The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Friday, April 15, 2011

Vergeet

Elke dag vergeet ‘n mens dinge. Die dinge wat mens vergeet wat dadelik ’n impak op jou lewe het weet mens dadelik van – ’n afspraak veral, maar dan is daar die kleiner goedjies wat soms ongesiens deurglip en die dag as jy weer daardie oorbelletjies soek besef jy – ai, hulle het inderdaad êrens vergete bly lê.

Daar is so baie potensiaal om dinge te vergeet. ‘n Mens vergeet verjaardae, aanwysings, om goed in te pak, saam te vat of weer terug te neem en ook, tot ’n mens verleentheid afsprake. Ek vergeet gereeld name, gesigte – loop gereeld met daardie gevoel in my binneste rond dat ek die persoon al iewers gesien het en dat hy my gaan herken, my op die naam noem en ek nie gaan weet van waar ek hom moet onthou nie.


En dan is daar ook nog die lastige klein goedjies wat mens so gereeld op plekke vergeet. Interessant dat dit gewoonlik dieselfde goed is. Ek het al menige stortsponsies aan die mensdom geskenk. Selfoonlaaiers vaar ook nie veel beter nie. Dit is tog so maklik om so ’n swart objek net in die muurprop vergete agter te laat.


Gereeld vergeet ek ook iets by die huis. Wanneer jy gereeld reis kom mens in ’n ritme – jy weet min of meer al toe oë wat om te pak en tog ten spyte daarvan is daar gereeld iets wat vergete bly. Ek moes al van onderklere to haarjel gaan soek op die mees ongeleë tye en obskure plekke, bloot omdat dit my heeltemal ontglip het met die keer se pak. Ek het al ’n ritueel – begin jou dag in jou kop, laat dit soos ’n rolprent in jou gedagtes afspeel. Evalueer met elke stap wat jy alles nodig het en pak daarvolgens. Dit help, maar niks is heeltemal onfeilbaar nie.


As ek nie lysies maak nie sal ek seker nog meer dinge vergeet en laat lê. So my lewe word genavigeer deur hordes lysies. Sonder my dagboek is ek so verlore soos ’n marsbewoner op aarde. Solank ek my dagboek met die lysies vir elke dag aan my sy het, leef ek in die illusie dat alles onder beheer is.


Onwillekeurig kon ek nie help om te dink dat ons so dikwels voel soos daardie stortsponsie wat in ’n hotelkamer of ’n gymstort agtergebly het nie. Baie maal, wanneer die lewe jou enige kant toe gooi, jou moeg maak voel mens asof God jou vergeet het. Jy voel asof jy net nie meer op sy lysie is nie.


Jy begin uitroep – Here het U my vergeet?


Ek kan nie help om te dink dat dit presies is wat Jesus uitgeroep het aan die kruis toe Hy meer as 2000 jaar terug daar gehang het vir my en jou nie:


“ My God, my God waarom het U my verlaat?”


Hy moes dit doen sodat ons nooit uit God se gedagtes sal wees nie.


Dit is waaroor Paasfees gaan. Jesus het gekom, gesterf en opgestaan vir ons sondes, sodat ek en jy kan leef en sodat ons kan weet:


Die God wat ons dien sal ons nooit vergeet nie.

No comments: