The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Sunday, January 20, 2013

Herdekoreer

Hier oor Desember pak die lus mens mos gewoonlik beet om huis skoon te maak en kaste reg te pak. Dit is asof ons amper so die oujaar wil afskud en daarmee ‘n nuwe blaadjie wil omblaai.

So was dit weer hierdie jaar, maar die enigste verskil – dié jaar het my regpaklus die vorm van herdekorering aangeneem. Nee, eintlik was ek ietwat geforseer om die dekorasie en ornamentplasing in ons huis in heroorweging te bring, want ewe skielik is daar ‘n paar handjies en ogies wat enige plan beraam om uit te kom by dit wat enigsens breekbaar lyk. Glo my, ‘n baba stel glad nie belang in enige duur speeding nie, neewat die huis is veel interessanter as enige geluidmakende, tekstuurbelaaide, veelkleurige speeding wat jou ‘n arm en ‘n been gekos het. Die enigste opvoedkundige waarde van meeste van hierdie, is die les wat jy leer - dit is glad nie so interessant is as di t wat jy in jou laaikaste wegbêre nie.

Met hierdie stukkie kennis in die agtergrond kan die leser dus verstaan dat ek genoodsaak was om die huis, wat sommige sal noem, baba-vriendelik te maak. Ek noem dit die pad na moedergerustheid, want glo my daar is nie rus of vrede in die gemoed van ‘n moeder wat heeltyd agter ‘n kleinding moet aanhardloop wat nog een van haar ornamente se duursaamheid beproef nie.

My herdekorasie proses het dus een doel voor oë gehad – om alles wat kosbaar en breekbaar is ‘n veilige lengte van die grond af te kry.

Dit het herbeplanning gekos. Behalwe vir ‘n paar strooikussings a’la Mr. Price het ek eenvoudig net dit wat ons reeds besit het geherrangskik.

Die eindresultaat was verbasend. Behalwe dat dit my verseker ‘n paar maande se gemoedsrus gaan verskaf, lyk alles weer van vooraf nuut. Die leermatjie wat ek jare gelede in die Drakensberge gekoop het smelt saam met ‘n pottery bakkie met ‘n paisley patron – een van die eerste aandenkings wat ek in Johannesburg gekoop het. Ek het dit saamgegroepeer met my Carol Boyes vrugtebak, ‘n spesiale geskenk van Mario een verjaardag. My ouma se silwer kersblakers het ek uit die kas opgediep, hulle lyk nogal ewe mooi saam met die Carol Boyes. O, ja en om alles af te rond, ‘n paar reisboeke en die uurglas uit Umhlanga. Dit is asof alles vir mekaar bedoel was, soos stukkies in ‘n legkaart pas alles in mekaar. Elkeen van hierdie ornamente het ek op spesiale plekke en oomblikke in my lewe of gekoop of present gekry. Dit vorm deel van my herinneringswêreld. Op die oomblik toe ek elkeen van hierdie elemente in besit geneem het, het ek nooit gedink dat alles so bymekaar sou kon pas nie.

So is dit met die lewe ook. Daar is so baie dinge wat elke dag met ons gebeur. Soveel herinneringe wat ons in besit neem. Sommige herinneringe word kosbaar, ons stal dit uit in die skatkamers van ons gedagtes, maar so dikwels voel dit of alles onsamehangend is. Ons het maar net ‘n dowwe beeld van wie ons werklik is en waarheen ons oppad is.

Soms moet ons herdekorreer. Ons moet weer gaan stilstaan by die skatte wat ons deur die jare bymekaar gemaak het. God het ‘n plan met ons lewens. Niks gebeur verniet nie. Wanneer ons, ons lewens in Sy hande plaas kan ons verseker weet: Hy sal alles uiteindelik bymekaar laat pas. Selfs al lyk dit waarmee jy nou besig is verniet, of sinneloos kan ons weet, solank as wat ons binne God se wil vir ons lewens leef sal hy uiteindelik al die stukkies bymekaar sit. Hy is elke dag besig om ons lewens te herdekoreer.

No comments: