The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Monday, December 19, 2011

Verwerping

Op ‘n wegbreek naby Hoedspruit het ons die Moholoholo diererehabilitasie-sentrum besoek. Daar is een spesifieke “dieregeval”wat my altyd sal bybly. ‘n Arend wat gesond in sy hok gesit het. Die wildbewaarder het sy tragiese verhaal vir ons vertel. Hy is as kuiken deur ‘ n boer uit die nes geneem en met die hand grootgemaak. Die boer het goed bedoel, want slegs een van die twee kuikens sal oorleef. Die sterkste kuiken skop altyd die swakker een uit die nes. Die uiteinde van hierdie grootmaakproses, was egter dat die arend ‘n menslike bloudruk ontvang het. Die eerste lewende wese wat hy kan onthou is ‘n mens, en daarom glo hy day hy ‘n mens is. Ongelukkig het dit tragiese gevolge. Hy val mense aan, om sy gebied te beskerm, maar bied geen weerstand teen ander arende, wat in die natuur sy eintlik bedreiging is nie.


Uiteindelik moes die arend maar die res van sy lewe in ‘n hok deurbring.


Ek het al dikwels gewonder: wat maak of breek iemand. Hoekom het party mense die vermoë om ten spyte van moeilike omstandighede nogsteeds positief te bly? ‘n Mens kan vele argumente hier rondom aanvoer. Persoonlike keuse, jou geloof en waardestelsel speel natuurlik alles ‘n rol.


Tog het ek gesien dat daar een faktor is wat mense te midde van omstandighede wat buite hulle beheer is kan staande hou en dit is die liefde, ondersteuning en aanvaarding van jou ouers .


‘n Kind wat van kleins af weet en ervaar dat hy die grootste skat in sy ouers se lewe is, wat ten spyte van sy tekortkome nogsteeds ‘n bron van trots en vreugde vir sy ouers is het soveel meer kans om iets in die lewe te bereik.


Niks in hierdie lewe is gewaarborg nie. Dus, kan ‘n mens alles doen: jou kind lief hê, aanvaar en nogsteeds mag hulle eie keuses hulle dalk lei op paaie wat ‘n mens as ouer hulle nie toewens nie, maar met liefde en aanvaarding is hulle kanse net soveel beter.


Die teendeel is ongelukkig ook waar. ‘n Kind wat van kleins af ervaar het dat hy nie goed genoeg is vir sy ouers nie, of altyd met ander broers of susters vir aandag moet kompeteer, se kanse om selfaanvaarding en sukses te bereik is net soveel kleiner. Dit is asof daardie kind permanent moet veg teen die prentjie wat sy ouers van himself in sy kop ingeprent het.


Net soos die arendkuiken sy identiteit ontvang van sy arendouers, met wie hy eerste in kontak was, so word ‘n kind se selfbeeld ook gevorm deur die kontak wat hy met sy ouers het.


‘n Ouer het ‘n reuse verantwoordelikheid – jy het die mag om jou kind te omskep in ‘n trotse arend, wat die vermoë het om die aanslae van hierdie wêreld die hoof te bied, of ‘n halwe mens wat vir die res an sy lewe toegesluit word agter die tralies van wanpersepsie en verwerping.


Dit is uiteindelik wat God gedoen het. Dit is die Kersboodskap. Hy het Jesus uit die hemelse nes geskop en Hom aarde toe gestuur.


Uiteindelik was die bittereste toets wat Jesus moes weerstaan die pyn van verwerping.


Aan die kruis het Hy voor sy dood die bitterste woorde getuiter:


“My God, my God waarom het U my verlaat?”


Dit alles sodat ek en jy elke dag van ons lewens na God ons Vader kan kyk en arendskinders kan word, wat hoër en hoer vlieg.

No comments: