The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Tuesday, August 19, 2008

Piesangbrood

Party dae pak die gier mens mos beet om skeppend in en om die huis te raak. Jy gryp na die stofbedekte tuingereedskap en begin plantjies plant, verf die afgedopte mure, pak kaste reg of 'n mens begin bak...

Om een of ander onverklaarbare rede het die paar oorryp piesangs in die vrugtebak my tot 'n bakaksie geïnspireer. Ek het 'n ou beproefde reseppie gaan raadpleeg en aan die werk gespring. Stap-vir-stap het ek afgemeet, geklits, verpulp, gemeng, ingegooi...
Die oond was reg, die broodjie in.
Om seker te maak ek doen alles volgens die boek het ek selfs die oondklokkie gestel (iets wat ek al voorheen vergeet het).

Een van die vreugdes van bak is die afwagting wat die bakperiode vergesel - die reuke wat die huis vul laat jou mond sommer byvoorbaat al water. Jy gaan kort-kort loer om te sien hoe jou poging vorder. Ongelukkig is dit juis hierdie afwagting wat bitter gou in ontnugtering kan verander.

Die bakproses is die enigste doeel waaroor jy geen beheer het nie - maak nie saak hoe slaafs jy die resep nagevolg het, hoe akkuraat jy afgemeet het nie. Tot my diepe ontnugtering moes ek dit toe uitvind tydens 'n loersessie die oond in. Die een kant was besig om te verkool, terwyl die deeg aan die anderkant besig was om soos 'n fontein oor die rand van die pan te borrel.

So is die lewe ook maar. Ons pak ons drome en dagtake aan - lees die lewensreseppie, probeer ons bes om binne meetbare riglyne te bly.
Maar ten spyte van ons suiwerste bedoelings en beste pogings is daar steeds faktore waaroor ons geen beheer het nie.

Ons lewens beland in oonde waarvan die termostate onklaar geraak het. Ons verkool onder hoë rentekoerse, werksdruk, mislukte verhoudings, geweldsmisdaad, onvervulde verwagtinge.

Dit is so maklik om dan bitter te raak en met reg. Maar soms is dit juis daardie bros korsie om die piesangbrood wat hom 'n karaktervolle smakie gee.

En as die bakpoging heeltemal misluk het dan kan jy altyd weer begin. Met genade van Bo is daar altyd weer genoeg bestanddele vir nog 'n poging.
Onthou net om die oond eers te laat regmaak.

No comments: