The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Sunday, May 29, 2011

Nuwejaarsvoornemens

Terwyl ek uitpak terug uit Londen uit, het ek afgekom op 'n notaboek met die volgende stukkie in. Ek het dit geskryf toe ek twee jaar gelede in Londen gewerk het. Nodeloos om te noem - ek het heeltemal van die stukkie vergeet. Dit was nogal spesiaal om na so 'n lang tyd, en sopas terug uit Londen weer daarop af te kom en dalk is die middel van die jaar juis die ideale tyd om 'n bietjie stil te staan by nuwejaarsvoornemens...

Elke jaar val mens in die slaggat. Ek wonder of ek dit al ooit reggekry het om een nuwejaarsvoorneme deel van my lewe te maak. Elke voorneme is tog maar eintlik 'n versugting, 'n refleksie van dit wat mens graag wil wees of voel jy nie bereik het nie.

Vanoggend in die gure Engelse weer was die herfsblare verys. Wat 'n verfrissende gesig. Ek wou die herinnering vasvang. Al wat ek by my gehad het om fotos mee te neem was my selfoon, glo dit of nie. Ek moet terugskap oor die ys, in die koue, na my kamer toe om die selfoon te gaan haal vir 'n foto. Ek het gewik en geweeg of ek dit nie eerder later moet doen nie.

'n Halfuur later toe ek weer daar verby loop was die ys gesmelt. Al wat oor was van die eens asemrowende gesig was 'n blare pappery. So is dit ook met Nuwejaarsvoornemens. Op die eerste Januarie skitter hulle soos yskristalle op die blare van ons nuwejaarsdrome, maar gou smelt alles weg tot a pap spul onder die roetine van 'n alledaagse bestaan.

Daar moet tog 'n manier wees om 'n nuwejaarsvoorneme in te messel tot 'n gewoonte en later 'n lewenswyse? Ek glo die sleutel is in hoe ons, ons Nuwejaarsvoorneme formuleer en uiteindelik dit waarop ons konsentreer.

Meeste van ons voornemens wentel rondom fisiese verbetering. Ons wil maerder word, meer tyd opsy sit vir ontspanning, gesonder  leef, meer tyd saam met familie spandeer...

Die mens is egter multi-dimensioneel. Liggaam, siel en gees. Die liggaam kan ons sien, ons kan daaraan raak en juis daarom is dit maklik om meeste nuwejaarsvoornemens aan  die liggaam toe te ken. Sommige voornemens dring deur tot op sielsvlak. Ons siel huisves ons emosies en persoonlikheid. 'n Voorneme om geduldiger te wees, sal 'n sielsvoorneme verteenwoordig.

Maar die gees word meestal afgeskeep. Die gees omskryf ons gewete en gemeenskap met God. Uiteindelik beheer die gees die werking van die liggaam en siel. Daarom is die enigste manier om 'n voorneme te laat slaag om dit in die hande van die kaptein van die skip te plaas. Die gees is uiteindelik die kaptein van jou skip. Elke verandering van rigting wat vanuit die gees spruit sal uiteindelik die bestemming van die liggaam en gees bepaal.

Die manier hoe ek elke dag my voornemens gaan benader is om elkeen in 'n kompartement te plaas. Skryf die voorneme neer. Vra jouself af, kom hierdie voorneme vanuit die liggaam, siel of gees? Sorg uiteindelik dat jy voornemens het wat elke kompartement raak. Begin jou fokus op die voornemens van die gees. Evalueer na 'n paar maande - jy sal verbaas wees om te sien dat baie van die voornemens in die liggaam en sielkompartement outomaties vervul word wanneer die fokus op 'n geestelike voorneme geplaas word.

Om enigeiets in die lewe te laat slaag moet jy jouself, jou sterk punte en jou beperkinge ken.
Hou aan om jouself elke dag stukkie-vir-stukkie te ontdek.

No comments: