The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Monday, December 31, 2007

'n Nuwejaarswens

Vir my verjaarsdag het 'n vriendin my bederf met 'n plantjie. Nie sommer enige plantjie nie, maar wel 'n Venus Fly Trap. As sy maar geweet het dat selfs kaktusse onder my hande sneuwel sou sy dalk 'n ander geskenkie gekies het, maar nietemin ek was bereid om my bes te probeer om die gedoente aan die lewe te hou.

Ek het die petite plantjie so gekyk en maar my bedenkinge in bedwang probeer hou. Die donsveerblaartjies was skaars groot genoeg om 'n muggie te kon vang. Ek het die plant 'n week gegee.

Ewe bedees vra ek toe maar die tipiese vra wat 'n onkundige plantversorger sal vra. Hoeveel water het hy nodig, waar moet ek hom in die huis sit?
Nee, hy moet net voortdurend in gedistilleerde water (nogal) staan, in 'n plek met goeie ventilasie (wat dit nou ookal beteken).

Ek sit hom toe maar in 'n piering in die kombuis en gooi water daarin - hoop maar die ongedistilleerd maak nie so groot verskil nie.
Die eerste week het hy onveranderd daarna uitgesien, maar hier by die tweede week het die blaartjies een vir een begin hang.

Ek het nie daaraan getwyfel dat hy genoeg water kry nie, daarvoor het ek gesorg. So al waaraan ek kon dink om te verander was sy posisie.
Redelik skepties het ek toe die badkamer se vensterbank 'n kans gegee. Ek het die venster op 'n skrefie oopgelaat vir 'n ekstra luggie en hom dopgehou.

Dit was skaars 'n paar dae later of ek kon reeds die verskil agterkom.
Dit was asof hy 'n tweede asem gekry het. Nuwe blaartjies het uit die niet verskyn. En met sy lyfie wat op die maat van die oggendbriesie beweeg lyk hy skoon gelukkig.

Niks het verander nie, behalwe die ligging. So dikwels is ons vasgevang in frustrerende omstandighede. Verlep strompel ons deur elke dag. Ons probeer hard om beter te voel. 'n Nuwe dieet, meer oefening, spandeer meer geld op onsself en ons familie, maar als te vergeefs.

Stop. Kyk vir 'n rukkie na jou ligging. Soms is alles wat ons doen en probeer wees goed en reg. Maar dit is nie die probleem nie. Ons is dalk net nie reg geposisioneer nie.
Ons moet onsself in die regte plek en omstandighede bevind om tot ons maksimale potensiaal te groei. Soms moet mens wegstap, oor begin, jouself op 'n ander plek gaan wees. Net omdat dit jou groeimedium is.

Dit is my wens vir jou in 2008. Dat jy sal uitvind waar jou groeiparadys is en sonder om te twyfel daarheen sal skuif.

No comments: