The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Tuesday, March 22, 2011

Presente

Wanneer ek die word present hoor is daar onwillekeurig ‘n opgewondenheid wat in my opwel.


Presente bring saam met hulle teenwoordigheid opgewondenheid, die gedagte dat jy so groot deel van iemand se gedagtes was dat jy hulle jou met iets spesiaal wou verras.


Dit gaan nie noodwending oor wat jy kry nie, veel eerder wanneer (onverwags is soveel beter), hoe dit toegedraai is en dan natuurlik die gedagte dat jy nie weet wat in daardie pakkie toegesluit is nie.


Presente word gewoonlik uitgedeel tydens feesgeleenthede. Presente dra betekenis, dit is ‘n simbool van omgee, maar veel meer – elke present word ‘n boodskapper om die ongespreke woorde wat ons in ons harte dra uit te spreek.


Ek glo dat God ons ook elke dag met presente wil seën – dit is asof Hy ons wil omarm met ietsie spesiaal wat ons sal herinner aan Sy grootheid, maar juis ook die gedagte day Hy te midde van Sy almagtige teenwoordigheid steeds ons as die appel van sy oog beskou.


Gister het ons wakker geword met die geluid van kakelaars in ons ore.


’n Kakelaar is ’n mooi voël – dit is eintlik ligtelik gestel. Dit is ’n voël wat met ’n oranje, groen en pers veredos spog. Kombineer dit met sy lang geboë snawel en flambojante stert en hy maak om die minste te sê ’n imposante vertoning.


’n Kakelaar is nie ’n algemene gesig nie – hy is skaars. Hulle persoonlikhede is warm – hulle geniet mekaar se geselskap, en soos sy naam aandui kekkel hulle, jy hoor hulle myle vêr.


Terwyl ek en Mario die verkyker nader getrek het en hulle deur die tuin gevolg het van boom van boom het daar ’n dankbaarheid in my opgewel.


Hier is ons vanoggend saam, rustig by die huis en ons aanskou hierdie spesiale gesig. Dit was my present – ’n geskenkie uit God se hand.


Ek kon help om te dink aan hoeveel geskenke ek elke dag van God ontvang waaraan ek nie eers dink nie. My familie en vriende, gesonheid, om vars lug in te asem, in ‘n land te leef waar daar vrede is. Als wat ek maar as vanselfsprekend aanvaar kan in een oomblik van my weggeneem word.


Dit is net genade.


En dan die grootste geskenk wat ek ooit kon ontvang – om deur die bloed van Jesus vlekkeloos voor God te kan staan. Here, dankie – ek kry dit elke dag, nuut toegedraai in U genade, ek hoef dit nie te verdien nie, ek kan ook nie. U gee dit net, en ek sê nooit eers dankie nie.


U alleen weet hoeveel daardie present gekos het en dit vir my?


Help my vandag en elke dag van my lewe om so te leef om dat my lewe ’n dankgetuienis sal wees.

No comments: