The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Monday, December 8, 2008

Reuke

Die reuksintuig het sekerlik die vermoë om die helderste herinneringe voor 'n mens se geestesoog op te roep. Die reuk van gebakte brood, koljander en gemaalde koffie kan in 'n splitsekonde my soos 'n bokstert kleuter op my Oupa en Ouma se plaas laat voel.

Geure roep herinneringe van verlange op, laat mens tuis voel in die vreemde, kan 'n sekere tyd van die jaar inlyf. Hier oor Kersfees word die wêreld besaai met geure van kaneel en ander speserye. Ons skep atmosfeer in ons huise, of verdoesel onaangename reuke met kamersproei. 'n Vrou se parfuum (en ja, sommige mans s'n ook), vertel 'n storie van sy eie. Wie sy is, of dalk graag sal wil wees... Dit verklap iets omtrent haar selfvertroue en is iets, behalwe 'n eerste indruk wat vir 'n ruk nog agterbly nadat sy al weg is.

Toe ek hier in Londen aanland kon ek toe oë die stad aan sy geurafdruk herken. Daar was Starbucks-aromas gemeng met nat koue lug, badballe vanuit 'n stasiewinkeltjie, om maar net 'n paar te noem.

Vir my dra elke reuk 'n storie - elkeen het die vermoë om intense emosies te ontlok. Die wat dit besef kan dit beslis tot hulle voordeel gebruik. Om hierdie rede was 'n T-hemp van Mario, bespuit met sy gunsteling deodorant, een van die eerste items wat ek ingepak het om die verlange te probeer stuit. Hierin gaan ek slaap, en so probeer om my brein te kortsluit van verlange. Dit werk, tot op 'n punt...

In Korintiërs beskryf Paulus elke Christen as wierook wat vir God gebrand word. Dit is ongelooflik wanneer mens besef dat ons 'n geur versprei - ons lewe, dade, woorde versprei onder ongelowiges en dieselfde geur lok verskillende reaksies uit. Die reaksie wat ons lewensgeur ontlok is buite ons beheer, maar ons het wel beheer oor die boodskap wat opgesluit lê in die geur wat ons versprei. Is dit 'n geur wat God laat glimlag, 'n geur waarmee Hy tevrede is?

Net wanneer ons in opregtheid, toelaat dat die Heilige Gees elke dag die vlam van liefde in ons aansteek sal ons deur Jesus 'n geur van hoop in hierdie wêreld wees

No comments: