The universe is made of stories, not of atoms.

The universe is made of stories, not atoms.
Muriel Ruckeyser

Thursday, June 14, 2012

Oorgawe

Ons leef so dikwels in hokkies. Daar is ‘n hokkie vir blydskap, ‘n hokkie vir hartseer, ‘n hokkie vir vriendskap, ‘n hokkie vir vyande… Binne elke hokkie sal jy ‘n handleiding vind, vol lysies moets en moenies aangaande jou optrede sodra jy jouself binne daardie hokkie bevind.
Elke hokkie het duidelike grense. Die grense word meestal bepaal deur die ‘hulles’van hierdie wêreld – “hulle sê ‘n mens moet so en so as jy dit of dat wil bereik..” Meeste van ons voel veilig binne ons hokkie. Dit is ‘n plek sonder enige nare verrassings. ‘n Plek waar jy nie sommer sal seerkry nie, solank as wat jy by die handleiding hou.

So leef ons voort – elke dag binne die hokkies van verwagte optrede. Daar was sekerlik ‘n tyd waarin ons almal net uitbunding wou wees – ons blydskap, hartseer vrylik wou laat vloei, soos ‘n rivier na die eerste somerreëns, maar miskien was dit daardie een skewe kyk van ‘n vreemdeling of snydende woord van ‘n familielid wat jou weer laat terugklim het in die hokkie van gemadigdheid.


En soos die jare aanstap begin ‘n mens uiteindelik vergeet dat daar ‘n tyd was wat jy sonder die beperkinge wat ander se verwagtings aan jou stel vrylik rond kon beweeg. Jou drome begin stadig maar seker plek maak vir die nare realiteit van die werklikheid. Jy vergeet dat daar ‘n tyd was wat passie in jou are gebruis het.


Ongelukkig gaan die lewe so gou verby. Ure vloei so vinnig in dae in, dae groei tot maande en word ryp sonder dat jy werklik besef dat jaarringe in sy stam gevorm het. Voor jy jou oë uitvee het al jou drome verdwyn, soos dooie hout uitgekap en in die vuur van spyt gegooi.


Uiteindelik wanneer alles stil geword het om my, het ek net my herinneringe. Oomblikke van vreugde en hartseer wat blitsekondig voor my geestesoog verbysnel. In my herinneringe is daar nie hokkies nie, net oomblikke, oomblikke waartydens ek met oorgawe geleef het. Die dae waarin ek myself in ‘n hokkie geplaas het om by die wêreld se verwagtinge te hou het nie my herinneringskatskis gehaal nie. Die oomblik was nie waardig genoeg om onthou te word nie.


Juis daarom wil ek so graag elke dag met oorgawe leef, want uiteindelik sal dit die oomblikke van oorgawe wees wat vir die res van my lewe by my bly, die oomblikke waarin ek bereid was om myself oop te maak, sodat die volheid van die ervaring deur my binneste kon vibreer.

No comments: