The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Sunday, February 27, 2011

Bloed aan die kosyne

"As die Here verbykom om die Egiptenaars te tref, sal Hy die bloed aan die bokant en die sykante van die deurkosyn sien en die deur oorslaan. Hy sal nie die dood in julle huise laat kom om julle te tref nie."
Eksodus 12:23

Ons almal beleef moeilike tye. Tye waar jy voor uitdagings staan wat eenvoudig die vertroue wat jy in jou eie kragte het, in twyfel trek. Dit kan 'n uitdaging wees, 'n beproewing, 'n toets van jou integriteit. Maak nie saak wat nie, tye kom waarin jy skaakmat voel - daar is nie meer beweegruimte nie.
Soos 'n bees in 'n drukgang weet jy, hier moet jy deur, sonder omdraaikans moet jy voortbeur om weer anderkant uit te kom.

Dit was voor een van sulke uitdagings wat ek nou die dag  te staan gekom het. Ek was in afwagting - die volgende op 'n lysie om te hoor of 'n projek waaraan ek al baie lank gewerk het, uiteindelik goedgekeur gaan word. Ek het geweet, sou dit hierdie keer weer afgekeur word, sal ek diep moet delf om hiermee te kan aangaan.

Dit was asof my gedagtes by moed verloor se vlakte wou-wou draai. Wat doen mens dan? Instinktief het ek my oë na bo gedraai - die Woord sê  nie verniet hef jou oë op na die berge nie, so sal ons vra: waar kom ons hulp vandaan?
Tot my verwondering staar ek myself vas in bloedrooigeverfde waterpype wat al teen die plafon afloop. Ongelooflik! In my gees kom die Here in daardie oomblik met die beeld van die Israeliete wat wag om bevry te word uit Egipte.
Die bloed aan die kosyne van hulle huise was al wat hulle kon red van die verdoemenis wat die doodsengel sou bring.

Terwyl ek daar sit en wag op my uitdaging het ek besef: die bloed van Jesus is altyd bo-oor my deurkosyn gesmeer, elke oomblik van die dag. Dit is daar met elke asemteug wat ek neem. En die wonder daarvan is, dit is genoeg. Want daardeur het ek lewe, ware lewe en wanneer ek voor enige uitdaging staan wat groter as ek is, is daar niks anders wat ware bevryding sal bring as juis daardie bloed nie.

1 comment:

Anonymous said...

Liewe Riana, thanks for sharing ... Dit is so n voorreg om daardie bewustheid te he want dan het mens alles wat langtermyn saakmaak. Please keep posting... Dis precious! Xx