The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Sunday, January 6, 2013

'n Nuwe Jaarstafel

Aan die begin van hierdie jaar het ek besluit om ‘n fees te hou. Soos dit enige fees betaam het ‘n mens ‘n lang tafel nodig, gedek met jou beste eetservies. Daar word vir weke aan ‘n behoorlike fees beplan. Die opstel van die gastelys, beplanning van die spyskaart, aankope, voorbereiding van die kos...

Gewoonlik word hierdie beplanning en moeite gereserveer vir baie spesiale geleenthede, soos Kersfees en verjaardae. Maar hierdie jaar het ek besluit dat die koms van 2013 beslis gevier moet word.

In plaas daarvan om ‘n die jaar met ‘n lys nuwejaarsvoornemens te peper het ek besluit om eerder die gaste aan my tafel so te kies dat hulle as inspirasie vir die jaar wat voorlê sal dien.

Die eerste gas op my lysie is Passie. Ek hoop dat sy met haar vurigheid en warm persoonlikheid die geselskap sal laat knetter.

Vrede verskyn volgende op my lys. Ek weet hy sal op sy stil, sterk manier ‘n gewigtige teenwoordigheid aan die tafel wees.

Humor is ‘n aangename gas. ‘n Besige man, maar ek hoop tog dat hy sy weg sal oop sien om deel van die fees te wees.

Ek vergeet so dikwels om Wysheid na feestelike geleenthede te nooi, maar van hierdie fees sal ek haar beslis deel maak. Sy gee ‘n nuwe dimensie aan geleenthede soos die.

Aan die hoof van my tafel sit ek Deursettingsvermoë se naamkaartjie. Daar is soveel tye wanneer ‘n mens iets groot aanpak en waar hy nie deel van die geselskap is nie, raak mens meestal oorweldig.

Ek wil geen moeite ontsien om hierdie fees onvergeetlik te maak nie. Net die beste bestanddele vir elke gereg sal goed genoeg wees. Ek wil so graag hierdie gaste van my tuis laat voel, deel van my huis. Mag hulle hierdie jaar vele male kom kuier. Elke gas aan my tafel sal sy stempel op my lewe afdruk. Uiteindelik wil ek hierdie jaar leer om elke dag feestelik te lewe. Om elke dag met passie aan te pak, om in wysheid en met deursettingsvermoë elke taak en uitdaging op my pad aan te pak en uiteindelik, ongeag van die uitkoms in God se vrede te leef.
En natuurlik is dit altyd goed om meer en meer dikwels vir jouself en die lewe te kan lag..

Mag 2013 ook vir jou ‘n fees wees.

No comments: