The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Wednesday, February 22, 2012

Moederskap


“Om ‘n ouer te wees beteken dat jy die res van jou lewe met jou hart buite jou liggaam rondloop.”


Anoniem (vrye vertaling)


Wat het moederskap my sovêr geleer? Siende dat ek steeds die moeder van ‘n neonaat is (nog net vir 18 dae die titel agter my naam kan skrywe – alhoewel ek nie weet waar mens die titel van moeder aanlas nie), mag mens die skryf van so ‘n stukkie dalk as prematuur beskou. Die moeder van vele jare sal dalk lag en dink, ja sy het werklik nog baie om te leer. Ek stry nie, maar tog het ek besef dat ek in ‘n paar dae al soveel lesse geleer het dat dit maklik genoeg is om ‘n boek te skryf.


My lesse is ongelukkig nie so filosofies soos die vry aangehaalde aanhaling hierbo nie. As ek aan moederskap dink was dit altyd die eerste woorde wat in my kop opekom het, tot ek self ‘n ouer geword het. Glo my nou is daar ‘n paar ander gedagtes wat veg om ‘n eerste plek.


Hier is so paar van hulle. Elke dag kom daar meer en meer by, so hierdie lysie sal binne ‘n paar dae aansienlik langer wees.

 
Mens kan meeste dinge met een hand gedoen kry. Dit is beslis een ‘n moeder se oorlewingsvaardighede – as jy dit nie bemeester nie gaan jy swaar kry. Daar is heelwat tye wat geen baba gelukkig is op sy eie nie, hulle soek nou maar eenmaal jou liggaamshitte. Jy staan dan voor die keuse: jy kan hom forseer om huilend in sy eie bedjie te lê, of jy kan maar eenvoudig ingee hom in jou arms neem en oorskakel na die eenhand roetine. ‘n Mens kan eenvoudig net so lank alles volgens die boek doen (verwysend na die boeke wat voorstel dat jy hulle los om te skree, sodat ‘n mens hulle nou die bederf deur elke keer op te tel nie).


Alle gehuil sal uitendelik stop…. Glo my dit voel nie so, na jy hom vir bykans ‘n uur gesus het in die middel van die nag en hy nogsteeds onophoudelik huil nie. Die waarheid is – een of ander tyd sal hy ophou huil, maar daar is maniere en maniere om die proses te probeer versnel, party meer onortodoks as ander. Luister maar na al die raad, probeer alles maar onthou – party van die raad is nie so onskadelik soos dit mag voorkom nie.


Jy het soms net ‘n trippie kafee toe nodig om jou varkies op hok te hou (om brood en melk te gaan koop natuurlik). Ek het nooit gedink dat ‘n besoekie aan die winkel so opwindend kan wees nie. Maar as jy al vir twee dae “vasgevang “is met ‘n huilende baba in jou arms is enige wegkomkans uit die grense van die huis ‘n kaartjie na ‘n oomblik van vryheid. Glo my, dit is jou kans, moet dit nie laat verbygaan nie, selfs om brood te gaan koop kan in ‘n terapiesessie verander.


Slaap is inderdaad ‘n wondersoete ding! Daar is niks so pragtig (en vredevol) as ‘n slapende baba nie. Jy begeer dit, jy bid daarvoor beide vir jouself en jou baba. Jy leer vining om in enige posisie, enige tyd van die dag en met enige geraas in die agtergrond aan die slaap te raak, want wanneer die kans homself voordoen is die slaapbedelaar nie kieskeurig nie, want wie weet wat wag vannag op jou.


‘n Mens kan werklik hoofstukke oor stoelgang skryf… Hulle kan nie praat nie. Vir daardie rede is dit soms moeilik om hulle welstand in die eerste dae van lewe te meet. Behalwe vir huil en stil wees is daar min tekens waarmee die neonaat kan kommunikeer. Miskien is dit die rede waarom vele moeders stoelgang as ‘n baba se kommunikasiemiddel met die buitewêreld sien. Daar is inderdaard vele vorme, konsistensies, geure en kleure waarin stoelgang homself kan voordoen. Ek sal nie voorgee dat ek al die taal van stoelgang al bemeester het nie, maar vandat ek self ‘n moeder is het ek begrip vir die strewe om dit te verstaan. ‘n Mens moet maar na elke strooihalm, of is dit nou poefdoek gryp, in desperaatheid.


Beplanning en roetine – wat is dit? Een van die gunstelingvrae aan enige moeder is – het jy hom al in ‘n roetine? My antwoord is eenvoudig – wat bedoel jy met roetine? Bestaan daar iets soos roetine? Babas lees nie boeke nie. Maak nie saak hoe hard ons probeer nie, ‘n mens kan hulle nie in ‘n skedule inforseer nie. Een dag is jy seker hulle is besig om by jou raamwerk in te pas, net om jou die volgende dag weer te verras. Jy leer gou dat jy niks kan beplan nie, jy is oorgelaat aan baba-genade.


Ek kan nog bladsye vol skryf, maar uit vrees dat ek die leser sal begin verveel sluit ek helaas af met een laaste gedagte.


Niks wat ek al ooit in die lewe aangepak het was al ooit so moeilik nie, maar daar was ook nog nooit iets wat my soveel vreugde verskaf het al om ‘n mamma te word nie.


Niemand kan mens daarvoor voorberei nie, maar saam-saam sal julle wel bymekaar leer.

1 comment:

Anonymous said...

Nig, jy't sommer al baie mooi "leste" geleer soos Ouma sou se! Veral die waarde en taal van 'n boud-doek! (So lekker daaroor gelag!). Dit was 'n integrale deel van my en Stoffel se gesprekke in die eerste paad maande. "Hallo! Hoe was jou dag? Lekker gewerk? Hoe het AB se boud-doeke gelyk vandag?" :-)