The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Monday, October 29, 2007

So wil ek wees...




"Lord please let me be the person my dog thinks I am"

(Teen Lize en Christo se yskasdeur)



Wanneer mens die lewe uit 'n penperspektief beskryf vir solank as jy onthou, is mens geneig om jou stories op veraf plekke te gaan soek.

Maar dit is juis die wesens naaste aan jou by wie jy die meeste kan leer.
Ek en Mario is bevoorreg om ons huis met twee snorkende, slobberende viervoetiges te deel:
Vubu (tweede van bo) en Phoebe (in haar jonger dae).


Dit is maklik om deur die lewe te gaan sonder troeteldiervriende - jy koop eenvoudig net nie een nie.
Dit is beslis baie minder moeite - jy hoef nie oppassers vir vakansies te soek of droloptelsessies te doen nie.

Finansieel is jy ook beter daaraan toe - werk bietjie uit hoeveel kos twee hondemagies in 'n maand verorber en een veeartsrekening is genoeg om jou te laat besef hoekom mens deesdae mediese fondse vir jou diere kry.

Maar die lewe sonder hondevriende is kaler as 'n skoongevrete hondebeen.
Want waar kry jy iemand wat enige tyd van die dag of nag sy stert van blydskap laat swaai as hy jou sien?

Waar bestaan daar nog iemand wat gereeld jou voete 'n skurwetongwas gee (al het jy nou net uit die bad geklim)?

Wie anders sal sonder wyfeling sy lewe vir jou opoffer as dit bedreig word?

En waar is daar nog iemand wat altyd na jou opkyk en soos 'n skaduwee agtervolg, net uit blote belangstelling?


Dit is inderdaad 'n voorreg om 'n honde-eienaar te wees. Hulle leer jou so baie van jouself.

Op geen beter manier gaan jy die eindeloosheid van jou geduld leerken as wanneer die gate in die beddings groter raak en die plante al minder nie.

Jy leer om vreugde te put uit 'n eenvoudige balgooi-en-gaanhaal aksie. En die frustrasie om later agter steekse Vubu aan te hardloop wanneer sy nie meer die bal wil los nie.

Jy leerken jou nederige sy wanneer jy daagliks die poopscoop nader trek.

Jou hart week sag as Phoebe se ogies toetrek van lekkerkry soos jy haar maag krap.

Jy leer gou, dat maak nie saak hoe kras die woorde wat jy uiter nie, die reaksie word bepaal deur die onderliggende stemtoon.

Op 'n dag, wanneer 'n hond vir Vubu in die straat aanval besef jy hoe klein jou hartjie geword het.
'n Mens is trots op hulle, word kwaad vir hulle, hulle laat jou lag en huil. Hulle grawe elke dag 'n dieper gat tot in die middelpunt van jou hart (in die proses bly al die voorafbeplante idees - soos dat honde se plek buite is, in die slag).
Daar was al vele tye wat die twee my moedeloos gehad het. Veral met hulle tuinkrappery. Phoebe het al by voorbaat kop onderstebo my in die middae kom groet, net vir ingeval sy iets verkeerd gedoen het.
Dit was later 'n bose kringloop waarin die twee al hoe skuldiger en ek al hoe kwaaier begin optree het.
Tot ek op 'n dag 'n artikel lees waarin 'n dieresielkundige skryf dat 'n hond se grootste begeerte is om die dinge te doen wat sy eienaar behaag.
Dit was asof daar vir my 'n lig aangeskakel is. Jou hond glo jy is perfek. Daarom wil hy so graag vir jou die perfekte vriend wees - hy wil jou waardig wees.
Hulle kan aanvoel wanneer jy hulle wantrou en dit laat hulle voel dat hulle jou nie waardig is nie.
Stadigaan het ons honde my geleer dat om respek te ontvang, moet ek dit eers aan hulle betoon. Jy kan nie verwag om in 'n vertrouensverhouding te wees as jy nie eers die ander party vertrou nie.
En ja, geduld kom nie sonder 'n paar tandeknerssessies nie.
Hulle het my as t ware geleer om die mens te wees wat hulle lankal reeds glo ek is.
Want dit is wat honde is: ware vriende. En ware vriende maak van jou 'n beter mens.















No comments: