The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Tuesday, March 18, 2008

Kruise


Vanaf ons vorige huis se stoep kyk mens uit oor Nelspruit. In die dag is dit die berge, die bos en huise wat soos muntstukkies in 'n doekpoeding versteek lê tussen al die bome. Maar in die nag verdwyn als om plek te maak vir 'n enkele verligte kruis wat op 'n berg teen die horison verskyn In die dag sou mens nie eers kon raai dat daar 'n kruis op die berg geplant is nie.


In die kar, tussen êrens en nêrens ry ons verby 'n kruis wat in wit klip teen 'n randjie uitgepak is om elke uitgeputte reisiger aan die dinge met ewigheidswaarde te herinner. Later die aand toe ons weer die pad in die donker aandurf sou niemand kon raai dat daar 'n kruis teen die berg uitgepak is nie.

Nou in hierdie week in aanloop tot Paasfees, kan ek nie anders as om al die kruisstasies op my lewenspad in oënskou te neem nie.


Kruise is bakens, rigtingwysers om ons voortdurend attent te maak op die werklke rede vir ons bestaan op aarde. In stilte dra hierdie simbool sy boodskap uit. Die punt waar twee rigtings horisontaal en vertikaal bymekaarkom is die hart se swaartepunt. Die kontrapunt van ons keuses. Ons het kruise nodig. Kruise wat bedags, wanneer alles duidelik voor ons lê dien as stille versekering dat ons pad beveilig word, dat ons kruistog nie om eie gewin is nie maar volgens God se beplanning vir ons lewe.


Maar ons het ook kruise nodig want net in die nag sigbaar is. Bedags wanneeer alles voor die wind gaan is hulle onsigbaar, maar wanneer die skemer van onsekerheid en beproewing sy kombers oor ons visie en perspektief gooi is dit hierdie verligde bakens wat ons weer terug lei op die beproefde pad. Hierdie kruise is net sigbaar vir die oog van die wat hulle oë in geloof kan opslaan na die berge en in hoop en liefde vertrou op God se lig van bystand en leiding. 'n Stad op 'n berg kan nie weggesteek word nie. So word die kruise wat ons plant op die berge van ons onwrikbare oortuigings en morele waardes bakens wat sigbaar word in tye van nood.


Maak vir jou kruise bymekaar in tye van voorspoed. Oordink jou waardes, jou motiverings en plant hierdie oortuigings op plekke waar hulle sigbaar sal wees in die tye wanneer dit nie so goed gaan nie.


Ons moet kruise uitstal, uitdeel, plant en verlig sodat ander God in kruiservarings kan leerken.

2 comments:

Anonymous said...

My liewe nig!
Wat 'n voorreg was dit nie om sopas 'n halfuur lank net jou laaste klompie griffels rustig te kon sit en lees (AB slaap...)! Baie dankie vir al die lewenswaarhede wat jy op hierdie manier vir my weer in perspektief sit. En, dankie dat ek nou kan af-"log", gefokus en ingestel op die betekenis van ons saamwees die naweek: troue, ja, maar baie meer as dit...
Lief vir jou!
Sien julle oor 3 slapies!
Lize.

Leanie said...

Hi, baie dankie vir jou pragtige stuk oor kruise. Ek het dit so geniet dat ek dit voorgelees het vir almal by ons bidsessie. Jy moet dit tog sterk oorweeg om vir 'n tydskrif soos Finesse te skryf. Almal is mal oor jou skryfstyl. Groete en Liefde. Leanie