The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Friday, December 7, 2007

Voetstappe


"U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad."

Psalm 119:105


'n Voetstap is soos 'n vingerafdruk - elke persoon s'n is uniek.

Dit vertel iets van die aankomeling se skoensmaak: 'n jongdame wat haarself op spykerhakkies balanseer of 'n laatnagwandelaar wat sloesh-sloesh gang af skuifel in sy pantoffels.


Dit vertel van gemoedstoestande - kort haastige stappies of 'n sleepvoetgemoed, 'n opgewonde getrippel of swaar tree vol selfversekerdheid.

Net deur na voetstappe te luister weet mens klaar meer van iemand as wat hy soms self aan jou sal wil erken. Dit is 'n onbewustelike kommunikasiemiddel, 'n manier om boodskappe oor te dra. Hoeveel van ons het nie al uit frustrasie voete gestamp daar waar woorde kortkom om jou gevoelens te beskryf nie.


Voetstappe vertel waarheen ons oppad is, maar ook waar ons vandaan kom. Party probeer hulle voetstappe wegsteek, miskien om iemand te verras, of om met iets ongesiens te kan wegkom. As jou voetstappe gehoor word waar hulle nie hoort nie, kan dit jou lelik in die pekel laat beland.


Soms word voetstappe vergesel van bykomstige klanke, 'n stootkarretjie se gekriek vertel van bykomende geselskap, 'n kruk se klak-klak verklap pyn en besering.


Daar is onverwagte voetstappe wat jou betrap, voetstappe van vreugde - soos die eerste treetjies van 'n kind, maar daar is ook die wat ons mis - voetstappe van geliefdes uit die verlede wat nooit weet gehoor sal word nie.


As ek so na my voete kyk: die eelte van lank staan om die groottone, my plat voetbrug - dinge waaraan ek niks kan vernader nie, dan besef ek: my voetstappe in die sand sal altyd dieselfde lyk. My voete gaan nooit smaller of langer word nie. Ek sal my skoene altyd op dieselfde manier bly afloop. So is ek nou maar eenmaal geneties geprogrammeer.


Maar my voetstappe val in 'n ander kategorie. Hoe ek hulle laat weerklink is 'n wilsbesluit.


  • Ek kan kies watter skoene ek wil dra: of ek gemaklik deur die lewe wil gaan, of met 'n paar trappers wat 'n paar nommers te klein is

  • Ek kan kies met watter gemoedstemming ek my voetstappe wil aantrek. Wil ek myself laat hoor wanneer ek 'n vertrek binnekom, of ongehoor uit 'n vertrek verdwyn.

  • Ek kan kies in watter rigting ek my voetstappe wil stuur en hoe lank ek daar wil bly.

Wat 'n voorreg, maar ook verantwoordelikheid. Begin sommer vroegtydig elke oggend, terwyl jy jou skoene aantrek, vir jou voete bid.


Mag ons besef hoe groot voorreg dit is om die voete van Jesus hier op aarde te wees. Mag hulle boodskappers van vreugde en vrede word. Dat ek daar waar ek my voetstappe laat hoor, die lig van God saam met my die donkerte indra.


No comments: