The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Monday, August 11, 2008

Uitklophou

"Progress has little to do with speed, but so much to do with direction." Unknown

Ons almal het min of meer 'n idee waar ons onsself oor 5 jaar van nou af graag wil bevind. Ons skets prentjies van 'n voorspoediger toekoms. Ons werk harder, in die geloof dat ons, met ekstra werk en deursettingsvermoë, 'n 5 jaar plan binne 1 jaar kan voltooi. Na vyf jaar is ons verbaas om te besef dat ons steeds nie ons doelwit bereik het nie. Veel eerder het die doelwit, gedryf deur ons onversadigde behoeftes, nou net nog hoër geskuif.

Ongelukkig bly tevredenheid mens ontwyk solank as wat mens die lewe as 'n renbaan sien. Die lewe is nie daar om voltooi te word nie, nie daar om oorwin te word nie. As jy so daarna kyk bly jy voel die lewe maak jou klaar, jy is uitoorlê...
Ek dink ons kyk so dikwels net verkeerd na die lewe, want uiteindelik bepaal jou lewensuitkyk jou benadering tot elke lewensdroom en -uitdaging.

Die lewe is hard, maar as jy dit weet is jy voorbereid op dit wat op jou wag. Jy kan die lewe nie 'n les leer nie en hy skuld jou niks. Hy praat net met diè wat tyd maak om te luister en heel dikwels verstaan mens nie altyd wat hy probeer sê nie.

Party dae boksgeveg die lewe jou. Een na die ander peper die houe op jou neer. Net wanneer jy jou ewewig herwin, reg om terug te veg verander jou opponent sy taktiek. Jy probeer harder slaan, agressief terugveg, maar dis hopeloos.
Ons almal het al so gevoel. Daar is so baie verskillende opponente wat houe in die lewe uitdeel - miskien is dit ander se opmerkings, dalk werksdruk, finansiële druk, drome wat nie kon realiseer nie. Maak nie saak hoe hard die hou is, of waar hy jou tref nie, elke hou maak seer.

Ons eerste reaksie wanneer die lewe ons rondstoot, is om harder te slaan. Slaan met meer fors en meer mening. Maar die uitklophou is nie die een wat die hardste geslaan word nie. 'n Uitklophou is daardie hou wat berekend toegedien is, op die regte plek en die regte tyd.

So raak rustig. Dink oor jou lewe, beplan jou toekoms. Gee alles vir God. Wag. Die Here sal jou wys hoe jy jou aanvalstegniek moet verander om uitdagings in oorwinnings te omskep. Spaar jou energie, partymaal hoef jy net jou aanvalshoek te verander.

No comments: