The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Wednesday, June 20, 2012

Middagslapie

My ouma glo dat dit nie wys is om ‘n middagslapie te neem in enige maand waarin daar nie ‘n ‘r’voorkom nie. Met die gevolg dat ‘n mens, volgens my ouma, liefs wintermiddae op ‘n ander wyse behoort te verwyl.


Ek moet bysê dat my ouma lankal reeds daardie reël verbreek het, maar ek gun haar dit. Ek glo dat sy immers na 89 jaar hier op aarde gerus maar ‘n ogie in die middag kan knip.


Ek is nie ‘n gereelde middagslaper nie. Selfs na ‘n deurnagsessie se werk het ek dit soms moeilik gevind om helder oordag my aan die slaap oor te gee. Daar is sekere voorvereistes waaraan die omgewing eers moet voldoen alvorens ek my in droomland bevind. Dit moet onder andere donker in die vertrek wees en so stil as moontlik. Uit die aard van omstandighede is dit meestal nie moontlik om hierdie staat van ekwilibrium gedurende die dag te bereik nie, dus gebruik ek meestal die daglig vir ander, hopelik meer produktiewe aksies en gaan klim dan maar vroegaand in die bed.


Maar soos met meeste dinge het moederskap ook my slaapbehoeftes en –vereistes drasties kom verander. Die mens is tog maar ‘n snaakse wese, juis dit wat jy nie op daardie oomblik kan kry nie, sal dit wees waarna jy die meeste hunker. Voordat ek ‘n moeder geword het, het ek meer as genoeg geleentheid gehad om myself middae oor te gee aan ‘n middagslapie, maar nodeloos om te sê, het ek nooit. Ja, en noudat die geleentheid om ‘n uiltjie in die middag te knip, so skaars soos hoendertande geraak het, nou hunker ek daarna.


Sondagmiddag was hemels. My ma het aangebied om Andreas vir die middag te versorg, sodat ek en Mario ‘n bietjie kon gaan dut. Die moeder van ‘n baba sal baie onwys wees om so ‘n kans deur haar vingers te laat glip. Ek het myself nie tweekeer laat nooi nie.


Daar die uurtjie was soos hemel op aarde. Geen lig of geluid kon my uit die slaap uit hou nie. Tog wonderlik wat so ‘n bietjie slaap kan doen om liggaam en siel te verkwik!


My raad aan enige nuwe moeder is om nooit die kans om te slaap te laat verbyglip nie – jy weet nooit wat die nag op jou wag nie…


Dankie Ma, die grootste geskenke is soms juis die wat nie met geld gekoop kan word nie.

No comments: