The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Wednesday, March 21, 2012

Dorings


Die gebeure in hierdie wêreld is nie altyd maklik om te verstaan nie. Daar is soveel sleg en hartseer wat om ons is en so dikwels word daardie seer en hartseer ook deel van ons as Christene se lewens.


Soms sluk ‘n mens maar moeilik hieraan. ‘n Mens bid vir God se bewaring, maar hoekom laat hy dan toe dat sy kinders seerkry, hetsy fisies of emosioneel?


Boonop hoor mens so dikwels dat mense sê van ‘n situasie waar hulle byvoorbeeld die dood vrygespring het, dat God hulle vandag bewaar het, tog is ‘n ander gelowige dalk nie so ‘gelukkig’nie.


Hoe werk dit dat God in dieselfde tipe situasie soos byvoorbeeld verkragting dit van een slagoffer weerhou, maar toelaat dat dit met ‘n ander gebeur – altwee diep gelowige mense wat op God se bewaring staatmaak?


Daar is definitief vele gebeure en dinge wat ons nie in hierdie lewe sal verstaan nie – soos Totius geskryf het: ‘n mens loop jouself in ‘n doringbos vas. Sommige van hierdie gedagtes steek soos pendorings deur ons harte van onskuld en laat ons gevoelloos en bitter agter. Ander gedagtes weer, is soos ‘n haak-en-steek bos. Hoe meer ons onsself probeer bevry uit die kloue van vorige gebeure hoe meer bly die gedagtes binne ons maal. Uiteindelik is ons oorgelwer aan seer en vrees vir die toekoms.


God het nooit belowe dat ons doringboservarings sal vryspring nie. Jesus het self aan die kruis gehang, die dood betree. Hy was mens. Hoe kan ons dan vir ‘n lewe van maanskyn en rose vra? En buitendien selfs die mooiste rose het hulle dorings.


Na vele worsteling met hierdie gedagte het ek besef: ja, ons kan swaarkry op ons pad verwag. God bewaar sommige van sekere hartseer gevolge, terwyl hy dit toelaat in die lewens van ander vir die eenvoudige rede dat Hy belowe het day Hy nooit enige iemand bo hulle kragte sal beproef nie.

God weet watter dorings jy sal kan hanteer. Hy het self die doringkroon van ons sonde aan die kruis gedra. Hy sal sorg dat jy dit wat weens hierdie sondige lewe op jou pad kan hanteer, want Hy is saam met jou midde elke krisis. Hy sal die dorings self uittrek, Hy sal jou wonde versorg, sodat elke wond genees en elke litteken uiteindelik ‘n getuienis van Sy genade in jou lewe sal wees.

No comments: