The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Sunday, August 12, 2012

Moederskap

‘n Terugblik op die afgelope 6 maande

Na my vorige skrywe met dieselfde tema, voel dit asof daar reeds baie water in die see geloop het en tog is dit maar net 6 maande. Ses maande is egter Andreas se volle leeftyd. ‘n Leeftyd waarin hy van van toe-oog bondelbaba tot ‘n nuuskierige rakkertjie gevorder het.

Die aanvanklike bomskok van nuutgevonde moederskap het plek gemaak vir ‘n rustiger wete: vir die res van my lewe sal ek ‘n mamma bly.

Nog nooit het ek so baie omtrent myself geleer soos die afgelope 6 maande nie. Jy vind uit hoe jy in ekstreme omstandighede reageer – vroegoggend (want die mannetjie is teen 5am uitgeslaap), in die middel van die nag, dwarsdeur die dag. Jy ontdek dat jy reserwes het waarvan jy maar in jou studentejare, die paar aande voor ‘n eksamen, net gedroom het.

Elke oomblik van die dag herleef ek my kinderjare. Al die liedjies en stories wat ek by my ma en ouma geleer het kom nou heel handig te pas en wonder bo wonder onthou ek nog al die kinderrympies en liedjies se woorde. Dit is nogal nostalgies om weer liedjies soos die padda wou gaan opsit, Wouter Kabouter and Oom Jan sny koring uit volle bors te kan sing.

As mamma het ek die voorreg om die lewe van voor af te herontdek: deur die oë van ‘n baba. Vir Andreas is alles nuut en opwindend. Hy meet nie waarde aan geld of status nie. Hy ken nie die woord pretensie nie. Die lewe is eenvoudig daar om aan te gryp. Elke dag is ‘n reis. Solank hy net ‘n ding by sy mond kan uitkry het hy die eindpunt van sy ontdekkingsreis bereik.

Daar is niks soos ‘n baba om jou nederig te hou nie. Maak nie saak hoe hard jy probeer met waslap, borslap, spoeglap of kombuislap nie, spoeg, melk en baie ander minder aangename afskeidings word deel van jou lewe. Jou doelwit is nie meer om modieus en gegrimeer die huis te verlaat nie, nee wat om net skoon anderkant uit te kom is al klaar ‘n prestasie…

Na 6 maande skrik jy nie meer vir die huil van ‘n baba nie. ‘n Mens kom gou agter, dat hierdie klein wesentjies uiteindelik baie tawwer is as wat mens ooit kon dink – hulle moet uiteindelik hulle ouers se handelinge oorleef. Jy ken ook nou al jou baba. Ek sal nie sover gaan om te sê dat ek aan my kind se toon van huil kan aflei wat hy nodig het nie, maar ek kan darem deur middel van vinnige eliminasie by die mees waarskynlike rede uitkom.

Wanneer ek so terugkyk oor die paar maande kan ek nie anders nie as om net in dankbaarheid my hande na bo te strek nie. Dankie Here, dat ek die voorreg kan hê om iemand se mamma te wees. Dit is so groot verantwoordelikheid – meer as oorweldigend by tye, maar in geloof weet ek dat die Hemelse Vader wat hierdie wesentjie aan ons toevertrou het, ook vir ons die wysheid en insig sal gee om Andreas tot Sy eer groot te maak.


Ek sal nooit vir Andreas kan besit nie – hy sal altyd God se eiendom bly. Alhoewel ons vandag al die besluite rondom sy bestaan vir hom maak, gaan hy uiteindelik eendag self sy eie besluite moet neem.

Ten spyte van dit als weet ek: Andreas het my hart in sy besit geneem en die besluit om ‘n ouer te word was die geweldigste, maar beste besluit ooit!

1 comment:

Anonymous said...

Ja , mooi gesê, om 'n moeder te wees is baie besonder.

net weer 'n vraag, wanneer skryf jy bietjie oor hoe Andreas jou en Mario se verhouding beinvloed het. ek hou julle vyn dop,veral hoe die dynamics is die stricker famielie julle as ouers gaan raak ....

ek persoonlik dink daar le 'n paar tawwe keuses vir julle voor,maar ek glo ook jullle sal die regte keuses KAN maak

liefde

weer ek