The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Tuesday, December 16, 2008

Nuwejaarsvoornemens

Elke jaar val mens in die slaggat. Ek wonder of ek dit al ooit reggekry het om een nuwejaarsvoorneme deel van my lewe te maak. Elke voorneme is tog maar eintlik 'n versugting, 'n refleksie van dit wat mens graag wil wees of voel jy nog nie bereik het nie.

Vanoggend in die gure Engelse weer was die herfsblare verys. Wat 'n verfrissende gesig. Ek wou die herinnering vasvang. Al wat ek by my het om foto's mee te neem is my selfoon, glo dit of nie. Ek moes terugloop, in die koue, na my kamer toe om die selfoon te gaan haal vir 'n foto. Ek het gewik en geweeg of ek dit nie eerder later moet doen nie.
'n Halfuur later toe ek daar verby loop was daar van die yskunswerk net 'n blarepappery oor. Die skoonheid van die ys, vasgevang in die oggendson was vlietend.

So is dit ook met ons nuwejaarsvoornemens. Op die eerste Januarie skitter hulle soos juwele, maar smelt weg tot 'n pappery van roetine en alledaagse bestaan. Daar moet tog 'n manier wees om 'n nuwejaarsvorneme in te messel tot 'n gewoonte en later 'n lewenswyse.

Meeste van ons voornemens wentel rondom fisiese verbetering. Ons wil maerder word, meer tyd hê vir ontspan, gesonder leef... Alles gesetel rondom verbetering van ons fisiese welstand.

Die mens is egter 'n drie-dimensionele wese. Liggaam, siel en gees.
Die liggaam sien ons, ons kan daaraan raak en juis daarom is dit maklik om meeste nuwejaarsvoornemens aan die liggaam toe te ken. Sommige voornemens dring deur tot op sielvlak. Ons siel huisves ons emosies en persoonlikheid. 'n Voorneme om geduldiger te wees, om eerlik en opreg te wees sou 'n voorneme van die siel verteenwoordig.

Maar die gees word meestal afgeskeep. Die gees omskryf ons gewete, intuïsie en gemeenskap met God. Uiteindelik beheer die gees die werking van die liggaam en siel.
Daarom glo ek dat die enigste manier om 'n voorneme te laat slaag is om dit in die hande van die kaptein van die skip te plaas. Die gees is die kaptein van jou skip. Elke verandering van rigting wat vanuit die gees spruit sal uiteindelik die bestemming van die liggaam en siel bepaal.

Die manier hoe ek die jaar my voornemens gaan benader is om elkeen in 'n kompartement te plaas. Skryf die voorneme neer. Vra jouself: Kom hierdie voorneme vanuit die liggaam, siel of gees? Sorg dan dat jy voornemens in elke kompartement het.

Begin jou fokus op die voornemens van die gees. Evalueer jouself na 'n paar maande. Jy sal verbaas wees om te sien dat baie van die voornemens in die liggaaam en sielkompartement outomaties vervul is. Indien nie, kan jy dan op hulle konsentreer.

Om enigeiets in die lewe te laat slaag moet jy jouself, jou voornemens, jou vermoëns en beperkinge ken.

Mag jy in 2009 jouself volkome leerken en deur selfkennis elke voorneme laat slaag.

Monday, December 8, 2008

Reuke

Die reuksintuig het sekerlik die vermoë om die helderste herinneringe voor 'n mens se geestesoog op te roep. Die reuk van gebakte brood, koljander en gemaalde koffie kan in 'n splitsekonde my soos 'n bokstert kleuter op my Oupa en Ouma se plaas laat voel.

Geure roep herinneringe van verlange op, laat mens tuis voel in die vreemde, kan 'n sekere tyd van die jaar inlyf. Hier oor Kersfees word die wêreld besaai met geure van kaneel en ander speserye. Ons skep atmosfeer in ons huise, of verdoesel onaangename reuke met kamersproei. 'n Vrou se parfuum (en ja, sommige mans s'n ook), vertel 'n storie van sy eie. Wie sy is, of dalk graag sal wil wees... Dit verklap iets omtrent haar selfvertroue en is iets, behalwe 'n eerste indruk wat vir 'n ruk nog agterbly nadat sy al weg is.

Toe ek hier in Londen aanland kon ek toe oë die stad aan sy geurafdruk herken. Daar was Starbucks-aromas gemeng met nat koue lug, badballe vanuit 'n stasiewinkeltjie, om maar net 'n paar te noem.

Vir my dra elke reuk 'n storie - elkeen het die vermoë om intense emosies te ontlok. Die wat dit besef kan dit beslis tot hulle voordeel gebruik. Om hierdie rede was 'n T-hemp van Mario, bespuit met sy gunsteling deodorant, een van die eerste items wat ek ingepak het om die verlange te probeer stuit. Hierin gaan ek slaap, en so probeer om my brein te kortsluit van verlange. Dit werk, tot op 'n punt...

In Korintiërs beskryf Paulus elke Christen as wierook wat vir God gebrand word. Dit is ongelooflik wanneer mens besef dat ons 'n geur versprei - ons lewe, dade, woorde versprei onder ongelowiges en dieselfde geur lok verskillende reaksies uit. Die reaksie wat ons lewensgeur ontlok is buite ons beheer, maar ons het wel beheer oor die boodskap wat opgesluit lê in die geur wat ons versprei. Is dit 'n geur wat God laat glimlag, 'n geur waarmee Hy tevrede is?

Net wanneer ons in opregtheid, toelaat dat die Heilige Gees elke dag die vlam van liefde in ons aansteek sal ons deur Jesus 'n geur van hoop in hierdie wêreld wees