The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Thursday, May 17, 2012

My Eerste Moedersdag

Hierdie jaar is beslis ‘n jaar van eerstes – eerste keer mamma geword, eerste doek geruil, eerste keer vir maande laas deurgeslaap. Saam met die eerste moederskapservaring kom ook natuurlik ‘n mamma se eerste Moedersdag.
Tien uit tien vir my liewe man – hy het vroegoggend al in die kombuis begin werskaf om ‘n ontbyt (namens Andreas) voor te berei en het selfs ‘n presentjie van Andreas af vir my reggehad.


Meeste dae voel ek nog nie altyd soos ‘n mamma nie (miskien meer soos ‘n handearbeider, want glo my babaversorging is harde fisiese werk), maar hierdie Moedersdag het ek werklik soos ‘n mamma begin voel.


Die res van die dag het ek die voorreg gehad om saam met my eie mamma en ouma te spandeer. My ouma, wat die dag na Moedersdag ‘n volle 89 jaar oud geword het, was natuurlik in die wolke om die mannetjie, wat vir haar nuwe status as oumagrootjie verantwoordelik is, te kon sien. Dit is ‘n gevoel waaraan mens nogal gou begin gewoond raak, dat almal eerste na Andreas se welstand verneem, en meestal van jou eie welstand vergeet.


My ouma het met trots vertel hoe sy nog na haarself kan omsien. Sy trek self aan, stort self. Net daar het ek besef: maak nie saak hoe oud jy is nie – ‘n baba, ‘n oumagrootjie of ‘n nuutgevonde mamma, ‘n mens moet altyd trots bly op wie jy is. Geen mens, maak nie saak hoe oud of jonk, mag ooit van sy waardigheid ontneem word nie. Die bron van ons trots wissel wel met tyd saam. Vir my as moeder is hierdie nuwe bondeltjie lewe my grootste bron van trots, vir my ouma is dit haar onafhanklikheid.


Net so universeel soos moedersdag, so is elke persoon se behoefte aan eiewaarde en waardigheid. Net soos ek van nou af vir altyd ‘n mamma sal bly en oral met my liefste baba spog, glo ek dat liewe Andreas vir altyd vir sy mamma ‘n bron van trots sal wees.

No comments: