestaan, een van die enigste items wat al die jare van rondtrek oorleef het (tot almal se frustrasie).


Op die vrou se 70ste verjaardag, omring deur geliefdes en natuurlik die 10 kinders wat sy met soveel toegewydheid grootgemaak het, het hulle vir haar gevra:


“Ma hoe het ma dit reggekry om altyd so geduldig, toegewyd en liefdevol te bly, te midde van 10 kinders wat Ma grys hare wou gee.”


Haar antwoord:


“Dit was alles te danke aan die verwensde pienk kassie in die badkamer, want sien – elke keer as ek een van julle wou te lyf gaan, of iets onverantwoordelik wou doen het ek dit eerder op die pienk kassie gaan uithaal en julle gespaar.”


Min het hulle geweet hoeveel te danke was aan die pienk kassie.


Ons almal het ‘n pienk kassie nodig. Iets waardeur ons, ons frustrasies kan uitleef, kan asem skep, sodat ons die lewe weer deur nuwe oë in die gesig kan kyk. Vir sommige kom dit in die vorm van ‘n sessie in die gymnasium, vir my is dit die een keer in die week wanneer ek wegglip kunsklas toe. Maak nie saak hoe jou pienk kassie lyk nie, die belangrikste is dat jy ‘n pienk kassie het. Jou pienk kassie mag dalk vir ander mense onbenullig lyk, ander mag dit dalk nie verstaan nie, maar ons almal het ‘n pienk kassie nodig om juis ander mense te kan verstaan, of dalk net met hulle te kan saamleef.


As jy nog nie moeite gedoen het om ‘n pienk kassie aan te skaf nie, maak werk daarvan. Jy is dit aan jouself en ander verskuldig.