The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Wednesday, October 31, 2012

Smokkelary

Daar is soveel dinge waarmee ‘n mens kan smokkel . Meestal lok die woord die beeld uit van ‘n geheimsinnige man, donker strate, ‘n fluweellappie, die inhoud daarvan net vir die oog van die voornemende koper bedoel.

Maak nie saak waarmee daar gesmokkel word nie, hetsy blink klippies, potente opkikkertjies of perlemoenskulpies, per definisie impliseer die woord geheimsinnigheid. Smokkelaars loop nie op straathoeke met advertensieborde om hulle nekke nie. Jy moet ‘n smokkelaar opsoek, die ware wat hy aan jou wil verkwansel kom altyd teen ‘n prys, en ‘n risiko…

‘n Afrikaanse gesegde wat nogal heelwat in my gedagtes was die laaste paar weke is juis rondom die idee van smokkelary. Iemand smokkel met jou gedagtes. Dit is asof ek dit juis die aftelope tyd beleef het.

Niemand is gevrywaar teen teenspoed of moeilike tye nie. Die vraag is nie of dit gaan gebeur nie, maar eerder wanneer. Die ideaal is om in moeilike tye jou kop op te lig, die silwer randjie om die donker wolke raak te sien en voort te beur. As dit maar so maklik was. Soms, net wanneer jy voel jy is weer op jou voete, dan kom die volgende uitklophou.

Die lewe bly nou maar tot oorlopens toe vol met uitdagings.

Maar ten spyte hiervan het elkeen van ons steeds keuses, hoe beperk ookal. Die sterkste wapen wat ons sekerlik het teen teëspoed is om positief te bly. Maak nie saak hoe donker die wolke saampak nie, daar sal altyd iets positiefs wees waarop ‘n mens kan fokus.

Dit is soos Barbara Johnson, sekerlik een van my gunsteling bly -positief- skrywers so mooi beskryf. Sy vertel van ‘n nota was ‘n hond beskryf wat weggeraak het. Jy sal hom herken aan die volgende: sy af-stert , hy loop mank, blind in een oog, brandsiek om maar net ‘n paar skete op te noem, maar die belangrikste is dat hy reageer op die naam Lucky.

Dit is die toppunt van positiewe denke.

As dit maar net so maklik was. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie. Ons veg daagliks teen die dinge wat ons nie kan sien nie. Die duiwel gebruik juis ons denke as toegangspunt om beheer oor ons lewens te kry. Hy weet dat vanuit die denke word ons lewensuitkyk, ons besluite en ons dade beheer.

Die duiwel is by uitstek ‘n beroepsmokkelaar. Hy spesialiseer daarin om elkeen van ons ‘n rat voor die oog te draai. Tydens elke moeilike tyd in ons lewens kom klop hy skelm aan die deur. Woordeloos bring hy sy fluweellappie na vore, tog te aanloklik. Jy neem dit, gee jouself oor aan die versoeking. Maar so dikwels besef ons te laat: dit wat ons geglo het ‘n diamant van verligting sou wees, is uiteindelik ‘n vloeksteen van verbittering en negatiwiteit.

Dit is wat kom van smokkelary.

Wat is dan die antwoord? Die eenvoud daarvan het my eintlik laat skaamkry. God kom nooi ons elke dag uit om ‘n lewensverandering te maak, eenvoudig deur ons denke te vernuwe. Dit kry ons reg sonder enige smokkelary. Vernuwing van denke kom deur eerlikheid, deur elke dag, elke gedagte, elke gebeurtenis wat ‘n invloed om my gedagtes kan hê voor God se voete neer te sit en dit onderdanig aan Hom te maak.

Dit is vreugde te midde van swaarkry.

No comments: