The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Thursday, September 16, 2010

Koffie

Van geskiedenis op skool kan ek nie veel onthou nie, maar een beeld uit die Voortrekkerdae bly my by: die smouse wat oor velde heen moes trek om daaglikse gebruiksartikels na die verafliggende gebiede toe te vat. Hulle moes die wind en weer, gevaarlike omstandighede trotseer om trekkers eenvoudige artikels soos koffie en suiker te voorsien.
Ek sou dink dat hulle elke koppie koffie net soveel meer waardeer het.

In ons familie is nie net koffie-drink 'n tradisie nie, maar ook die voorbereiding daarvan. My ma het op 'n plaas grootgeword, waar my Ouma self haar koffiebone gebrand en gemaal het. Ou Johanna het vir ure met 'n houtlepel, so lank soos syself, die swart pot met koffiebone om en om geroer en miskoeke gestook tot die bone soos toffie aan mekaar begin koek het. Op die regte tyd sou my Ouma 'n "sampletjie" kom vat, dit maal en dan besluit of die bone nou al lank genoeg gebrand het.
Dit is my koffie-herinnering. Vanuit hierdie raamwerk meet ek my koffiebelewenisse.

Vir elkeen beteken koffie iets anders. Meeste van ons gebruik dit om wakker te word in die oggend, vir ander is dit die enigste poeding wat hulle nodig het na ete, dit is boeretroos, kuiermateriaal, hou studente laatnag wakker.
Vertrekke voel geselliger, deurdrenk met die reuk van koffie.

Vir sommige is dit 'n blote verslawing, ander is fynproewers (of eerder drinkers). Enige uitgeputte stapper of reisiger besef gou die waarde van die lafenissie. Elke stad maak ruimte vir koffiewinkels en of jy dit uit porselein of kartonkoppies drink, meeste van ons het dit broodnodig vir oorlewing in ons gejaagde lewe.

Ons almal kan dit bekostig of dit nou Frisco or Douw Egberts is, dit kom in alle vorms en geure. Bone, as jy die volle koffie-ervaring van maal to drink wil beleef tot kitskorrels vir die wat wil gryp en hardloop.

Vele gesondheidsberigte is al gewy aan die nadele van koffie vir die liggaam - hartkloppings, angs, osteoperose - alles is al aan koffie toegeskryf.
Verlig was ek toe ek nou die dag op die beriggie afkom wat beweer dat 2-3 koppies koffie 'n dag eintlik goed vir mens se gesondheid is. Dit verminder kolonkanker en selfs Parkinson's.
Sjoe, miskien rede om minder skuldig te voel.

Koffie is op een of ander manier deel van meeste van ons se lewens. Vir almal het dit 'n sekere plek en funksie en al skryf ons nooit opstelle van bewondering of klink glasies koffie op ons heil nie, wil ek tog 'n bekertjie op koffie klink.

'n Onfeilbare metgesel, 'n stil bron van vertroosting, 'n vriend op lang kuieraande, studiekameraad voor eksamens.
Wit of swart, soet of bitter, sterk of flou - op koffie!
Prost!

No comments: