The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Monday, October 29, 2007

'n Goeie paar jeans

Vir elke mens is daar sekere kledingstukke wat 'n onmisbare deel van jou klerekas uitmaak. 'n Swart romp. 'n Wintersjas. Betroubare tekkies.
Almal het so 'n item, maar meeste van ons sal saamstem dat 'n goeie paar jeans 'n hele paar behoeftegaatjies toestop.

Jy kan hom opjazz met 'n deftige baadjie of serp, maar by die huis met pantoffels aan die voete is dit daardie einste broek waarin jy op jou gemaklikste is.
Hy kreukel nie en soos die tyd aanstap groei hy aan jou lyf, hy neem vorm om jou aan.

Denim is van die 18de eeu af reeds in gebruik. Dit was beslis nie aanvanklik deur die modebewustes gedra nie, veel eerder deur arbeiders. Die materiaal is juis gekies vir die maak van hulle klere omdat dit sterk is en nie gou verweer nie.

In die 19de eeu het hierdie neiging voortgegaan en het ook goudmyners dit begin dra. 'n Man met die naam van Leob Strauss het 'n markgaping raakgesien en die denimbroek gepatenteer. In 1953 begin hy 'n groothandelmaatskappy met die naam Leob wat later na Levi herdoop is.

Eers in 1950 het die denimbroek die aandag van tieners begin trek. Dit was 'n rebelse simbool en is selfs in skole in die VSA verban. James Dean het veral gehelp om aan die jean sy modestatus te besorg.

In die sestigs vat die hippies dit nog 'n stappie verder. Hulle begin verskeie kledingstukke maak uit denim en begin daarop borduur en verf.

In die tagtigs bereik die denim ontwerperstatus en tot vandag leef die denim in volle glorie voort.

Maar dit is beslis meer as net 'n stukkie materiaal met geskiedenis. As jy hom een keer in jou kas toegelaat het, kry jy hom nie daar uit nie. Kort voorlank skaf jy vir jou 'n denimbaadjie aan, 'n denimsak, 'n denimromp... 'n Defnitiewe verslawing.

So staan ek toe nou die dag na my eie denim en kyk. Hy dra so lekker, die kleur is hoeka al uitgewas, maar die broek ken my lyf, haal saam met my asem. Toe besef ek - so wil ek graag wees. 'n Denimvriend. Iemand wat my vriende verstaan, soos 'n denim om hulle vorm aanneem, hulle beskerm. Wat in dik en dun by hulle staan, 'n vriendskap aan hulle bied wat nie gou verweer nie. Al gaan die kleur en glorie tye verby nogsteeds in kwaliteittyd investeer. Iemand wat iets funksioneel beteken vir iemand, maar terselfdetyd, soos 'n geborduurde denim ook die mooi en interessante dinge in die lewe saam met iemand kan geniet. 'n Staatmaker.

Wees so iemand vir iemand anders.

No comments: