The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Tuesday, June 3, 2008

Engele

Jy het gevra ek moet 'n stuk oor engele skryf. Vir lank het ek probeer dink: waar sal ek begin, watter eienskappe van 'n engel sal ek besing, watter persepsies rondom engele sal ek ondersteun? Daar is al soveel oor engele geskryf - is daar enigsens nog iets nuuts om te sê?

'n Engel word gedefinieer as 'n verhewe wese, wat as 'n boodskapper vir God optree. 'n Ander definisie weer beskryf 'n engel as 'n gids namens God.
In my geestesoog sien ek Gabriël met die verstommende boodskap aan Maria - sy sal die moeder van Jesus, die Verlosser word. 'n Engel bring altyd 'n boodskap wat omwentelinge, deurbrake, insigte bring. Nooit is dit 'n flou geykte boodskap wat almal noodwendig wil hoor nie.

'n Volgende engelbeeld spring in my gedagtes op. God het engele gestuur nadat Adam en Eva uit die tuin van Eden verban is om die tuin te bewaak, sodat niemand kon terugkeer nie. 'n Engel staan vir waarheid en geregtigheid, vasberade om die taak wat God vir hom opgelê het enduit te volvoer. 'n Engel beskerm dit wat vir God en Sy koninkryk kosbaar is met sy eie lewe.

Skielik besef ek: 'n engel is nie swak, met babavetjies om die wange en vlindervlerkies wat 'n mens se hart week maak nie. Engele hoort nie in skilderye, op kalenders en groetekaartjies nie.

'n Ware engel is elke dag op die oorlogsveld - besig om te veg, te stry, te bid, te salf aan dit waarvoor God hom/haar op aarde geplaas het. Ongeag die gevolge, ongeag die teenstand.

Ons is nie volmaak nie, maar 'n anonieme persoon het gesê: Ons is almal engele met net een vlerk en ons ons kan vlieg wanneer ons mekaar omhels.
Al is ek swak, is ek sterk.

Vandag toe jy voor my kom sit, het ek geweet: nou kan ek oor engele skryf. Want in jou oë het ek 'n engel gesien. Jou woorde was 'n boodskap uit God se hand, jou geduldige oor het my van moedeloosheid bewaar. Jou lag 'n gids na inspirasie en kreatiwiteit.
Die lewe se stampe en stote het ook al aan jou vlerke kom knip, maar jy bly vlieg om waar jy kom elke dag engel te wees.