The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Wednesday, December 12, 2007

Jou kersgeskenk

Die inwoners van Carltonville word stomgeslaan deur 'n wegholvragmotorongeluk wat 4 lewens eis. 'n Mens se instinktiewe reaksie is om verwyte na die ongedeerde vragmotorbestuurder te slinger. Maar nooit is daar enigsens negatief oor hom berig nie. Inteendeel, van Abel Boitsane, wat indirek vir die dood van vier mense verantwoordelik gehou kan word, word daar net met lof getuig.

Van die staanspoor af het sy werkgewer vertel hoe hy hulle beste bestuurder nog was. Elke week is sy vragmotor se binnekant met Mr. Min gepoets. Op die doodstoneel blyk dit dat sy remme onklaar geraak het. Vele ooggetuies het bevestig dat hy alle pogings aangewend het om die ongeluk te vermy. Sy noodligte was aan, hy het getoeter, met handtekens 'n boodskap probeer oordra... Later simpatiseer hy met die familie.

My premature wrewel het oombliklik in empatie verander. Want hierdie man het sy bes binne die bestaande omstandighede probeer, om 'n ongeluk te vermy.

Elke dag skilder jou dade, jou lewenshouding 'n prentjie vir almal met wie jy in aanraking kom. 'n Prentjie waaraan jy gemeet word. Waarvolgens jy daagliks, bewustelik of onbewustelik beoordeel word. Hierdie beeld wat jy van jouself aan ander voorhou is uiteindelik dit waarop mense sal terugval wanneer daar rekenskap oor jou gegee moet word.
Twee verskillende mense kan dieselfde daad pleeg, maar op morele vlak kan die een vrygespreek word en die ander nie. Hoekom?
Eenvoudig omdat jou verlede, saam met die hede aan jou toekoms bly skryf.
Dit wat jy in die verlede gedoen het, programmeer mense om deur die bril van veroordeling of vryspraak na jou te kyk.

So is ons mense maar - ons soek voortdurend, onbewustelik maatstawwe om almal rondom ons te kategoriseer.
Juis dit het Jesus kom doen - ons van aardse maatstawwe kom bevry. Met sy geboorte en sterwe het hy vir ons almal, ongeag van ons verlede dieselfde kans kom gee.

Ons almal bestuur elke dag die wegholvragmotor van sonde, ons maak dood - met ons woorde, ons gedagtes, ons dade..
Jesus kyk nie na ons verlede om 'n oordeel te vel nie. Dan was ons almal verdoem. Nee Hy kyk na ons deur sy bloed. Maak nie saak wie ek was nie, Hy sien wie ek kan wees deur die krag van Sy genade. Hy spreek my vry ongeag.

Dit is wat Kersfees beteken.

No comments: