The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Tuesday, January 18, 2011

Rooiwyn

"In wine there is wisdom,
In beer there is freedom,
In water there is bacteria."
Ben Franklin


Opgedra aan Karlien: My partner in crime...


Niemand word gebore met 'n liefde vir wyn nie. Die fermentasieproses maak die vreugdes van sy genietinge veel later eers aan die mensdom bekend. Soos 'n mens die lewe leerken, so leerken mens ook die wysheid wat wyn bring.
Ongelukkig is soveel van ons eerste bekendmakings met die voggies van die gode dikwels tydens onbesonne studente oomblikke, wanneer jy niks beter as Tassenberg of bokswyn kan bekostig nie. Met die gevolg, dat wyn se reputasie dikwels besoedel word deur die nadors wat 'n oormaat goedkoopwyn die volgende oggend vergesel. Die Afrikaanse musiekbedryf het ook nie veel gedoen om rooiwyn se beeld te versterk nie - ek he beslis geen behoefte om 'n harlekyn te wees of myself tot rooiwyn te wend in oomblikke van seer of traan of pyn nie.


So loop ons vir jare rond, ontneem van die diepere geheime wat rooiwyn inhou. Al wat jy oor jou tong laat is koeldrankwyn (party noem dit Late Harvest) en 'n slukkie nagmaalswyn (van wanneer af is Old Brown Sherry wyn?), want rooiwyn is sleg...


Jare later sou ek eers leer dat elke wyn sy eie storie het om te vertel. Die storie van sy herkoms, sy groei en ontwikkeling tot die karakter wat hy uiteindelik in jou glas openbaar. 'n Proses wat etlike jare kan neem om te voltooi. Elke slukkie wyn skryf sy outobiografie oor jou tong heen.




Elke wyn het inderdaad sy eie wysheid om te openbaar, maar jy leer ook soos die tyd aanstap dat goeie smaak nie oornag ontwikkel nie. Alles wat die moeite werd is neem tyd. En net soos wyn met tyd meer en meer van sy wysheid aan jou openbaar, so moet die mens ook oor jare heen fermenteer om uiteindelik as bron van wysheid in die glas van die lewe geskink te word.


Dit neem tyd om die taal van wyn te leer verstaan. Maar wanneer jou tong eers geleer het oom die klanke in elke wynnuanse in te neem, om elke wyn toe te laat om sy storie onvoorwaardelik te vertel, eers dan sal jy weet waar wyn sy wysheid gaan haal.


Prost - Klink 'n glasie op rooiwyn!

No comments: